‘n Ses-en-dertig-jarige eierprodusent van Plettenbergbaai, is die Agri Wes-Kaap Santam Landbou Jongboer van die Jaar vir 2019.

Johan van der Schyff

Johan van der Schyff is op Woensdagaand, 22 Mei, tydens ‘n geselligheid in Durbanville as die wenner aangewys. Hy sal later vanjaar om die titel van Agri SA Toyota SA Nasionale Jongboer van die Jaar meeding.

‘n Veelsydige boerdery

Johan boer al 18 jaar op die plaas JJ van der Schyff en Seuns met angoras, merinos, stoetvee en lamvoerkrale. Die grootste vertakking is egter die eierproduksie-eenheid wat sy pa in 2000 met 100 000 henne begin het, toe Johan in matriek was. Hy het in 2001 by sy pa oorgeneem en die plaas se kapasiteit na 220 000 lêhenne uitgebrei.

In 2006 het Johan die tweede plaas, wat ‘n duplikaat van die eerste een is, in Humansdorp met vier hokke gevestig. Vandag is daar elf hokke met 250 000 lêhenne op dié plaas. In 2012 het hy ‘n eierverspreidingsdepot in Kraaifontein begin vanwaar een miljoen dosyn eiers per maand versprei word. Hy voer ook eiers na Angola en Namibië uit. Johan slag ook 1 500 lammers per maand uit die voerkrale wat hy in 2000 op Humansdorp begin het.

Volgens die beoordelaars het die besigheid onder Johan se beheer meer as verdriedubbel en het hy seker gemaak dat hulle die ekonomie van skaal-voordele kan benut. Die streng fokus op kwaliteit en diens aan sy kliënte het die beoordelaars ook beïndruk.

Indrukwekkende deelnemers

Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê die feit dat vanjaar se ses deelnemers uitsonderlike presteerders in uiteenlopende bedryfsvertakkings is, dui op hoe sterk die jongboere in die Wes-Kaap se landbousektor staan.

“Al ses deelnemers het gewys dat hulle geleenthede aangryp en dat hulle oor die intellektuele kapitaal beskik om suksesvolle boerderyondernemings te bestuur. Hulle is beslis een van dié sektor se grootste bates en ware ambassadeurs vir die landbou,” sê Strydom.

Agri Wes-Kaap wens Johan baie geluk met die groot eer om as Jongboer van die Jaar vir die Wes-Kaap aangewys te wees.

Boer slimmer

Johan sê sy prioriteit is nie om groter te boer nie, maar om slimmer en meer doeltreffend te boer. Johan het sy pa tydens die geleentheid bedank vir die liefde wat hy vir landbou by hom gekweek het. “Nou wil ek die plaas vestig as die voorkeur eierverskaffer in die Wes- en Oos-Kaap,” sê hy. – Persverklaring