Wagyu-toer – moet dit nie misloop nie!

845

Die huidige produksievlakke van Wagyu is nie genoeg om in die stygende verbruikersvraag aan dié, Suid-Afrika se snelgroeiendste, beesras te voldoen nie. Hierdie reuse-markgaping is een van die redes vir die landwye Wagyu-bekendstellingstoer, aangebied deur die Wagyu-beestelersgenootskap van Suid-Afrika in Junie vanjaar.

Read it in English.

Die genootskap se slagspreuk lui: “Wagyu gaan nie oor vleis nie, maar oor die eetervaring,” en dit lyk of die koperspubliek saamstem. “Daar is ’n ongekende vraag na Wagyu in Suid-Afrika, maar ons grootste uitdaging is ’n tekort aan voorsiening,” sê dr Michael Bradfield, die genootskap se uitvoerende hoof.

Die toer is daarop gemik om aan alle deelnemers aan die waardeketting inligting te verskaf oor Wagyu-beesvleis, spesifiek huidige sowel as voornemende telers. Die genootskap wil ’n platform skep vir alle aspekte van die waardeketting. Voornemende telers kan meer leer oor die ras en saam met huidige telers toegerus word met hulpbronne en ondersteuning om waardevolle bydraes tot die bedryf te lewer.

Op die toer sal die Gesertifiseerde Wagyu-beesvleisprogram, oftewel die Certified Wagyu Beef (CWB) program bekendgestel word. Dié program het ten doel om te verseker dat die integriteit van die Wagyu gehandhaaf word en terselfdertyd stel dit die genootskap in staat om genoeg data in te samel om die ras oor te skuif na die sogenaamde enkelstap genetiese evaluering (Single Step Genetic Evaluation). Laasgenoemde geskied in samewerking met die Australiese Wagyu-genootskap.

Sluit op die volgende datums by die toer aan:

18 Junie – Irene LNR (Pretoria).

20 Junie – Glen Landboukollege (Bloemfontein).

22 Junie – Nog nie bevestig (Stellenbosch).

26 Junie – Cedara LNR/NDA Landboukollege (Pietermaritzburg).

Mense wat die vergaderings bywoon, sal eerstehands inligting kry van ervare rolspelers soos Graham Truscott, voormalige uitvoerende hoof van Angus en Wagyu Australia, en Wagyu-konsultant in Suid-Afrika, dr Michael Bradfield, uitvoerende hoof van Wagyu Suid-Afrika, dr Fanie Steyn, voorsitter en Brian Angus, stigterslid.

Onderwerpe sluit in:

  • Die invoer van Wagyu na Suid-Afrika.
  • Transformasie van die Suid-Afrikaanse beesvleisbedryf na ’n hoëwaardeproduk.
  • Die verstaan van die waardeketting, van die produsent tot die restaurant.
  • Die Gesertifiseerde Wagyu-beesvleisprogram.
  • Die verkryging van integriteit, plaaslik sowel as internasionaal.

Na afloop van die program volg ’n heerlike Wagyu-middagete en ’n groot uitstalling waar afgevaardigdes die geleentheid sal kry om met borge en bedryfsrolspelers te gesels. Verskeie voerkrale en kleinhandelaars het reeds aangedui dat hulle teenwoordig sal wees.

Wagyu kan potensieel ’n omwenteling in die Suid-Afrikaanse beesvleisbedryf bring, soos in ander lande, om dit hoogs winsgewend te maak en ’n produk te verskaf vir verbruikers wat ’n luukse eetervaring wil hê.

Kaartjies kan aanlyn by Quicket bespreek word. Klik hier.

Kontak Annette Derks, annette@lumin.co.za, vir meer inligting.