Niemand moet dink die Wes-Kaap is na die 2019-reënseisoen uit die moeilikheid uit nie, sê Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap. Strydom sê vanjaar se winterreën was weer ondergemiddeld en nie genoeg om die landbou uit sy droogtetoestand te kry nie.

Reënseisoen kom tot ‘n einde

Hy sê die reënseisoen is verby, met min vooruitsigte vir nog noemenswaardige reën. Die reën van die afgelope naweek was feitlik net teen die kus af met baie min en wisselvallige reën in die gebiede waar landbouers vir goeie neerslae duim vasgehou het.

In die kritieke droë Oudtshoorn-omgewing en Kannaland-distrik, het produsente tussen 3mm en 15mm gemeet, in die Laingsburg-, Prins Albert- en Merweville-omgewing tussen 4mm en 5mm, in die Beaufort-Wes-omgewing tussen 2mm en 5mm, en in die Bergrivier- en Saldanha-streek gemiddeld 2mm.

Plaasdamme gaar stof op

Plaasdamme bly leeg en Strydom sê die landbou kan hom gereed maak vir nog ‘n moeilike seisoen, met besproeiingsdamme wat skaars 50% vol of dolleeg is, en weiveld in die ekstensiewe gebiede wat nie genoeg reën gekry het om te kan begin herstel nie.

Die Brandvlei-dam, wat ‘n groot landbougebied bedien en krities vir die besproeiing van boorde en wingerde is, staan op 53,8%, die Poortjieskloofdam, wat vrugte- en wynprodusente in die Kannaland-gebied vir besproeiing nodig het, staan op 0,2% en die Keeromdam wat produsente in die Koo- en Nuy-vallei vir besproeiing nodig het, op 16,7%.

Agri Wes-Kaap voor in die tou met droogtebystand

Die damvlakke van die Kammanassiedam (2%) en die Stompdriftdam (7,4%) wys duidelik op die enorme krisis waarin produsente van Klein-Karoo hulle bevind. Produsente het dié damme nodig om onder meer lusern en uie- en lusernsaad te besproei en vir water vir vee.

Agri Wes-Kaap gaan voort om droogtehulp aan veeprodusente te lewer, en die Agri Wes-Kaap Droogtehulpfonds gaan ook nou vir humanitêre hulp aan produsente en hul plaaswerkers in die droogtegeteisterde gebiede aangewend moet word. – Persverklaring, Agri Wes-Kaap