Net toe rooivleisprodusente dink die bek-en-klouseer-uitbreking gee sy laaste rukbewegings, toe tree die COVID-19-inperking in werking. Die inperkingstyd het gelei tot ’n laer vraag na beesvleis (grootliks as gevolg van restaurante wat gesluit is). Die gevolge hiervan kon duidelik gesien word in karkaspryse wat gedaal het, terwyl die mielieprys hoog gebly het. Dít ten spyte van die verwagte naasgrootste mielie-oes op rekord.

Die sterk mielieprys is te danke aan die verswakkende wisselkoers. Al het die mielieprys dus in dollarterme verswak, het die prys in randterme redelik sterk gebly. Daarbenewens is die speenkalfprys afhanklik van onder andere karkas- en mieliepryse – en as gevolg hiervan lyk die markomstandighede redelik deurmekaar vir veeboere. Veeprodusente mag dalk herbesin of bestaande produksiestelsels op hulle plase nog die beste opsies vir hulle doeleindes is.

In dié artikel word gefokus op aspekte om in ag te neem wanneer verskillende produksiestelsels teen mekaar opgeweeg word. Die opsies vir produksiestelstels wat hierin voorgestel word, sluit ’n speenkalfproduksiestelsel, ’n osstelsel en ’n plaasvoerkraal in.

Elke produksiestelsel het sy eie stel voor- en nadele; daarom sal produsente deeglik ondersoek moet doen om te bepaal wat vir hulle sal werk. Hier word veral na die finansiële kant van hierdie stelsels gekyk.

Speenkalfproduksie

Speenkalfproduksie word tradisioneel deur die meerderheid van die land se beesboere beoefen. Voerkrale, wat sowat 70 tot 75% van ons land se beesvleis afrond, ondersteun hierdie stelsel. Die graderingstelsel pas ook goed by voerkraalafronding in, waar A-graadkarkasse die hoogste pryse behaal.

Omdat kalwers reeds op sowat sewe maande bemark word, loop die produsent vir ’n korter tydperk die risiko om kalwers te verloor aan diefstal of vrektes. Produsente sal waarskynlik ook minder kuddes op die plaas hê, wat die bestuur van dié tipe stelsel vereenvoudig.

’n Nadeel van die stelsel is die invloed wat verskeie faktore op die speenkalfprys kan hê. Omdat speenkalfprodusente groter troppe koeie aanhou wat deur die winter onderhou moet word, forseer dit hulle om kalwers voor die winter te verkoop. Dit gaan gewoonlik gepaard met ’n laer prys weens die hoër aanbod van kalwers in die mark.

Osproduksie

Indien osproduksie oorweeg word, sal dit beteken dat produsente hul koeikudde moet verklein om plek te maak vir die kalwers wat op die veld afgerond gaan word. Voordele van dié tipe stelsel sluit in dat die kudde tydens droogtes verklein kan word deur die diere wat afgerond word vroeër te bemark en sodoende die druk op die weiding te verlig, terwyl die kernkoeikudde behoue bly.

Dit is wel ’n langer produksiestelsel, wat beteken dat produsente vir ’n langer tydperk die risiko’s wat reeds genoem is, moet dra.

Plaasvoerkrale

Plaasvoerkrale se gewildheid neem gewoonlik toe ten tye van laer mielie-pryse. Voerkraalstelsels is wel meer kapitaalintensief as speenkalf- en veldafrondingstelsels.

Omdat ’n groot getal diere in ’n klein area geplaas word, moet meer gesondheidsrisiko’s bestuur word. Weens die intensiewe aard van voerkrale en die belangrikheid daarvan om die stelsels behoorlik te bestuur, is dit meer arbeidsintensief teenoor byvoorbeeld veldafronding, waar byvoeding nie noodwendig elke dag uitgesit hoef te word nie. Addisionele investering mag dalk ook nodig wees vir die oprig van ’n plaasvoerkraal.

Voordele van voerkrale is wel dat diere vinniger afgerond word. Voerkrale is ook minder vatbaar vir die effek van seisoenaliteit, wat dit moontlik maak om meer as een afrondingsiklus per jaar te bewerkstellig.

Oorweeg die geleentheidskoste

Indien oorweeg word om selfgeproduseerde mielies in ’n plaasvoerkraal te benut, moet boere die geleentheidskoste van die mielies en die speenkalf in ag neem. Met ander woorde, boere moet bepaal watter inkomste gegenereer kan word indien die mielies en speenkalwers direk bemark sou word.

Dit kan hanteer word asof die plaasvoerkraal die onderskeie insette by die verskillende vertakkings teen ’n realistiese, markverwante prys aankoop. Boere kan nie produksiekoste alleen in ag neem om te bereken of hulle meer waarde tot hul produk met ’n voerkraal sal kan toevoeg nie. Slegs indien verdere waarde teen markverwante pryse toegevoeg kan word, sal ’n plaasvoerkraal sin maak.

Dieselfde beginsel kan gebruik word indien veldafronding oorweeg word. Die koeikudde gaan egter kleiner wees, met die gevolg dat minder kalwers gespeen sal word. Die inkomste wat nou verlore gaan weens minder speenkalwers, moet dus teenoor die toegevoegde waarde van die swaarder, veldafgeronde diere opgeweeg word.

Rasgeskiktheid

Nie alle rasse sal ewe goed presteer onder voerkraal- of veldafrondingstoestande nie. Grootraamrasse vaar gewoonlik beter in voerkrale. Dié rasse begin eers op ’n latere stadium vet aansit, wat dit moontlik maak om hulle vir langer tydperke te voer. So kan daar meer waarde toegevoeg word op grond van vleis, sonder om die karkasgradering negatief te beïnvloed.

