Dele van die Noord-Kaap het goeie reën ontvang en veeboere is vol moed vir die winter wat voorlê, maar hulle is bekommerd oor hoe die veld later in die jaar kan lyk. Daar is ook dele wat nog nie genoeg reën ontvang het nie en dié veeprodusente is nog afhanklik van droogtehulp.

In ’n kitsopname deur streekverteenwoordigers van Agri Noord-Kaap is die volgende menings gegee:

Vaalharts

Christelle Stoman van die Vaalharts Landbou-unie sê weiding in die Vaalharts-gebied en Op-die-berg/Reivilo is tans normaal. Produsente sien kans vir die winter wat voorlê en glo daar behoort genoeg weiding beskikbaar te wees om deur die koue maande te kom.

Suidelike dele van die Noord-Kaap

Pieter le Roux, ondervoorsitter van die Noord-Kaap Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) en ’n boer van Fraserburg, sê die meer suidelike deel van die Noord-Kaap verwag ’n baie moeilike winter. Ramptoestande heers nog in die Fraserburg-, Williston-, Sutherland-, Loxton- en Carnarvon-gebied.

“Dit is nou die vierde jaar wat ondergemiddelde reënval aangeteken is en die vyfde jaar se reënseisoen verstryk reeks aan die einde van Mei. Vanjaar se reënval was tot dusver te min om ons deur die winter te dra. Ons het op 15 Januarie sowat 20mm reën gekry, ses weke later het nog 30mm uitgesak en twee weke later ’n verdere 10mm. Die bossieveld het goed gereageer op die reën, maar dit was te laat vir die grasveld.”

Hy het ook gesê die reserwekos op die veld is baie min. Baie van die bossies het nie die droogte oorleef nie, en sommige boere skat dat tussen 20% en 40% bosse dood is. Boere se kuddes staan tans op 60% en die besetting van ooie in die pas verstreke lamseisoen was maar sowat 50%.

Pieter sê ook dat veeboere se moraal en kontantvloei na vier opeenvolgende jare baie laag is. Hulle is egter dankbaar vir die droogtehulp wat deur die staat vir drie maande aan droogtegeteisterde gebiede toegeken is.

Britstown-omgewing

Attie Blomerus van Britstown sê die reën was vanjaar baie onegalig versprei, en dus is die veld se dekking maar skraps as gevolg van die droogte en laat somerreëns.

“Oor die algemeen het die bossieveld goed gereageer op die laat reën en is die veld gesond, maar die beeste sal na verwagting swaar trek in die winter. Goeie reën in die winter en lente kan nog die veld laat herstel,” het hy gesê.

Victoria-Wes

Trompie van Rensburg van Victoria-Wes sê die Sentraal-Karoo Landbou-unie se gebied, wat Victoria-Wes, Wagenaarskraal, Swaelfontein en Loxton insluit, verwag weidingsprobleme in die winter omdat die meeste gebiede baie min reën gehad het.

Hy sê sedert Januarie het die reën met gereelde tussenposes geval, maar te min op ’n slag om enige noemenswaardige uitwerking te hê. Daar was egter wel plase wat goeie reën gekry het.

“Die eerste werklik wydverspreide goeie reën het in die tweede week van April voorgekom. Dit het baie gebiede aansienlik verbeter, maar die reën was sag, met die gevolg dat daar te min afloopwater was om die damme vol te maak.

“Teen die middel van Mei het dit weer goed gereën, wat wel ’n verskil sal maak aan die winterweiding. Ons verwag dat die grootste gedeelte van die streek winterweiding sal hê, maar dit moet weer vroeg in die lente goed reën om probleme later in die jaar te voorkom.”

Kuruman

Deon Hoon van Kuruman sê hoewel die reën eers teen die einde van Januarie begin val het, was die verspreiding goed en het die veld bo verwagting goed gereageer.

“Aan die ooste- en suidekant van Kuruman was die neerslae bogemiddeld, maar aan die noordekant was dit 15% ondergemiddeld tot gemiddeld. Aan die westekant van Van Zylsrus het die reën baie laat gekom en daar is nie goeie vooruitsigte vir die winter nie.”

Hy het ook genoem dat produsente hul vee as gevolg van die laat reën verminder het, wat gaan help om die druk op weiding te verlig.

“Die weiding is vir dié tyd van die jaar in ’n optimale toestand, waarvoor ons baie dankbaar is. Ons is baie positief oor waar ons ons bevind,” het hy bygevoeg. – Koos du Pisanie