Die huidige La Niña-verskynsel het nou volwassenheid bereik, maar sal by La Niña-vlakke bly tot April vanjaar. Langertermynvooruitsigte vir die somerreënvalgebied is nog positief vir verdere reën in veral die tweede helfte van Februarie en Maart.

Korttermynvoorspellings toon ’n droër tydperk tot ongeveer 21 Januarie, máár verdere reën in die laaste week van die maand oor die sentrale tot oostelike dele.Baie swaar reënnneerslae het begin voorkom oor die sentrale tot westelike dele van die land en Namibië sedert die tweede helfte van Desember verlede jaar.

Vloedtoestande het in gebiede en distrikte soos Hoopstad en Wesselsbron in die Vrystaat, Augrabies in die Noord-Kaap, gedeeltes van Gauteng, die suidelike dele van Namibië, en die sentrale tot westelike dele van die Noord-Kaap, voorgekom. Daaglikse reënval van tot meer as 100mm het in sekere van hierdie gebiede voorgekom wat baie waterafloop en versadigde grond veroorsaak het.

Waterskade vs. droogteskade

Grond wat te nat is en te min sonskyn kry, begin om ernstige skade aan gewasse in die noordwes-Vrystaat in distrikte soos Bothaville, Wesselsbron, Viljoenskroon, Hoopstad en aangrensende distrikte in Noordwes soos Wolmaransstad en Bloemhof te rig.

Waterskade en min hitte-eenhede kom ook in die oos-Vrystaat in Bethlehem, Warden, Frankfort en Heilbron voor. Ernstige droogteskade het begin ontwikkel in gedeeltes van Mpumalanga waar veral die vroeë somergraan-aanplantings tans in die sensitiewe reproduktiewe stadium is.

Permanente skade het reeds op mielies en sojabone voorgekom, maar reën tussen 11 en 13 Januarie het gehelp om die omstandighede te stabiliseer. Ernstige droogtetoestande heers steeds in die weidingsgebiede van die Oos-Kaap soos Jansenville, Steytlerville en Willowmore.

Die droogte duur ook in die suidelike dele van die Noord-Kaap in distrikte soos Vanwyksvlei, Loeriesfontein, Williston en aangrensende distrikte voort, aangesien hierdie dele oorgeslaan het met die reën wat in die eerste week van Januarie voorgekom het in die meer noordelike dele van die Noord-Kaap.

Verbetering in weidingstoestande

Weidingstoestande het aansienlik verbeter in groot gedeeltes van die Noord-Kaap en veral in die Kalahari, maar meer opvolgreën en tyd is nodig vir volledige herstel. Ondergrondse wateraanvulling het nog nie voorgekom nie. Watervlakke van bykans alle opgaardamme in die somerreënvalgebied is gunstig.

Die meeste damme is byna vol, behalwe vir kleiner damme in byvoorbeeld Limpopo, soos die Tzaneendam met 16,5% en Middel Letabadam met minder as 1%. Die Vaaldam se watervlak het vinnig tot ongeveer 65% verhoog sedert die begin van Januarie vanjaar, nadat dit nog op ongeveer 35% in Desember verlede jaar was.

Die vlak van sekere damme in die Oos-Kaap bly steeds krities laag met die Kougadam op 9,5% en die Bridle Drift-dam met 32,7% wat die hoofbronne van water vir Nelson Mandela-baai is. Damvlakke in die Laeveld is ook laag en beperk die besproeiing van vrugte en ander gewasse.

In die Wes-Kaap is die meeste damvlakke relatief gunstig, maar watervlakke daal te vinnig as gevolg van die baie warm toestande wat tans ervaar word. Die watervlak van die Karibadam in Zambië is baie laag op 20,44%, maar die Katzedam in Lesotho het gestyg van 26% in Desember tot 46% in die eerste week van Januarie vanjaar.

See-oppervlaktemperature in die El Niño-gebiede bly op La Niña-vlakke sedert die middel van Augustus verlede jaar. Die gemiddelde afwykings van see-oppervlaktemperature van die belangrike Niño3,4-gebied is nou op 1,1°C koeler as gewoonlik nadat ’n piek van 1,7°C koeler as gewoonlik in November verlede jaar bereik is.  

