Die proses om nuwe boere te vestig, is al ’n geruime tyd aan die gang. Ongelukkig is die lys van suksesvolle nuwe bedrywighede redelik beperk. Dit laat die vraag ontstaan waarom dit so ’n gesukkel is om nuwe toetreders in die landbou te vestig.

Iets wat dikwels uit die oog verloor word, is dat boerdery ’n hoërisikobedryf is. Selfs vir klein- tot mediumgrootte ondernemings is die finansiële oorlewing ná vyf jaar slegs sowat 50%, terwyl dit ná tien jaar 30% is.

Redes waarom besighede nie slaag nie, kan aan die volgende faktore toegeskryf word: Geen (of ’n beperkte) mark vir die produk, ’n swak besigheidsplan, te min aanvangskapitaal (of geen toegang tot lenings nie), die verkeerde ligging en onbuigbaarheid van die stelsel (wil nie verander nie). Al hierdie redes is van toepassing op die meeste staatsondersteunde projekte.

Nuwe boere wat sukses behaal, is dié wat ’n boerdery saam met ’n bestaande kommersiële melkboer bedryf. Hierdie geleentheid is dikwels nie vir nuwe boere beskikbaar nie.

Hoë aptyt vir risiko’s

Boere is bekend daarvoor dat hulle bereid is om risiko’s te neem en sal dikwels ’n bedryf aanpak met relatief beperkte tegniese kennis. Dit is asof die doen daarvan belangriker is as die manier hoe dit gedoen word. Vir bestaande boere wat ’n nuwe bedryfstak wil aanpak, is daar gewoonlik iewers ’n veiligheidsnet wat kan help om die sogenaamde “skoolgeld” te betaal. Dit is soos die boervrou wat met ’n vleisbeesboerdery wil begin terwyl daar reeds ’n ander gevestigde bedryfstak op die plaas is.

Die aanvangskapitaal vir so ’n nuwe bedryfstak is uiteraard minder as vir ’n beginnerboer omdat net direkte produksiekoste benodig word. Vir ’n vleisbeesboerdery is dit onder andere die koste om teeldiere aan te koop en die skep van infrastruktuur.

Beperkte tegniese kennis word aangevul met die oplees van handboeke, bywoon van inligtingsdae en vra van raad. Die risiko is laer, want die direkte lewenskoste kom van ’n ander bron, naamlik die bestaande plaasbedryfsaktiwiteite.

Hoë insetkoste

Dit is algemene kennis dat enige boerdery-aktiwiteit hoë insetkoste verg. Om ’n klein melkery te begin, word met uitsluiting van die plaasgrond ten minste R5 miljoen tot R10 miljoen benodig vir melkkoeie, ’n melkstal, ander infrastruktuur en voervoorrade.

Die suksesvolle vestiging van weiding kan ’n paar maande duur en tot dan is die melkkoeie afhanklik van groot hoeveelhede aangekoopte ruvoer. Om weiding te vestig, moet daar toegang wees tot voldoende besproeiingswater en infrastruktuur om weidings te besproei.

Dit word algemeen aanvaar dat iemand wat op ’n plaas grootgeword het en in die boerdery-aktiwiteite belang gestel het, agtergrondkennis het wat moeilik in boeke geleer kan word. In die korporatiewe wêreld word hierna verwys as institusionele kennis. Iemand wat nie dieselfde blootstelling gehad het nie, moet eers die leerskool van selfdoen deurgaan om ondervinding op te doen.

Wat sê bestaande boere?

Die vraag “Wat moet nuwe boere weet as hulle met ’n melkery wil begin?” is onlangs op die Facebook-blad Boere Gesels gevra. ’n Melkbeesboerdery het behalwe ’n groot kapitaalbelegging ook baie tegniese kennis nodig, want dit verduidelik waarom sekere aksies nodig is om foute te vermy. Bepaalde aksies het ook ’n redelike verwagting van goeie resultate.

Hieronder volg die menings van ’n aantal deelnemers. Die oorspronklike vraag was op melkboere gerig, maar is dalk op ander bedryfstakke ook van toepassing.

Top of Form

Ginkel Jordaan meen die advies sal deur die produksiestelsel (volvoer of weiding) bepaal word.

Japie Nel sê die gesondheid van diere en die ras is belangrik. “Dit is belangrik om nie net na die genetika en ras op te let as jy diere aankoop nie, maar ook ander gesondheidsaspekte en eerlike verkopers. Geen spekulasiebeeste nie! Dit maak nie saak watter stelsel jy het nie, ’n dooie koei melk moeilik.”

Belangrike oorwegings

Magiel Fourie reken ’n betroubare melkkoper is uiters belangrik. “Besluit op die ras wat vir jou gaan werk en of jy ’n volvoer- of weidingstelsel gaan volg. Die omgewing waar jy boer is ook belangrik, want dit help nie jy wil melk en is ver van die verkoper of mark af nie. Dan het jy koste om die melk aan te ry.”

Gerdie Landman noem dat iemand hom vroeër aan die oor moes gedraai het en laat fokus het op aspekte soos ekonomiese volhoubaarheid, skaalvoordele en die regte doeltreffendheidsmaatstawwe. “Ek het dalk te veel aandag aan genetika en skouprestasies gegee. Wat was die waarde van al die duisende volumes papierwerk om stambome aan te teken?”

