Dr Heinz Meissner deel die volgende in die mees onlangse uitgawe van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) se nuusbrief:

Read this in English.

“Veldbestuur in Suid-Afrika word gerig deur weikapasiteit en veelading na aanleiding van ’n gedefinieerde standaard, die grootvee-eenheid (GVE). Alle distrikte het ’n Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) goedgekeurde weikapasiteit bereken in hektaar per grootvee-eenheid. Individuele plase binne distrikte mag egter verskil in weikapasiteit as gevolg van plaaslike plantbedekking, spesiesamestelling en veldtoestand.

“Ten einde weikapasiteit tot die maksimum te ontwikkel, moet die veldtoestand optimaal wees ten opsigte van plantbedekking, spesiesamestelling en herstel van kaal dele en erosiegebiede. Elke boer behoort te streef na die optimale veldtoestand ten einde volhoubaarheid te verseker. Hierdie beginsel is ook net so belangrik vir koolstofberging.

“Koolstofberging in die biome Savanna, Graslande en die Nama en Sukkulente Karoo, wat gesamentlik omtrent 90% van alle weigebiede uitmaak, is onderskeidelik ongeveer 2 000, 2 300 en 580 miljoen ton koolstof vir die totale gebied beslaan deur die onderskeie biome.

“ ’n Verdere belangrike berekening is dat die jaarlikse vloei van koolstofdioksied (CO₂) in (sekwestrasie) en uit (vrystelling) die natuurlike ekostelsels in Suid-Afrika ongeveer 1 100 miljoen ton CO₂ ekwivalent (e) per jaar beloop. Dit is meer as dubbeld die vrystelling van alle bronne wat deur die mens se aktiwiteite in die land veroorsaak word.

“Om dit verder in perspektief te plaas, die kweekhuisgasvrystelling van alle weidende vee in Suid-Afrika beloop slegs 1,35 miljoen ton CO₂ e per jaar. Alhoewel daar nie ’n direkte verband is tussen koolstofberging en vrystelling nie, toon die berekenings die potensiaal as grond- en plantkoolstofberging deur bestuur verbeter kan word. Dit kan vermeerder word deur plantbedekking (biomassa) en -samestelling.

“Met oordeelkundige veldbestuurspraktyke in die Nama en Sukkulente Karoo as voorbeeld, kan gras meer of minder toeneem afhangende van terrein, omgewing en ander faktore wat voordelig sal wees vir koolstofberging, want die bergingskapasiteit in Graslande is bykans viervoudig (2 300 miljoen ton koolstof) meer as in die Nama en Sukkulente Karoo (580 miljoen ton koolstof). Daarenteen sal oorbenutting van die veld lei tot kaal dele en erosie, wat beide weikapasiteit en koolstofberging erg benadeel.

“Boodskap: Veeboere wat konserwatiewe veeladings en goeie veldbestuur toepas, sal baie meer koolstof terugsit in die plante en grond as wat hul diere sal vrystel. Hulle kan dit verder bevorder deur die aanplant van bome en struike. As hul plase gewasverbouing toelaat, sal die toepassing van min of geen bewerking voorkom dat koolstof in die atmosfeer vrygestel word, waar dit bydra tot aardverwarming.”