Die minister van water en sanitasie, Lindiwe Sisulu, het op 2 April 2020 aangekondig dat waterverskaffing gesentraliseer sal word by ’n Johannesburgse beheersentrum vir die duur van die COVID-19-inperking in die land.

Read it in English

“Ons het al ons water geneem en dit onder een beheersentrum geplaas by Rand Water in Johannesburg, waarvandaan alle versoeke wat water betref sal kom,” sê  Sisulu. In die geval van besproeiingsrade – hoofsaaklik boere en individue wat waterregte besit – sal daardie rade ook opdrag kry om water aan die regering beskikbaar te stel.

Tydelike noodmaatreël

Agri SA het bevestig dat die aanstelling van Rand Water as implementeringsagent vir die verspreiding van water ’n tydelike noodmaatreël is om die COVID-19-pandemie teë te werk vir so lank as wat die ramptoestand heers. Agri SA het verder bevestig dat die departement boek sal hou van al die betrokke kostes en dat besproeiingsrade sodanige kostes sal kan terugeis. Die departement sal alle nodige maatreëls tref om te verseker dat water wat aan verbruikers voorsien word, gesuiwer sal word volgens die vereiste gehaltestandaarde.

“Hierdie situasie word uiters noukeurig en professioneel deur die minister en haar span hanteer. Ons het waardering vir haar leierskap in hierdie tyd en moedig ons lede aan om te verseker dat enige neem en voorsiening van water in noue samewerking met die Departement van Water en Sanitasie sal geskied,” sê Janse Rabie, die hoof van Agri SA se Sentrum vir Uitnemendheid: Natuurlike Hulpbronne.

Water noodsaaklik vir ontsmetting

‘n Aantal boerderygebiede van reg oor die land is reeds vir maande, en sommiges selfs jare, sonder water. Die regering is nou genoodsaak om spoedig watervoorsiening te verseker, gegewe die behoefte aan konstante ontsmettingspraktyke om die verspreiding van COVID-19 te verhoed.

Die regering het gemeenskappe wat deur watertekorte geraak word, aangemoedig om 0800 200 200 (tolvry) te skakel. – Persverklaring, Agri SA