Na aanleiding van ’n kits-opname deur streeksverteenwoordigers van Vrystaat Landbou (Free State Agriculture) lyk dit asof die grootste gedeelte van die Vrystaat ’n relatief gunstige reënvalseisoen beleef het, en dat boere nie té bekommerd oor winterweiding is nie. Daar is egter duidelike uitsonderings, veral in die suidelike dele van die provinsie waar boere ’n ‘lang winter’ in die gesig staar.

 Dewetsdorp

Volgens Johan Fourie, streeksverteenwoordiger vir Streek 17, wat Dewetsdorp, Wepener en Vanstadensrus insluit, het hulle gebied sedert Januarie meer as 400mm reën ontvang. Rooigrasveld het uitstekend herstel en aangeplante droëlandgewasse is die beste in agt jaar. Die vee is in uitstekende toestand en parasiete onder beheer. Bloutong, vrotpootjie en knopvelsiekte het minimaal voorgekom.

Hy sê die spruite loop mooi en damme is vol. ’n Paar damwalle het egter gebreek. As gevolg van verstopte dreineringspype vir stormwater is paaie in ’n swak toestand. Nogtans is boere baie dankbaar vir ’n geseënde seisoen.

Geluksdam

Vanuit die Geluksdam-gebied suidwes van Bloemfontein berig Laurens Schlebusch (Streek 16) dat daar sedert 20 Januarie, toe die eerste reëns van die seisoen geval het, slegs 242mm ontvang is. Spruite loop nie en damme is leeg. Die grasveld het herstel maar is kort. Boere vrees vir ’n lang winter, maar vertrou dat laat reën die veld teen September vinnig sal laat uitloop.

Die ryp is laat en daar is baie muskiete. Wat gewasse betref, sê hy, lyk die sonneblomme baie goed, maar mielies wat droogte gekry het, is gemiddeld. Bloemfontein lei nog onder waterbeperkings met Rustfontein en Grothoek damme in sy opvanggebied nog minder at 60% vol.

Roadside

In Streek 1, wat Vrede, Warden, Roadside en Memel insluit, berig Daan Venter dat die omgewing baie nat en weidings goed is. Dis egter te nat om in sommige sojalande te stroop. Verskeie paaie is ook verspoel. Die reënseisoen staan reeds op 730mm en boere kan uitsien na ’n winter met genoegsame weiding.

Smithfield

Vanuit Streek 20, wat Rouxville, Smithfield en Zastron insluit, berig Cois van Rooyen ’n reënvalsyfer vir die seisoen van tussen 250 en 350mm. Die eerste reëns het op 20 Januarie geval, maar in die oostelike dele eers ná 14 Februarie. As gevolg van stortbuie loop die meeste spruite en damme uit. ’n Paar damwalle het ook in die slag gebly.

Die veld het goed herstel, maar in sommige dele is dit nog kort. Boere is bekommerd dat die winter lank gaan wees en hoop dat die laat reën sal veroorsaak dat die veld vroeg in September reeds sal uitloop. Die ryp is laat en die veld groei nog stadig. Daar is ook ’n groot aantal muskiete.

Wat gewasse betref, berig hy, is die groenvoer wat vroeg geplant is mooi. Daar is wel dele wat nie betyds geplant is nie, wat die lammery moeilik gaan maak. Sonneblom lyk goed, maar mielies wat droogte gekry het, is gemiddeld.

Dealesville

Vanuit die Boshoff-, Dealesville- en Hertzogville-gebied berig Willie Weich dat reënval in dié streek aansienlik gewissel het – van 150 tot 240mm na Kimberley se kant toe. Veld is oor die algemeen goed en die winter kan met vertroue ingegaan word. Dele wat groot brandskade gekry het, het ook redelik herstel maar het nog nie volle potensiaal bereik nie. Daarvoor is nog ’n jaar of twee se goeie reën nodig.

Die laat sonneblom is mooi, maar benodig nog so drie weke sonder ryp. Die mielie-oeste in die dele wat betyds reën gekry het, lyk eweneens goed. Daar is dele in die Hertzogville- en Hoopstad-omgewing waar min geplant is. In die geheel gesien, lyk toestande in die streek goed.

Vredefort

Vanuit die Ngwathe gebied van Heilbron, Parys, Koppies, Vredefort en Edenville berig Koot Naudé dat weidings baie goed lyk – dit is te danke aan goeie reënval in veral die na-seisoen. Grasweidings het goed herstel van die vorige droogte en aangeplante wintervoer lyk ook goed, danksy genoeg reën in Maart en die begin van April.

