Die Wes-Kaap het weer vanjaar koning gekraai by die Old Mutual Insure Agri Nasionale Jeugskoukampioenskap, wat van 22 tot 25 September in Vryburg plaasgevind het. Die Jeugskoukampioenskap het vanjaar vir die 20ste keer plaasgevind en die Wes-Kaapse span het vir die 14de agtereenvolgende jaar met die louere weggestap.

Die wenspan het uit 95 leerlinge van twaalf Wes-Kaapse skole bestaan. Dié leerlinge het in twaalf kategorieë geskou en 267 punte vir hul provinsie aangeteken. Die Noordwes-provinsie was tweede met 138 punte, terwyl die Vrystaat derde geëindig het met 76 punte.

Oudlegendes onthou by Jeugskou

Piet de Villiers en sy vrou, Anna, is tydens die openingseremonie vereer vir hul bydrae tot jeugskoue die afgelope 20 jaar. Piet het ’n groot rol in die totstandkoming van jeugskoue gespeel en dit help groei tot die uitmuntende kompetisie wat dit vandag is.

’n Minuut van stilte is ook gehou vir twee jeugskou-legendes wat vanjaar oorlede is. Hulle is Borsie Strydom, ’n legendariese Boerbokbeoordelaar en -afrigter, en Ben Hall, wat vir jare die voorsitter van die Wes-Kaap Pluimveeklub was. Ben was ook ’n bestuurslid van die Wes-Kaap Jeugskou, ’n erelid van die Suider-Afrikaanse Skoupluimvee-organisasie (SASPO) en ’n jeugskou-beoordelaar. – Michelle Verster, AgriOrbit

Prysuitdelingsfunksie

Algemene foto’s

Vir meer inligting, skakel Breyton Milford by 082 708 5939 of stuur ’n epos aan breyton@agriexpo.co.za.