Elke seisoen bring sy eie kwota siektes en sommige daarvan kan behandel en uitgeroei word, terwyl ander net simptomaties behandel kan word. Virussiektes is deel van laasgenoemde groep, waar voorkoming beter is as genesing.

Boere kan hierdie somer weer heelwat siektes verwag wat deur virusse oorgedra word. Dit is raadsaam vir veetelers om op die uitkyk te wees vir sekere simptome, sodat hulle betyds kan optree.

Wat is ’n virus?

Volgens dr Jan Blignaut van die Senekaldierekliniek is dit belangrik om te weet hoe ’n virus werk. Hy verduidelik dat ’n virus ’n baie klein infeksieuse deoksiribonukleïensuur (DNS)- of ribo-nukleïensuur (RNS) organisme is wat binne ’n lewende sel vermeerder. Daar bestaan verskeie maniere van oordrag, soos omgewingsbesmetting deur ’n dier se asemhaling, speeksel en ander afskeidings wat die omgewing besoedel en waar ander diere dit kan optel; direkte kontak tussen diere, soos in die geval van vuilbek, waar lammers die ooie se uiers besmet; meganiese oordraging, soos bytende insekte; of die gebruik van vuil naalde en vektore. Dr De Wet Barnard van die Kranskopdierekliniek en Wilddienste op Modimolle, verduidelik dat dit belangrik is om te weet ’n virus is anders as parasiete, soos dié wat rooiwater en hartwater veroorsaak, en ook anders as bakterieë soos E. coli.

“Dit is nie ’n lewende organisme, soos wat baie mense die term verstaan nie. ’n Virus is eenvoudig ’n versameling selkomponente, DNS of RNS, wat ander lewende selle binnedring om te vermeerder. Dit beteken ’n virus kan nie doodgemaak word nie, wat implikasies vir die behandeling van virussiektes inhou.”

Hy sê ’n wanopvatting oor viruses is dat dit nie ’n siekte oordra nie. “Dit is egter die siekte. Dit kan iets skadeloos soos vratte wees of dit kan dodelik wees, soos snotsiekte. Virusse beweeg die selle binne en ‘kaap’ die sel se interne masjinerie om meer virusse te maak, waarna die sel doodgaan, oopbreek en die virus verder versprei.” Die simptome wat deur die spesifieke virus veroorsaak word, hang af van watter selle in die liggaam binnegedring word.

Watter siektes om te verwag

Die meeste virusse word deur insekte oorgedra en in baie gebiede in die land, met sy verskeidenheid van reënvalstreke, kan die voorkoms van virussiektes ook verskil.

Dr Barnard sê virussiektes maak gewoonlik hul verskyning saam met die insekte wat ná die eerste reënval uitbroei. “By skape is bloutong en vuilbek van die algemeenste virussiektes wat boere te wagte kan wees. Wees ook op die uitkyk vir Slenkdalkoors, wat ook mense kan besmet.

“Algemene virussiektes onder beeste is drie-dae-stywesiekte, knopvelsiekte, snotsiekte, beesvirusdiarree (BVD), besmetlike bees-rhinotracheitis (IBR), bees-respiratoriese sinsitiale virus (BRSV), ensoötiese beesleukose (EBL) en vratte.”

Siektetekens en behandeling

Virussiektes kan nie met medikasie genees word nie. Volgens dr Blignaut moet die dier self die virus deur sy immuunstelsel oorwin, anders gaan hy sterf. Slegs ondersteuning kan gegee word om die simptome te verlig en om die dier by te staan in die herstelproses.

Hy voeg by dat sommige virussiektes nie genees kan word nie en dus eerder vermy of voorkom moet word. Daarom is gereelde inenting teen virussiektes noodsaaklik.

Produsente moet oplet vir die siektetekens en behandeling van vier van die ernstige siektes wat dié somer verwag kan word, naamlik knopvelsiekte, drie-daestywesiekte, bloutong en Slenkdalkoors.

Knopvelsiekte

Simptome wat uitgewys kan word is koors, aptytverlies, lusteloosheid, ’n verlies aan melkproduksie, swelling van die ledemate en bors, neus- en speekselvloei, en ook knoppe op die vel en inwendige oppervlaktes – vandaar die naam van die siekte. Dis ’n baie pynlike siekte, en diere hou dikwels heeltemal op om te vreet en haal baie swaar asem.