Reënvalpatrone in die streek was die afgelope seisoen nie dieselfde nie, en daar is damme wat nog nie vol is nie. Tog behoort watervoorsiening aan vee in die winter nie ’n probleem te wees nie. As gevolg van genoeg grondvog kry grasweidings se wortelstelsels kans om te herstel en reserwes op te bou.

Graangewasse lyk ook goed, met hier en daar haelskade. Die effek van ’n baie droë en warm Januarie is ook plek plek waarneembaar. Daar is egter genoeg lande vir winterweiding.

In swakker dele wat swaargekry het tydens die afgelope droogte is indringerplante soos katbos, slangbos en doringbome besig om toe te neem. Chemiese bestryding is die effektiefste, maar baie duur. Minderwaardige grastipes maak ook hulle verskyning.

Oor die algemeen lyk streek 8 baie goed en heers daar dankbaarheid vir ’n goeie somer. Dit is egter belangrik dat voorsorgmaatreëls getref word om veldbrande gedurende die komende winter te voorkom. Elke boer en sy/haar werkers moet hulle vergewis van die brandbestrydingsmaatreëls in die betrokke gebied.

Kroonstad

In die Moqhaka-gebied van Steynsrus, Kroonstad en Viljoenskroon berig Boy Saaiman dat winterweidings in orde lyk en dat reënvalsyfers in lyn is met die gebied se tradisionele gemiddeldes. Daar staan goeie oeste op die lande, wat beteken dat goeie oesreste beskikbaar sal wees vir winterweiding. Die wêreld is nat.

As gevolg van onvoldoende reën gedurende die tradisionele planttyd in die oostelike dele – Steynsrus-omgewing – is aanplantings laat gedoen. Die gewasse benodig sowat twee weke sonder ryp. Oor die hele streek is beide weidings en oeste goed to bo-gemiddeld.

Dis nou belangrik, beklemtoon hy, dat brandpaaie op datum gebring word, aangesien die veld geil is met baie brandbare materiaal.

 Brandfort

Vanuit Streek 14, wat Brandfort, Winburg, Verkeerdevlei en Theunissen insluit, berig Willie Maas dat boere baie dankbaar is vir goeie reëns wat sedert die begin van Maart geval het. Die hele streek het goeie reën gekry, met dele wat meer as die langtermyn gemiddeld gekry het. Op sy eie plaas het hy sedert Maart meer as 200mm gehad, en ’n dam op ’n wildsplaas loop vir die eerste keer in elf jaar oor. Tussen Brandfort en Theunissen is daar plekke wat meer as 300mm gehad het.

Reënval het gewissel van harde buie tot sagte reën wat vir ’n paar dae aangehou het. Die watertafel word hopelik hierdeur aangevul. Grasvelde lyk goed en die rooigras staan pragtig in saad. Daar behoort genoeg weiding reg deur die winter te wees. Willie is egter lugtig vir veldbrande gedurende Augustus en September.

Gesaaides lyk goed, veral sonneblom, sê hy, en hulle is dankbaar vir die afgelope week se sonskyn sodat daar nog groei kan plaasvind.

Ficksburg

Die verslag vanuit Streek 3, wat Ficksburg en Clocolan insluit, is dat daar ongeveer 300mm reën sedert Januarie geval het. Volgens Friedl von Maltitz is die veld pragtig en kon daar in die meeste dele ’n laat snysel eragrostishooi afgehaal word. Die kampe wat oorbewy was, het nog nie herstel nie, maar oor die algemeen behoort vee mooi deur die winter te kom. Ryp is ook laat, wat die diere help.

 Petrusburg

In Streek 18, Letsemeng, wat Jacobsdal en Petrusburg insluit, berig Kempen Nel dat die veld mooi is, met baie steekgras. Haarwurm en knoppiesvel is ’n bekommernis. Boere is egter oor die algemeen meer positief.

Kalkfonteindam is net 35% vol, en ’n klein kwota water word wel deurgegee. Boere vertrou dat die ryp nog ’n rukkie sal wegbly.

Frankfort

Oom Manie van Rooy van Streek 6  (Frankfort, Cornelia, Villiers en Tweeling) sê die streek het vanuit ‘n natuur-oogpunt ‘n goeie jaar gehad; die weiding is mooi, hulle het nog nie ryp gekry nie en oor die algemeen  is die gemiddelde opbrengste goed. Waar hulle wel sukkel is met die stroop van die soyas en die mieliepryse wat vanjaar baie swak is. – Izak Hofmeyr, Veeplaas