Chanelle Retief, ‘n dieetkundige van NutriFundi, het onlangs op Grootplaas gesels oor die besondere gesondheidswaarde van pekanneute. Dié neute is propvol gesonde vette, antioksidante, vitamines and proteïne. Sy het die hierdie heerlike resep met Plaaskos gedeel sodat kykers en lesers die wonders van pekanneute deel van hul maaltye kan maak. Kyk die Grootplaas-onderhoud hier om meer te leer oor die voedingswaarde van pekanneute asook oor die verbouing daarvan in Suid-Afrika.

Bestanddele

3 eetlepels olyfolie

2,5 koppies botterskorsie, geskil en gesny in blokkies

3 koppies Brusselse spruite met die kante afgesny en geel blare verwyder

2 eetlepels heuning

½ teelepel komyn

½ teelepel kaneel

Knippie sout

Sous

¼ koppie appelasyn

2 eetlepels sesamolie

1 teelepel sojasous

1 teelepel mostert

Om te bedien

100g pekanneute

1 koppie gedroogde bosbessies

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 200°C. Spuit 2 bakplate met “Spray & Cook”.
  2. Meng die botterskorsie, 1 eetlepel olyfolie, heuning, komyn en kaneel in ‘n bak. Meng goed, sodat al die botterskorsie bedek is met die speserye.
  3. Pak die botterskorsie op die bakplaat, rooster in die oond vir 20 tot 25 minute, totdat dit sag is.
  4. Sny die Brusselse spruite in die helfte. In ‘n bak, meng die Brusselse spuite met 2 eetlepels olyfolie en die sout. Meng goed.
  5. Pak die Brusselse spruite op die bakplaat, rooster in die oond vir 20 tot 25 minute, totdat dit sag is.
  6. Meng alles vir die sous saam.
  7. In ‘n aparte bak, meng die botterskorsie, Brusselse spruite, pekanneute en bosbessies.
  8. Bedien met die sous. – Chanelle Retief, NutriFundi