“Die tyd toe ons boerdery tevrede was om net een ratjie in die hele produksielyn te wees, is verby. ’n Mens moet probeer om so ’n groot deel as moontlik van die bemarkingsketting te betree en waarde toe te voeg tot elke aspek van jou boerdery – van die veld tot die vurk. Hier by Wintershoek probeer ons om al die blokkies op mekaar te pak sodat ons baie meer as net wild verkoop.”

Wiaan van der Linde glo ’n mens moet betrokke raak by die grootste deel van die produksieketting van die veld tot op die vurk.

Só gesels Wiaan van der Linde, ’n bekende wildboer tussen Kimberley en Hopetown en ondervoorsitter van Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA). Wanneer ’n mens na Wintershoek Boerdery kyk, besef jy Wiaan en sy vennoot, Hennie Gous, is nie bang vir uitdagings nie. Inteendeel, hoe groter die uitdaging, hoe aanlokliker lyk dit vir hulle.

Waar alles begin het

Wiaan vertel dat hy op ’n plaas tussen Senekal en Ficksburg in die Vrystaat grootgeword het en aan die Noordwes-universiteit gestudeer het. Hy het in 1997 na die Noord-Kaap gekom. Nadat hy vir ’n paar jaar sy skoonpa se beesboerdery bestuur het en daarna die bestuurder van Wintershoek Beleggings (nou Mokala Nasionale Park) was, het hy teen 2004/05 begin om met “geleende geld” sy eie potjie te krap. Dié potjie het gegroei tot een van die grootste wildbedrywe in die land.

Vir Wiaan is die wildbedryf met al sy fasette ’n passie. “My pa het vir ons ’n liefde vir die natuur en vir wild aangeleer. As kinders het ons meer uitgesien na die jagvakansies in die winter as die seevakansies in die somer,” vertel hy laggend.

Raak betrokke by die produksielyn

Omdat wildsvleis ’n goeie nismark vir die wildbedryf is, het Wiaan met Oryx Venison begin, waar hulle sowat een ton wildsvleis per dag verwerk, verpak en bemark.

Wintershoek Wild gaan oor baie meer as om goeie genetika te teel of om trofeejagters te ontvang. Wintershoek Safari’s ontvang nie net jaarliks jagters van meer as 14 lande nie, maar maak ook voorsiening vir die binnelandse trofee- en biltongjagters. Verder word lodges bedryf en die ekotoerisme-mark ook bedien.

Aangesien daar meer as een nismark is vir wild, het Wiaan met Oryx Venison begin, wat poog om gemiddeld een ton wildsvleis per dag te verwerk, verpak en bemark. Die boerdery spog ook met ’n enorme taksidermie-afdeling waar hulle trofeë van regoor Afrika en Europa ontvang, verwerk en versprei. Saam met die taksidermie het hulle hul eie leerlooiery.

African San Taxidermy is een van Wintershoek Wild se vertakkings. Op die foto is Fritz Viljoen, meestertaksidermis, en Karen Hoffman, kliëntediensbestuurder, wat sorg dat die trofeë versorg en oor die wêreld versprei word.

Vir Wiaan is dit belangrik dat goeie genetiese teelmateriaal in die land beskikbaar moet wees. Daarom het hulle ’n paar ekstensiewe teelprogramme waar hulle topgehalte wild teel wat op enige plek in Suider-Afrika sal aanpas. Om nog meer waarde toe te voeg tot die wildboerdery, het hy sy eie vervoeronderneming begin wat die lewende diere vervoer. ’n Permanente veearts help met die vang en vervoer van die diere.

Dit is beslis ’n mondvol, wat ’n mens laat besef hy voeg die daad by die woord as hy sê hy probeer om aan ’n groot deel van die mark te voorsien.

Terug na die basiese dinge

Wiaan glo ’n mens moet by die basiese dinge hou as jy volhoubaar wil boer. Die tema van hul jaarlikse wildveilings is ook “Terug na die basiese dinge”.

“Om uitspattig te raak met pryse, is allesbehalwe basies. Ek glo ’n mens moet kyk wat die gemiddelde boer kan bekostig en daarby hou, want dan weet jy jou kliënt gaan volgende jaar terugkom. Jy moet weet wat ’n skaapboer uit sy woltjek vir jou kan betaal vir ’n paar swartwitpense, om maar net een voorbeeld te noem. Dit help nie jou pryse is te hoog vir hom nie, want dan verlaag jy jou eie mark.”

Dieselfde geld vir die teelprogram. “My doelwit is om uitstaande genetika te voorsien en uitstaande jagdiere beskikbaar te tel. Om dit te doen, probeer ek voortdurend om die genetika in my kuddes te verbeter deur beter seleksies.”

Nismarkte van wild

Wiaan is baie opgewonde oor die feit dat al hoe meer veeboere die nismarkte van wild begin raaksien en die moeite doen om deel daarvan te word deur hul bestaande veevertakking uit te brei en sodoende te diversifiseer.

Hy glo die ekonomie is tans onder baie druk, maar dit is die ideale tyd vir veeboere om deel te word van die wildbedryf. “Pryse is tans baie billik teenoor ’n paar jaar gelede en ek verwag dat die bedryf in Suid-Afrika in die volgende vyf jaar baie meer gaan verander as wat dit die afgelope 20 jaar gevorder het. Suid-Afrika het wonderlike eienskappe wat die buiteland graag wil sien. Ons moet dit net bemark en seker maak Suid-Afrika bly ’n veilige en stabiele bestemming.”

Nuwe toetreders

Sy raad aan boere wat die mark wil betree, is om nie in die bedryf in te storm nie. “Daar is ’n mark en jy moet dit skep, maar dan moet jy moeite doen om jou produk reg te kry en dit te bemark. Infrastruktuur soos nuwe drade gaan baie duur wees, so dit is beter om nie met spesies te begin wat spring nie. Gebruik dus die maksimum kapitaal in die begin om genoeg diere te koop. Skakel in by bestaande besighede wat reeds werk. Maak seker jy het kopers vir die bokke waarmee jy wil boer.

“Kyk wat is die tekort in jou omgewing en besluit waar is jou mark. Sluit vennootskappe met ander telers. Praat met ouens in die bedryf – inligting is verniet, maar skoolgeld kan baie duur wees.”

Wiaan glo daar is baie moontlikhede, maar dit is goed om die kat versigtig uit die boom te kyk. Hy vertel dat hy uit ondervinding geleer het dat ’n mens by jou strategie moet hou. “Dit help nie jy begin met iets omdat iemand anders suksesvol is daarmee nie. Jy moet eerder probeer om die voorloper te wees en die mark te skep.”

Ondersteuning aan medeboere

Wiaan voel baie sterk oor die diens wat WRSA aan sy lede verskaf. Hy voel elke boer wat met wild boer, al is dit ook net ’n vertakking van sy boerdery, het ’n verantwoordelikheid om betrokke te raak by WRSA.

“Die wildbedryf is seker die mees gereguleerde besigheid in Suid-Afrika. As ons in besigheid wil bly, moet ons die regulasies en wette so kry dat ons kan vooruitgaan. Ontsettend baie tyd word daaraan bestee om verhoudings te bou en om op hoogte te bly van veranderinge. Ons besef nie altyd hoeveel teenstand daar teen die jagbedryf is nie. Daarom is dit nodig om hande te vat met mense wat hierdie paaie vir ons gelykmaak.” – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel Wiaan van der Linde by 082 454 5325.