Wes-Kaapse produsente het die afgelope week tonne varsprodukte geskenk om noodledigingsorganisasies by te staan wat gemeenskappe help wat tydens die Covid-19 inperkingstydperk voedselnood ervaar.

Die uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, Jannie Strydom, sê die land gaan binne die volgende paar weke te doen hê met talle gemeenskappe wat nie weet waar hul volgende bord kos vandaan gaan kom nie. Hy sê landbouprodusente het begrip vir die humanitêre krisis wat in dié tydperk kan ontstaan.

Boere en werkers bedank

“As een van die belangrikste rolspelers in die Wes-Kaap, aanvaar die landbousektor sy kritiese rol in die welstand van die provinsie en al sy inwoners. Die skenking van varsprodukte is ons bydrae om ons gemeenskappe in hierdie baie moeilike tyd by te staan en om ’n verskil in mense se lewens te maak,” het hy gesê.

Strydom het landbouers en plaaswerkers bedank wat tydens die inperkingstydperk steeds voortgaan om kos te produseer. Hy het ook die Wes-Kaapse Departement van Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning bedank vir hul rol om voedselskenkings en verligtingsprojekte te koördineer. – Persverklaring, Agri Wes-Kaap