Water is te skaars om te mors

0
2180

Elke druppel water tel. ’n Druppel per sekonde kan daagliks tot 20 liter water versamel. Spaar jy dit of vermors jy dit?

In Liberië is ’n spreekwoord wat sê: “When you see clouds gathering, prepare to catch rainwater.” Sommige mense weet te goed wat die waarde van water is. In die droogtegebiede van Suid-Afrika sal jy talle diesulkes aantref. Veeplaas het met boere uit die Kalahari, Molopo en Karoo gesels om te hoor hoe hulle hul water bestuur.

Hulle almal pas een vername reël toe: Water is te skaars om te mors en elke druppel moet tot sy maksimum gebruik word.

Hoewel damme die tradisionele manier is om water te stoor, meen talle boere dat ’n tenk baie meer voordelig is, veral aangesien dit verdamping teenwerk.

Watervoorsiening aan vee

Pierre Bruwer van die Vorstershoop/Tosca-omgewing sê water kan nie bespaar word deur voorsiening aan vee te beperk nie. “Vee moet deurgaans genoeg water hê om behoorlik te produseer en te reproduseer. Dit is ononderhandelbaar.” Hy sê een medium-raam bees gebruik gemiddeld 56 liter water per dag.

Coenie van der Merwe van Noenieput in die Kalahari en Bertus Steenkamp van Carnarvon in die Karoo, sê ’n skaap gebruik gemiddeld 5 liter water per dag.

Bertus sê verskeie faktore bepaal hoeveel water diere gebruik. Die klimaat, humiditeit, gehalte weiding, skaduwee vir die diere, wind, kleurvariasie van diere, laktasiestadium van diere, aktiwiteite soos die grootte van die kamp en die afstand wat die diere moet aflê tussen die weiding en die water en soutlekke, is alles faktore wat ’n invloed het op die hoeveelheid water wat diere gebruik.

Verdamping uit damme

Talle boere het hul damme met plastiektenks vervang. Pierre verduidelik dat ’n plaasdam met ’n deursnee van 6m en 2m hoog sowat 56 571 liter water bevat. In die midsomer, met temperature van tussen 40 en 42°C, verdamp sowat 707 liter water per dag. Dit is 2,5cm van die dam se oppervlak.

“Vroeër is groot damme met groot verdampingsareas gebou, maar deesdae bou die boere eerder kleiner damme om verdamping te verminder. ’n Dam met ’n deursnee van 3m en ’n hoogte van 4m hou net soveel water as die dam met die deursnee van 6m, maar die verdamping is 50% minder.

“Dit is belangrik dat alle reservoirs bedek moet wees om verdamping te beperk. Damme kan met glasvesel en sinkdakke of digte skadunet bedek word. Die bedekkings moet ook so ontwerp wees dat dit water kan opvang.”

Damme en tenks

Coenie sê tenks is veel beter om te gebruik as damme. Hoewel tenks duurder is, is die verdamping op die lang duur heelwat minder.

Bertus stem hiermee saam. Hy sê in die Karoo maak boere ook baie meer gebruik van tenks. Hulle koop 5 000-liter tenks en plaas twee of drie daarvan in die ou sementdamme. Sy wenk is dat die windpomp of sonpomp die water in die eerste tenk moet gooi, en die ander tenks word so verbind dat hulle saam styg. Sou die tenks oorloop, word die laaste tenk aan ’n pyp gekoppel wat weer terugloop in die boorgat om enige vermorsing te voorkom.

“Ek laat loop ook die oorvloei na bome, wat weer skaduwee vir die vee bied in die somermaande. Proewe is by die Klerefontein-navorsingstasie naby Carnarvon gedoen wat bepaal dat vee tot 10% produksie verloor as daar nie voldoende skaduwee is nie. Teen R50 per kilogram is 10% later ’n groot bedrag in getalle en gewig.”

Pierre raai boere ook aan om 5 000-liter tenks in plaas van groter tenks te gebruik. Twee 5 000-liter tenks is byvoorbeeld goedkoper as een 10 000-liter tenk. As een tenk breek, is daar altyd nog een om water aan die diere te voorsien.

Die water van tenks of goed bedekte damme is koeler en dan suip die vee minder. Boonop bly die water ook skoon van watergoggas en bessiepitte, wat onder die balkleppe by suipkrippe kan beland en verhoed dat die klep dig sluit. Dit veroorsaak dat baie water vermors word.

Instandhouding is noodsaaklik

Vir Pierre is instandhouding een van die belangrikste take op elke plaas. “Geen vermorsing mag plaasvind as gevolg van lekkasies nie. Hou jou toerusting, damme, tenks, suipkrippe en pypleidings in stand.”

Bertus glo ook die instandhouding van waterbronne is belangrik. “Daar is ’n paar logiese wenke, soos om die windpomp vas te draai of die rem net aan te draai as die tenk oorloop om vermorsing te voorkom. Die beste metode om water te bespaar, is om te sorg dat jou damme en krippe geen barste of lekplekke het nie.

“Glasvesel, plastiek of rubber is ook meestal beter as sink- of sementdamme en -krippe, omdat die sogenaamde brakwater oor ’n lang tyd ’n groot invloed op die sement het.”

Hy vertel dat die boere in sy omgewing ’n eenvoudige meganisme ontwikkel het wat die windpomp se rem beheer. “Hulle koppel ’n 20-liter kan aan die windpomp se rem wat met water uit die dam gevul word wanneer die dam vol is. Sodra die kan vol is, trek dit die rem af. Sodra die dam se vlak begin sak, loop die houer weer leeg, die rem gaan opwaarts en die windpomp gooi weer op volsterkte.” Sonpompe kan ook met ’n tydmeganisme beheer word.

Coenie sê in die Kalahari is ystervarke van die groot probleme. “Dit is beter om plastiekpype te begrawe en al jou krippe se inlate van gegalvaniseerde pype te voorsien wat nie stukkend gebyt kan word nie. Vir die beeste se krippe moet ook ekstra versterkings aangebring word aangesien hulle gewelddadig kan raak by ’n waterkrip.”

Ander wenke

Bertus sê ervaring het hom geleer dat boere wat lusern op ’n Karooplaas plant, eerder drupbesproeiing as vloedbesproeiing moet gebruik. Vir drupbesproeiing word slegs 30% van die hoeveelheid water gebruik en geen verdamping vind plaas nie.

Vir Pierre is waterbesparing ’n aksie wat op die hele plaas toegepas moet word. “Bad-, stort- en wasmasjienwater kan alles gebruik word om droogtebestande plante om die huis nat te gooi. Spoeltoilette moet gestel word sodat nie onnodig baie water gebruik word nie.

“As water baie skaars is, is groot tuine of grasperke nie haalbaar nie. Stoepe en skadukante van plaashuise en selfs die binnekant kan verfraai word met potplante wat met reënwater uit tenks om die huis en alle buitegeboue natgegooi word. Ons het ongeveer 15 tenks van 5 000 liter elk wat water van die opstal en buitegeboue se dakke opvang. Selfs die werkershuise kan elkeen ’n tenk of twee hê om reënwater op te vang vir drinkwater. Die boorgatwater kan vir kook- en wasdoeleindes gebruik word.”

Vir meer inligting, kontak Pierre Bruwer by 082 784 6386, Bertus Steenkamp by 083 630 5675 of Coenie van der Merwe by 083 243 7601. – Koos du Pisanie, Veeplaas

 

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here