Werkswinkel verf ‘n gemengde prentjie vir landbouvooruitsigte

142
Johan van der Berg, Santam Landbou en prof Johan Willemse. Twee van die sprekers by vanjaar se landboumarkvooruitsigte-werkswinkel wat in Augustus in Bloemfontein gehou is.

“Ekonomiese tye wat voorlê hou baie onsekerheid in, maar dit gaan darem nie ‘n vervelige tydperk wees nie.” So het prof Johan Willemse aan teenwoordiges gesê by sy landboumarkvooruitsigte-werkswinkel in Bloemfontein. 

Tot dusver was 2019 nie een van die beste ekonomiese jare nie. Met ekonomiese groei van 0,5% tot 0,8%, skokkende werkloosheidsyfers, hoë regeringskuld en ʼn swak wisselkoers, blyk dit asof dinge nie vinnig gaan verander nie, het hy onder andere gesê.

Normale reëvalseisoen verwag

Volgens Johan van der Berg, ʼn weerkundige by Santam Landbou, sal die plantseisoen ʼn normale reënvalseisoen beleef en is daar maar ‘n 30% kans dat ʼn El Niño sal voorkom. “Alhoewel dit ʼn normale seisoen gaan wees, moet boere steeds goeie insetbeplanning doen,” het Willemse gemaan.

Die swak wisselkoers sal ‘n daling in brandstof- en kunsmispryse verhoed en daarmee saam word minder sojaboonaanplantings verwag as gevolg van die handelsoorlog tussen China en Amerika, wat stremming op die prys plaas.  ʼn Verhoging in die vraag na veevoer sal ʼn verhoging in die vraag na mielies meebring. Alle aanduidings is dus dat daar hierdie seisoen meer mielies geplant gaan word.

Impak van veesiektes

Die afgelope drie jaar het die veebedryf swaar gebuk gegaan onder veesiektes, maar steeds het die bedryf en sy pryse goed herstel. China bevind hulself in ʼn moeilike situasie met die huidige uitbreking van varkgriep en daar word verwag dat dit vleisuitvoere vanaf Suid-Afrika kan stimuleer. Volgens prof Willemse kan die daling in beespryse toegeskryf word aan die bek-en-klouseeruitbreking vroeër vanjaar, toe die plaaslike mark uitvoervleis van 3 000 ton moes absorbeer.

Die verhoogde mielieprys het ook bygedra tot die verlaging van speenkalfaankooppryse. Prof Willemse glo dat speenkalfpryse hierdie komende Desember tussen R25 en R30 per kilogram sal verhandel. Die hoë slagsyfers in Namibië en Botswana weens droogte, kan egter ‘n invloed daarop hê.

Suid-Afrika se skaapbedryf ondergaan tans verandering met al hoe meer boere wat hulle na intensiese stelsels wend. Dit kan vorentoe ‘n invloed op skaappryse hê. Volgens prof Willemse sal klas A-karkasse in Desember tussen R68 tot R70 per kilogram verhandel.

Die wolveilings wat binnekort hervat kan hierdie pryse verander. Daar word verwag dat voerpryse sywaarts gaan beweeg en nie sommer goedkoper sal word nie. Dié pryse hang egter af van mielie-oeste.

Hoop vir die toekoms

Alhoewel huidige ekonomiese omstandighede teen die landbou inwerk, is daar hoop. Volgens BFAP kan die vraag na veeprodukte in Suid-Afrika met ongeveer 20% groei in die volgende paar jaar. Dit, tesame met die groeiende uitvoermark, kan baie voordele inhou vir die Suid-Afrikaanse landboubedryf. Willemse het ter afsluiting gemaan dat boere minder moet fokus op drama, detail en probleme en eerder moet aandag gee aan die positiewe boodskappe.  – Mario van den Heever, Universiteit van die Vrystaat