Wêreldrekordprys vir sybokhaar spat

1590
By die rekord vir kleinbokkiehaar is Pierre van der Vyver (bestuurder: Sybokhaar) en Gerrit Fourie (koper: Stucken), asook Gay van Hasselt (verkoper) en Matthew Fox (afslaer).

Die sybokhaarbedryf is onder geweldige druk. Dit word hoofsaaklik veroorsaak deur die mees vernietigende droogte op rekord waarvoor daar steeds geen einde in sig is nie, asook boere se stryd om hul diere te versorg onder sulke moeilike omstandighede, en die gepaardgaande finansiële impak. Enige goeie nuus vanaf die markplek is dus soos ’n welkome bui reën!

Read it in English. 

Op die spesiale Ermenegildo Zegna kompetisie-veiling, waar die beste baal somer kleinbokkiehaar in die wêreld bepaal word, het die wêreldrekordprys vir sybokhaar vyf keer gespat in ’n kwessie van minute.

By die rekord vir grootbokhaar is Pierre van der Vyver (bestuurder: Sybokhaar) en Charles Fitzhenry (verkoper).

Na sterk kompetisie tussen die twee groot plaaslike verwerkers van bokhaar, is die bod toegeslaan op die Stucken groep teen R1 246,10/kg vir die baal. Dié besonderse baal is gelewer deur ma-en-seun span Gay en Jordi van Hasselt van die Prins Albert distrik. Die Van Hasselt’s is bekende Angorabok-stoettelers en die wenners van ’n string internasionale toekennings vir hul besonderse skeersels.

Dié prys is deur nog ’n wêreldrekordprys opgevolg op die Cape Mohair and Wool (CMW) veiling. CMW is die veselafdeling van die OVK groep van maatskappye en is die grootste makelaar van sybokhaar ter wêreld. Die rekord is dié keer betaal vir ’n baal grootbokhaar van Charles Fitzhenry van die Aberdeen distrik teen R360/kg. Charles het ook ’n rekord opgestel vir die beste gemiddeld ooit vir ’n totale skeersel teen R404,66/kg.

Sybokhaar van gehalte

Volgens Pierre van der Vyver, bestuurder van CMW se sybokhaarafdeling, is die goeie pryse veroorsaak deur ’n sameloop van omstandighede. Die huidige droogte veroorsaak dat die skeersel fyner en sagter raak, en dan natuurlik ook duurder. Dit tesame met ’n uitstekende mode aanvraag van dwarsoor die wêreld na sybokhaar en ander volhoubare natuurlike vesels.

Van der Vyver sê ook dat dit boekdele spreek van die gehalte van die genetiese materiaal van die Suid-Afrikaanse bedryf om onder droogte-toestande steeds haar van gehalte te produseer. Suid-Afrikaanse boere is bekend vir die teel van die beste gehalte Angorabokke ter wêreld. – Persverklaring