Die behandeling is simptomaties, soos anti-inflammatoriese middels vir die koors en pyn, asook antibiotika vir die voorkoming van sekondêre infeksies. Vitamien B kan met die herstelproses help. Om die diere te isoleer, is van min nut, maar die hergebruik van naalde moet tot elke prys vermy word. Die beste manier om hierdie siekte hok te slaan is deur jaarlikse inenting.

Drie-dae-stywesiekte

Sommige simptome van dié siekte is onopvallend. Algemene faktore sluit in aptytverlies, lusteloosheid, ’n verlies aan melkproduksie, ’n neusafskeiding, speekselvloei, spierpyne, mankheid van een of meer bene, wat soms wisselend is en meestal lyk soos ’n styfheid van beweging, en die diere versuim om te beweeg of hulle gaan lê. Ander simptome is ’n vinniger polsslag en vog op die longe, wat tot sekondêre longontsteking kan lei.

Die mediese behandeling is dieselfde as vir knopvelsiekte, soos antiinflammatoriese middels vir koors en pyn, antibiotika vir die voorkoming van sekondêre infeksies en vitamien B om die herstelproses aan te help.

Ander hulp wat verleen kan word, is om te sorg dat diere wat bly lê, toegang het tot water en sagte kos, sagte droë oppervlaktes om te lê en genoeg skaduwee. Dit is ook beter om dié siekte deur jaarlikse inentings te voorkom.

Bloutong

Die algemene simptome van bloutong is hoë koors, aptytverlies, lusteloosheid, ’n verlies aan melkproduksie en ’n neusafskeiding. Die dier se bek vertoon vuil as gevolg van die neusafskeiding en speekselvloei. Kongestie van die neus, lippe, ooglede, ore en gesig, met selfs edeem van dié dele, kan voorkom.

Ander simptome is ulserasie en nekrose van die mond en tong, ’n vinniger polsslag, vog in die longe en hiperemie van die koronêre band van die hoef, soms met koronitis en gepaardgaande mankheid.

Myositis met gepaardgaande spierbewing en torticollis kom ook voor. Skape wat langer siek is, het ’n breuk in die wol. Sekondêre longontsteking kan ontwikkel, asook druksere as die dier lank bly lê. Ernstig aangetaste diere kan sterf. Die simptomatiese behandeling is dieselfde as hierbo.

Slenkdalkoors

Lammers en kalwers is baie vatbaar vir Slenkdalkoors en van die simptome is hoë koors, aptytverlies, lusteloosheid, buikpyn, bloederige diarree en geelsug.

Dit kan ook tot baie vinnige dood lei. Simptome wat by koeie kan voorkom, is koors, ’n dowwe haarkleed, aptytverlies, erge speekselvloei, traanvloei, lusteloosheid, laer melkproduksie, stinkende diarree en aborsies. Simptome by ooie is hoë koors, aptytverlies, lusteloosheid, swakheid, depressie, vinnige asemhaling, etterige slym-neusafskeiding, braking en stink, bloederige diarree. Aborsies kom ook dikwels voor.

Ander virussiektes

Dr Barnard het nog virussiektes uitgewys wat kan voorkom. Snotsiekte, IBR en BRSV kan maklik afskeidings uit die neus en oë veroorsaak. Die beesleukose-virus wys by die meeste beeste geen simptome nie, maar kan kankergewasse in sekere diere veroorsaak. EBL word dikwels toevallig in laboratoriumtoetse opgetel.

Virus- en bakteriële siektes kan maklik met mekaar verwar word, en die diagnose hang van die geskiedenis van die kudde, die omgewing, simptome en bloedtoetse af. Sy raad is om eerder elke keer die veearts te raadpleeg. Dis ook raadsaam om saam met die veearts ’n inentingsprogram op te stel wat geskik is vir die omgewing waar die plaas geleë is.

“Wat insekoordraagbare skaapvirusse betref, is basiese bestuursbeginsels baie nuttig. Waar moontlik moet skape, veral saans, in hoogliggende areas weg van staande water aangehou word. Diere moet met dipmiddels teen vlieë en muskiete behandel word,” sê hy. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel dr Jan Blignaut by 083 449 4566 of dr De Wet Barnard by 014 717 5996.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here