La Niña gaan nie verder versterk nie

Voorspellings toon dat die La Niña in Desember verlede jaar volwassenheid bereik het, en nie verder gaan versterk nie. Dit sal egter tot ongeveer April/Mei vanjaar op La Niña-vlakke bly. Die Suidelike Ossilasie Indeks (SOI) wat die maatstaf is van die koppeling tussen see-oppervlaktemperature in die Niño-gebiede en die oorliggende weerstelsels het na meer intens La Niña-neigend versterk.

Die SOI het tans ’n indekswaarde van +19,42 op ’n skaal van +30 (baie sterk La Niña) en -30 (baie sterk El Niño). Dit is die hoogste SOI -waarde sedert Desember 2011. Die Indiese Oseaan Dipool- (IOD) indeks is reeds vir ’n paar weke in ’n neutrale fase en is tans presies op die langtermyngemiddeld.

Die suidwestelike Indiese Oseaan (oos van die suidkus van Suidelike Afrika) is steeds ongeveer 2°C koeler as gewoonlik, maar daar het verwarming plaasgevind in die gebied rondom Madagaskar waar dit tans tussen 0,5 en 1°C warmer as gewoonlik is.

Ongeveer 60 tot 70% van die hele Indiese Oseaan was aan die begin van die jaar koeler as gewoonlik, maar die grootste deel van die Stille en Atlantiese oseane in die noordelike halfrond is warmer as gewoonlik, wat ’n rekord aantal siklone veroorsaak het.

Kanse op siklone word verhoog

Matige tot sterk La Niña-gebeurtenisse in die verlede het gewoonlik verband gehou met bogemiddelde reënval vanaf Desember tot April. Die 2020/21 La Niña volg ook hierdie patroon. Met die verwarming van die Indiese Oseaan rondom Madagaskar in die laaste maand, verhoog dit die kanse op tropiese siklone soos Eloise en intense laagdrukstelsels wat dalk reënval kan beïnvloed, maar waarskynlik slegs vir kort periodes.

Soos voorheen genoem, toon korttermynvoorspellings ’n kort, droër tydperk tot ongeveer 21 Januarie, gevolg deur verdere reën oor die sentrale tot oostelike dele van die land in die laaste week van die maand.

Langertermynvoorspellings bly egter positief vir verdere reën vanaf die tweede helfte van Februarie sowel as in Maart en April, maar dit sal grootliks van die ontwikkeling van siklone afhang. Gemiddelde tot bogemiddelde dagtemperature kan vir die laaste deel van Januarie en eerste deel van Februarie oor die westelike dele van die land verwag word.

Vloede steeds ’n moontlikheid

Bogemiddelde minimum temperature word verwag as gevolg van die baie vog in die laer gedeeltes van die atmosfeer, wat energie-uitstraling beperk. As gevolg van baie sterk somerreënvalstelsels wat ontwikkel, is somerreënval steeds moontlik veral oor die sentrale tot suidelike en suidoostelike dele van die winterreënvalgebied in Februarie en Maart.

Daar is ’n groot waarskynlikheid vir die later as gewoonlik aanvang van die gewone winterreënval. Kort- tot medium-termynvoorspellings dui baie hoë temperature aan met ’n moontlikheid van ligte reën in die eerste week van Februarie oor die Suid-Kaap.

Droër toestande word ook vir die tweede helfte van Januarie oor die suidelike en suidwestelike dele verwag, maar swaar reën vanaf die laaste week van die maand oor die sentrale tot noordoostelike dele. Die voorkoms van verdere swaar neerslae en moontlike vloede bly steeds groot vir die volgende maande.

‘n Laaste gedagte

Oorstromings en waterversadigde toestande is tans besig om skade aan die somergraanoes te rig in veral die Vrystaat en aanliggende gedeeltes. Droogteskade kom in gedeeltes van Mpumalanga voor. Die meeste van die droogte-geteisterde gebiede van die Noord-Kaap, behalwe die suidelike dele, het reën ontvang.

La Niña het volwassenheid bereik, maar sal by La Niña-vlakke tot ten minste April vanjaar bly. Korttermynvoorspellings toon ’n droë periode tot ongeveer 21 Januarie, met verdere reën in die laaste week van die maand oor die sentrale tot oostelike dele. Die vloedrisiko bly steeds groot in die volgende maande. – Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige