Wat lei jou skape aan die neus rond?

0
704

Neuswurm is in die volksmond ’n algemene term, en skep die illusie dat dit ’n wurmspesie is wat in die neus voorkom en simptome soos ’n gedurige genies en ’n loopneus veroorsaak.

Read this in English.

In der waarheid is dit die larf van die neusvlieg met die wetenskaplike naam Oestrus ovis, wat in die neusholtes, neusgange en kopholtes tot die volwasse stadium vervel om sy lewensiklus te voltooi. Hierdie vlieg kom wêreldwyd voor en is ’n las vir skape, bokke en sommige wildspesies. In 2016 is selfs ’n hond in Italië met neuswurm gediagnoseer.

Gevalle van oftalmomiase, konjunktivitis of oogslymvliesontsteking by mense as gevolg van die teenwoordigheid van die vlieglarwe in die oog is ook aangeteken.

Aanvanklik is mense slegs besmet indien hulle op plase woon en werk, maar onlangs is gevalle ook by stedelinge opgemerk. Indien die larwes verwyder word, klaar die simptome vinnig op.

In Suid-Afrika kom neuswurms by 73% of meer van die skaap- en bokkuddes voor.  Besmette skape het gewoonlik gemiddeld 15 larwes en bokke slegs vier. Gevalle is al aangeteken waar tot 105 larwes in ’n skaap gevind is. Dit word aanvaar dat bokke die neusvlieg meer suksesvol vermy en sodoende word minder larwes in hul neusholtes gelê.

Impak op produksie

Die impak van neuswurmbesmetting op produksie word nie altyd in ag geneem nie. Studies het bewys dat die teenwoordigheid van tien larwes oor ’n tydperk van ses maande, tot gewigsverlies van 2kg per skaap kan lei. Volwasse vlieë veroorsaak irritasie by skape. Hul neuse word teen die grond gehou of in die wol van ander skape ingedruk en hul voete word gestamp, alles in ’n poging om die vlieë af te weer.

Die irritasie veroorsaak dat die skape minder vreet, wat beteken dat hul kondisie negatief beïnvloed word. Aangetaste diere is meer vatbaar vir sekondêre bakteriële infeksies van die boonste lugweë.

Die reuksintuig word beïnvloed en dit kan ramme se vermoë om ooie wat op hitte is te identifiseer, verminder. Dit het ’n direkte invloed op die lengte van die dekseisoen en die dragtigheidspersentasie. Ooie se swak reukvermoë in die lamseisoen kan meer hanslammers tot gevolg hê.

Loopneus met ’n afskeiding

Diere wat met neuswurm besmet is, het gewoonlik ’n loopneus met ’n afskeiding wat slymerig of etterig kan wees. Die neusslymvliese is geswel en erosieletsels is sigbaar. Die teenwoordigheid van larwes veroorsaak drukking op die slymvliese en die larwes skei ensieme af, wat hulle in staat stel om in die neusgange op te beweeg.

Bewyse bestaan dat skape hipersensitiwiteit ontwikkel wanneer larwes teenwoordig is. Dit lei tot ’n oormatige immuunreaksie, wat hul weefsel verder beskadig. Soms migreer die larwes deur die neusgang na die brein, letsels kom in die serebrale korteks voor en neurone word afgebreek. Neurologiese tekens word dan opgemerk, wat tipies is soos die tekens wat met draaisiekte gesien kan word.

Broei- en besmettingstyd

Neusvlieë broei gewoonlik vroeg in Oktober uit, waarna hulle paar en elke wyfievlieg dan 500 larwes kan produseer, wat in die neusgate van skape en bokke geplaas word. Die larwes migreer deur die neusgange, vervel twee keer en migreer dan na die voorste sinusse.

Die volwasse larwes beweeg deur die neusgange na buite en word gewoonlik deur die skape uitgenies. Dit lê in die grond tot die vlieg weer ná drie tot vier weke in die somer uitbroei. Drie of vier generasies kan hul lewensiklusse teen die einde van die somer voltooi.

Besmettings vind dus van Oktober af plaas en bereik ’n hoogtepunt in Mei. Larwes kan in die skaap oorwinter en ontwikkel verder in die lente.

Wenke vir behandeling

Om die lente- en somerbesmettings onder beheer te bring, word aanbeveel dat ’n behandeling einde Oktober en weer in Maart toegedien word. Ooie moet voor lamtyd behandel word en ramme voor die dekseisoen om goeie reukvermoë te verseker. Lammers moet behandel word om gewigsverlies te voorkom.

Inspuitbare produkte wat ivermektien bevat, bv. Ecomectin 1% (G2275), is doeltreffend om neusvlieglarwes dood te maak. Mondelinge behandeling van skape en bokke met produkte wat rafoksanied bv. Tramisol plus (G1830), klosantel, ivermektien (bv. Ecomectin Sheep Drench G2630) of moxidektien (bv Moxziben G4040) bevat, kan ook gedoen word.

Dit is belangrik om te besef dat beterskap eers drie dae ná behandeling sigbaar is. Dit kan selfs langer neem omdat die dooie larwes uitgeskei moet word en die ontsteking in die slymvliese moet afneem. In die somer kan neusvlieë afgeweer word deur skape met ’n deltametrienbevattende dipstof (bv. Clout G1447, Decaspot G3433, Decatix 3 G1348 of Triatix plus G3434) op die koppe te behandel. – Dr Hanré Bredenkamp Ferreira, Afrivet

Vir bronverwysings of meer inligting, skakel gerus ’n Afrivet-agent of laai die Afrivet-toepassing af. Skakel alternatiewelik 012 817 9060 of 0860 VEEARTS, of besoek die webtuiste www.afrivet.co.za.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here