Op 1 Junie 2018 sluit Suid-Afrika by baie ander lande oor die wêreld aan om die 18de jaarlikse Wêreldmelkdag te vier. Klik hier vir meer inligting oor aktiwiteite op Wêreldmelkdag.

Read it in English. 

Waarom? Want melk is ’n smaaklike, veelsydige en gerieflike bron van belangrike voedingstowwe wat volwassenes en kinders nodig het vir optimale voeding.

Maak die bron van kalsium saak?

Kalsium is een van die belangrikste minerale in die dieet. Ons moet daagliks kalsium uit verskillende voedselsoorte inneem. Die volwasse menslike liggaam bevat sowat 1 000mg kalsium, waarvan 99% in die bene van die skelet gevind word. Die res speel ’n belangrike rol in spiersametrekking, bloedstolling, kommunikasie tussen neurone en bloeddrukregulering. Kalsium help ons om sterk bene en tande te kry en in stand te hou, en voorkom hoë bloeddruk, hartsiektes, sekere tipes kanker en vetsug.

Hoeveel?

In Suid-Afrika en wêreldwyd is die aanbevole kalsium-inname vir volwasse mans en vroue sowat 1 000 tot 1 200mg kalsium per dag om die kalsiumbalans in die liggaam in stand te hou. Indien daar ’n tekort aan kalsium in die dieet is, onttrek die liggaam kalsium uit die skelet om aan ander behoeftes te voldoen, byvoorbeeld bloeddrukregulering.

Die beste bronne?

Suiwelprodukte soos melk, maas (gefermenteerde melk), jogurt en kaas het die hoogste kalsiuminhoud van alle voedselsoorte. Een porsie melk, jogurt of maas (1 koppie) of 40g kaas bevat elk sowat 300mg maklik absorbeerbare, biobeskikbare kalsium. Die voorgestelde 3-A-DayTM porsies suiwel behoort aan 90% of meer van die daaglikse aanbevole inname (DRI) vir volwassenes te voldoen.

Lae inname

Baie studies toon egter dat Suid-Afrikaanse volwassenes se inname van kalsium uit voedsel heelwat laer as die aanbevole vlak van 1 000 tot 1 200mg per dag is. Die kritieke fase wanneer kalsium in die skelet neergelê word (baba- en kinderjare en veral in die tienerjare tot in die middel-twintigs), is waarskynlik die tyd dat kalsiuminname die ergste verwaarloos word, gevolg deur lae inname by bejaardes, wanneer been-instandhouding steeds van wesenlike belang is vir lewenstylvaardighede.

Die ideale oplossing

Die ideale oplossing sou wees dat elke mens drie porsies suiwel per dag, soos melk, maas, jogurt of kaas in optimale hoeveelhede kon inneem.

Kies die beste bron!

Dit is waarom Suid-Afrikaners bewus gemaak moet word van hoe noodsaaklik dit is om die beste moontlike bron van kalsium te kies vir hul daaglikse inname. Afgesien van suiwel het die meeste ander voedselsoorte soos groente ʼn wisselende kalsiuminhoud. Broccoli bevat byvoorbeeld 35mg per porsie van 70g, en ʼn mens sal sewe koppies broccoli moet eet om dieselfde hoeveelheid kalsium in te neem as in een koppie melk, maas of jogurt.

Faktore wat kalsiuminname verhinder

Plantbronne van kalsium bevat gewoonlik chemiese verbindings soos fitate (koringsemels, bone, sade, neute en soja-isolate), oksalate (spinasie, neute, kool, patats, rabarber en bone), en tanniene (tee) wat met kalsium kombineer om onoplosbare verbindings te vorm en die absorpsie van kalsium te verlaag.

ʼn Tekort aan vitamien D weens ontoereikende dieetinname en blootstelling aan die son het ook ʼn uitwerking op kalsiumabsorpsie. Hoë soutinname verhoog die verlies van kalsium deur die niere en moet vermy word.

Die probleem met plantgebaseerde drankies

Drankies wat gebaseer is op plante soos amandel, rys en hawermout, verskil aansienlik van beesmelk met betrekking tot die voedingstof-samestelling en biobeskikbaarheid van voedingstowwe. Kalsium kom nie natuurlik in hierdie produkte voor nie en dit word gewoonlik verryk met vitamiene en minerale. Mense wat suiwel vermy om redes soos ʼn streng vegatariese (vegan) dieet, ʼn melkproteïen-allergie, wanopvattings oor dierewelsyn ensovoorts, behoort noukeurig te kyk na die etikette van plantgebaseerde voedsels om te bepaal of hul kalsiuminname voldoende is en of hulle dalk die risiko van ʼn moontlike tekort loop.

Heelvoedsels

Suiwelprodukte is ryk bronne van nege essensiële voedingstowwe, waarvan hoëgehalteproteïen, kalsium en kalium waarskynlik die belangrikste is vir Suid-Afrikaanse behoeftes. Heelvoedsels soos melk, maas, jogurt en kaas is die rykste bron van biobeskikbare kalsium in die dieet. Gee dit dus ʼn kans om jou gesondheid te bevorder en jou dieet te verbeter.

Dit lyk of dit regtig belangrik is om die regte bron van kalsium vir jou dieet te kies!

Vir meer inligting, kontak Christine Leighton of Maretha Vermaak by 012 991 4164. – Persverklaring