Arbeidswetgewing in Suid-Afrika stel streng vereistes waaraan werkgewers moet voldoen. Enige versuim om hierdie verpligtinge na te kom, kan ernstige gevolge vir die werkgewer én werknemer inhou.

Sedert die nasionale ramptoestand op 15 Maart 2020 afgekondig is en die daaropvolgende vlakke van inperking in werking getree het, het dit aan die lig gekom dat talle werkgewers nie aan die bepalings van die Wet op Werkloosheidsversekering (Wet 63 van 2001) voldoen nie. Dit het daartoe gelei dat werknemers nie die werkloosheidsvoordele van die COVID-19 TERS (temporary employer relief scheme) kon eis nie.

Die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) bied korttermynverligting aan werkers en bepaal watter werkloosheids-, kraam-, siekte- en aannemingsvoordele asook voordele vir afhanklikes betaalbaar is.

Wie dra by tot die WVF?

Werkgewers moet werkloosheidsversekeringsbydraes ten bedrae van 2% van die waarde van elke werker se maandelikse salaris betaal. Die werkgewer en die werknemer betaal elk 1%. Die bydraes word aan die WVF of die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) betaal.

Die Wet op Werkloosheidsversekering en die Wet op Werkloosheidsversekeringsbydraes (Wet 4 van 2002) is van toepassing op alle werkgewers en werknemers, uitsluitend die volgende werkers:

  • Werkers wat minder as 24 uur per maand vir ’n werkgewer werk.
  • Leerders in diens geneem in terme van die Wet op Vaardigheidsontwikkeling (Wet 97 van 1998).
  • Staatsamptenare.
  • Buitelanders wat op kontrak werk en by verstryking daarvan gerepatrieer word.
  • Werkers wat slegs kommissie verdien.

Watter voordele kan geëis word?

Werkloosheidsvoordele: Indien ’n werknemer sy/haar werk verloor, moet hy/sy binne ses maande nadat hy/sy werkloos gelaat is, om werkloosheidsvoordele aansoek doen. ’n Werknemer wat tot die WVF bydra is op een dag se voordeel vir elke vier voltooide dae se indiensneming geregtig, tot ’n maksimum van 365 dae vir elke vier voltooide jare van indiensneming. Die bedrag wat geëis kan word, word op ’n glyskaal tussen 38 en 60% bereken. ’n Werknemer sal nie op ’n uitbetaling gelykstaande aan die volle maandelikse vergoeding geregtig wees nie.

Die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) bied korttermynverligting aan werkers en bepaal watter werkloosheids-, kraam-, siekte- en aannemingsvoordele asook voordele vir afhanklikes betaalbaar is.

Voordele vir korttyd of verminderde werksure: Werknemers is geregtig daarop om voordele by die WVF te eis vir die verskil in vergoeding wat normaalweg ontvang word en die vergoeding wat vir die verminderde ure gewerk ontvang word.

Siektevoordele: ’n Werknemer kan siektevoordele eis as hy/sy weens siekte nie kan werk nie, maar die tydperk van die siekte moet meer as 14 dae wees. Die bedrag wat geëis kan word, word op ’n glyskaal tussen 38 en 60% bereken.

Kraamvoordele: ’n Vroulike werknemer wat swanger is, is op 17 weke (121 dae) se kraamvoordele geregtig. ’n Werknemer wat gedurende die derde trimester ’n miskraam het, is op ’n maksimum kraamvoordeel geregtig vir ses weke na die miskraam. Die bedrag wat geëis kan word, word op 66% van die werknemer se vergoeding bereken.

Ouerlike/aannemings-/opdraggewende ouerlike voordele: ’n Werknemer wat ’n ouer van ’n kind wat gebore word is, maar nie op kraamvoordele geregtig is nie, kan ouerlike voordele vir ’n tydperk van tien dae eis. ’n Werknemer wat ’n kind aanneem sal op ouerlike of aannemingsvoordele geregtig wees. Aannemingsvoordele kan vir ’n tydperk van tien weke geëis word.’n Werknemer wat ’n opdraggewende ouer in ’n surrogaatmoederskapsooreenkoms is, kan óf opdraggewende ouerlike voordele van tien weke óf ouerlike voordele eis.

Voordele vir afhanklikes: Die oorlewende gade of lewensmaat van ’n oorlede werknemer is op die voordele geregtig indien die aansoek binne 18 maande na die werknemer se dood gemaak word. Enige afhanklike kind van ’n oorlede werknemer is op die voordele vir afhanklikes geregtig indien daar nie ’n oorlewende gade of lewensmaat is nie, of die oorlewende gade of lewensmaat nie binne 18 maande na die werknemer se dood om die voordele aansoek gedoen het nie. – Christo Bester, LWO