Die toutrekkery oor die verskuiwing van siektevrye buffels uit die Waterberg-plato-park naby Otjiwarongo in Namibië duur voort. Die Erindi-wildreservaat, wat tussen Okahandja en Otjiwarongo geleë is, se tender om van dié buffels te bekom, is deur die land se minister van landbou, water en bosbou van die hand gewys en die saak gaan nou deur ’n appèlraad besleg word.

Intussen het afgevaardigdes na die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) se kongres in Windhoek gehoor dat die omheining van die Waterberg-wildtuin in ’n goeie toestand is en dat een van die jongste uitbrekings van buffels uit die wildtuin veroorsaak is deur twee kameelperdbulle wat baklei en die heining gebreek het. Die ses buffels wat uitgebreek het, is van kant gemaak. Die weiding in die wildtuin is onder druk en daar is skynbaar sowat 1 000 buffels in plaas van die 400 wat die weiding kan dra, en die elande is ook te veel.

Piet Gouws, voorsitter van die LPO, sê dié organisasie is nie daarteen gekant dat buffels verskuif word nie, mits ’n waarborg verskaf word dat die veeproduksie van die land nie ontwrig of benadeel sal word nie. – Andries Gouws, Veeplaas

 

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here