Rasse wat beter behoort te vaar in ’n veldafrondingstelsel, is die klein- tot mediumraam inheemse rasse. Omdat hulle vinniger begin vet neerlê, is hulle minder geskik vir voerkraalafronding onder normale omstandighede. Sommige van die inheemse rasse is ook geneig om later te wissel, wat produsente dan meer tyd gee om die diere markgereed te kry sonder om in te boet op ouderdomsgradering.

Bepalende omgewingstoestande

Die omgewingstoestande waarin daar geboer word, sal ook ’n invloed op die afrondingsopsies hê. Eerstens moet die diere in die omgewing aard en goed aangepas wees. Kleiner raam diere wat makliker beweeg, word gewoonlik gebruik om bergagtige weiding te benut. Dus sal boere met dié tipe weiding makliker kan oorskakel na veldafronding.

Veldafronding van diere, veral jong diere, sal makliker geskied in die somermaande, wanneer daar ’n oorvloed van sappige, groen gras met goeie voedingswaarde is. Boere sal dus moet besluit of hulle die koeikuddes se kalfseisoene daarvolgens gaan aanpas sodat die diere op ’n gepaste tyd vir afronding gespeen word, en of hulle dit kan bekostig om kalwers te oorwinter.

Die feit dat die gehalte van suurveld slegs vir vier tot vyf maande goed genoeg is om kalwers op uit te groei, sal ook in berekening gebring moet word. Vir soet- en gemengde veld kan die tydperk so lank as agt maande van die jaar wees. Verder verloor speenkalwers gewoonlik ook gewig op suurveldweidings gedurende die winter. Indien die veldafgeronde diere suksesvol bemark kan word as veldvleisdiere, sal dit vir die produsent ’n premie verseker.

Hoe lyk die somme?

Eerstens word die bruto inkomste van ’n speenkalfproduksiestelsel teenoor ’n osproduksiestelsel opgeweeg. Die aannames rakende die drakrag van die plaas en markpryse word in Tabel 1 aangedui en inligting met betrekking tot die speengewig, koeigewig, ensovoorts word in Tabel 2 getoon. Let op na die verskil in produktiewe koeie wat tussen die twee stelsels bestaan.

Tabel 1: Aannames in verband met die plaas en mark.

Plaasgrootte (ha)1 000
Drakrag (ha/GVE)6
Vervangingspersentasie15%
Persentasie bulle3%
Koeimortaliteit2%
Speenpersentasie85%
Uitslagpersentasie55%
SpeenkalfprysR30,58
Karkasprys A-graad (R/kg)R45,40
Karkasprys B-graad (R/kg)R41,22
Karkasprys C-graad (R/kg)R39,32

Tabel 2: Gewigte en getal diere.

ProduksiestelselAantal koeieKoeigewig (kg)Gewig van bemarkbare diere (kg)
Speenkalf101508218
Os66406

Volgens die gemiddelde markpryse wat tot en met die middel van Mei 2020 aangeteken is (Tabel 1), sal produsente ’n beter bruto inkomste verdien deur speenkalwers te bemark. Die bruto inkomste is 10,3% laer indien veldafgeronde diere teen A-graad pryse bemark word en 17% laer indien B-graad pryse verkry sou word.

Die voerkraalmodel van Mare, Nell en Willemse (2010) is gebruik om die moontlikheid van ’n plaasvoerkraal teen die huidige pryse te bepaal, teenoor dieselfde pryse as wat in Tabel 1 getoon word. Teen ’n mielieprys van R2 600/ton in ’n plaasvoerkraal waar 100 kalwers afgerond word, wys die voerkraal ’n wins van R15 342 per siklus, of R332 per kop per siklus. Dit is bereken teen ’n mortaliteitsyfer van 1,5%.

Deur mielies teen dié aannames in die plaasvoerkraal te benut, word daar R116/ton tot die waarde van die graan bygevoeg. Sodra die mortaliteitsyfer na 3% styg, daal die waarde wat tot die graan bygedra is na -R19/ton en die wins oor die hele groep diere wat afgerond is per siklus, verander in ’n verlies van R2 491.

Voor jy oorskakel

Elke produsent se omstandighede verskil en hul berekeninge mag anders lyk as wat hier getoon is. As ’n produsent besluit om oor te skakel en self sy kalwers af te rond, moet hy onthou om sy berekeninge daarvolgens aan te pas.

Omdat sy kalwers nou eers op ’n latere stadium bemark gaan word, sal dit stremming plaas op die produsent se kontantvloei, veral as daar vanaf ’n speenkalf- na ’n osproduksiestelsel oorgeskakel word. Die oorskakeling sal dalk in fases moet plaasvind, waarvolgens die kudde in derdes oorgeskakel word om die druk op kontantvloei te verlig.

’n Plaasvoerkraalstelsel sal makliker inpas by produsente wat reeds speenkalwers bemark. Die voerkraaldiere sal nie soseer meeding vir weiding soos in die geval van veldafgeronde diere nie. Onthou ook dat marktoestande voortdurend verander en aandag sal aan hierdie veranderinge gegee moet word wanneer besluite oor produksiestelsels geneem word.

Vir meer inligting of bronverwysings, kontak dr WA Lombard by LombardWA@ufs.ac.za.
– Deur dr WA Lombard en dr Frikkie Maré, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat, Veeplaas