Faan Fairlane Basson noem dat ’n mens moet weet wat die regte koste van iets is.

Gerdie Landman sê: “Ja, uitgawes moet gerig wees op die rendement daarvan. Dit moet eerder hoër wees as die bankinkomste, want die uitgawe is dan eers ’n belegging en nie ’n koste nie.”

Goeie gehalte ruvoer

Hendrikus en Rommillija Boers reken die sukses vir alle veeboerderye, maak nie saak watter tak daarvan nie, lê daarin om goeie gehalte ruvoer te produseer. “Dit beteken nie dat die ander aspekte van veeboerdery afgeskeep moet word nie. Jy kan al die ander bestuursdinge reg doen, maar jy sal dit nie maak as daar ’n tekort is aan ruvoer of as die ruvoer swak is nie.”

Faan Fairlane Basson noem verder dat aspekte soos voeromset, gemiddelde laktasienommer, besettingstempo, vastestofproduksie per hektaar, somatiese seltelling en kalfvrektes baie gewig dra.

Hendrikus en Rommillija Boers stem saam dat die voeromset belangrik is. “Wat sit jy in en wat kry jy uit? Melkboerdery het baie slaggate – jy moet die regte beeste hê, hul uiers en pote moet goed wees, koeie moet betyds dragtig raak, mastitis moet onder beheer wees en die melkmasjiene moet skoon wees. Dan is daar ook die fyner punte, soos vastestofpeile en bakteriese tellings.”

Johannes van Eeden noem dat die tussenkalfperiode, volhoubare melkproduksie, voeding versus genetika en melkproduksiekoste belangrik is.

Ryan Newborn reken ’n mens moet weet wat die werklike koste van ’n oorslaansiklus is.

Sorgvuldige beplanning

Arthur Lorentz noem dat infrastruktuur reg beplan moet word. Hy meen dat buite die kassie en groot gedink moet word. “Besluit waarheen jy op pad is en doen dit die eerste keer reg. Dan volg bestuur. Kry die regte mense om jou en kyk na hulle. Jy kan nie alles 24/7 self doen nie. Sorg dat die tweede lyn van bestuur vroeg in plek kom, voordat dit te laat is. As jy iets oorkom, is alles wat jy opgebou het jare teruggesit.

“Moenie skaam wees om by jou medeboere te leer en te vra nie – veral boere om jou. Weet van die begin af dat jy soms erg moeg vir die bedryf gaan word en selfs gaan wonder of dit die moeite werd is. Dan melk jy maar weer, want dis eintlik ’n voorreg.”

Dirk Winterbach het grappenderwys gesê hy dink daar is makliker maniere om ’n mens se geld te verloor as met ’n melkery. “Sit jou geld in Bitcoin. Jy gaan dit in elk geval verloor, maar jy hoef dan nie elke dag vieruur op te staan nie.”

Tegniese kennis

Dit is opvallend dat die deelnemers nie eintlik ’n behoefte aan tegniese kennis het nie – byvoorbeeld hoe die rumen van ’n koei werk, en hoe melkproduksie en reproduksie deur hormone beheer word. Die waarskynlike rede hiervoor is dat die deelnemers dalk van mening is dat hulle deur ondervinding reeds oor die tegniese kennis beskik.

Met die voorstelle vir kennis word eerder gekonsentreer op die bestuur van ’n melkery, want dit is dikwels die Achilleshiel daarvan. Dit sluit in bestuursaspekte soos die vermindering van kalfvrektes (daar is die direkte koste van behandeling, terwyl vrektes kuddegroei vertraag), die somatiese seltelling in melk (hoë tellings kan die melkprys benadeel), die gemiddelde laktasienommer (laer gemiddelde melkproduksie omdat daar minder ouer koeie is), besettingstempo en bepaalde doeltreffendheidsnorme.

Ander aspekte het weer te doen met ekonomiese faktore soos ’n betroubare melkkoper, afstand van die fabriek, die koste van insette, voeromsetdoeltreffendheid en die gehalte van aangekoopte en plaasgeproduseerde ruvoer. Die belangrikheid van skoue en stambome is ook bevraagteken.

Ten slotte

Nuwe toetreders wat nie die geleentheid gehad het om op plase te werk of daar grootgeword het nie, moet eers weet watter melkbeesrasse geskik is, hoe om die regte koeie te koop en watter infrastruktuur nodig is vir ’n melkery. Dit moet geskep word voordat koeie gekoop en plaas toe gebring word, voldoende ruvoervoorrade moet beskikbaar wees en die melkstal se bestuur moet geleer word. Hulle moet weet dat koeie daagliks volgens ’n vaste roetine gevoer en gemelk word.

Die regte was- en skoonmaakprogram van die melkmasjien en nodige toerusting moet elke dag voor en ná die oggend- en middagmelking toegepas word om hoë gehalte melk te kan lewer. ’n Melkery vereis hoë insetkoste en hoë gehalte daaglikse bestuur van die koeie, kalwers, verse, masjiene en mense. Dit is ’n hoogs wetenskaplike bedryf en tegnologie speel ’n groot rol. Die emosionele insette is baie hoog, want melkvloei is afhanklik van hormone en spanning kan die produksie verlaag. – Dr Carel Muller, Universiteit van Stellenbosch

Vir meer inligting, stuur ’n epos aan dr Carel Muller by careljcmuller@gmail.com.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here