Drie strooitjies semen van die bul “Midnight” is by die “Uit de Fles” Wagyu-veiling vir R60 000 elk opgeveil. Johan Strydom van Aliwal-Noord was die verkoper en Johan van der Westhuizen was die koper.

“R6,00 vir ’n sperm” is hoe een van Suid-Afrika se top veeartse dit laggend beskryf het toe een strooitjie semen van ’n uitstaande Suid-Afrikaanse bul vir R65 000 verkoop is by die “Uit de Fles” Wagyu-veiling by die Parys Country Club op 10 Augustus. ’n Beperkte hoeveelheid top semen en embrio’s het van hande verwissel.

Read it in English. 

Drie strooitjies van die eerste lot, van die bul Midnight, ’n poenskop suiwer bul met beide goeie marmering en groei wat onlangs deur Johan Strydom van Prime Wagyu in Aliwal-Noord vir R1,85 miljoen in Australië gekoop is, het gewys dat uitstekende genetika altyd goeie pryse sal behaal. Johan van der Westhuizen was die koper van die drie strooitjies semen.

Nog ’n hoogtepunt was die Sumo Michifuko F154-semen teen R52 000 elk. Johan de Vos en dr Sandy Bruins van Stella Wagyu was die verkopers. Johan van der Westhuizen, James Schnetler en Michiel Wessels van Beyond Beef was die kopers.

Die totale omset vir 197 lotte was R1,70 miljoen. Die 56 embrio’s is vir R631 500 verkoop, met ’n gemiddeld van R11 276. Die 141 semenstrooitjies is vir R7 072 per strooitjie verkoop.

Kommersiële strooitjies verkoop vanaf embrio- en semenstasies vir R100 tot R500 per strooitjie.

Vir meer inligting, skakel Samuel Pauw by 084 7009700, Connie van Vuuren van BKB by 082 373 4833 of dr Michael Bradfield, hoof uitvoerende beampte van die Wagyu-genootskap, by 082 857 0961. Besoek alternatiewelik die webtuiste www.wagyu.org.za. – Persverklaring