Wes-Kaapse jongboere hou aanlynkongres

709

Agri Wes-Kaap se Jongboer Jaarkongres is op 1 Oktober aanlyn aangebied. Die kongres, met die tema ‘Klein veranderinge, groot impak’, kon weens die inperkingsregulasies nie in Mei, soos oorspronklik beplan, plaasvind nie.

PF Theron, voorsitter van die Agri Wes-Kaap Jongboerkomitee, het gesê dat COVID-19 die landbousektor voor baie uitdagings te staan gebring het, maar dat die Wes-Kaap se jongboere die stem wil wees wat unieke oplossings vind. “Daarom is dit vir ons as die Jongboerkomitee ook belangrik om betrokke te wees waar ons kan om nuwe en goeie leiers vir die toekoms te vestig,” het hy gesê.

Jacques Celliers, uitvoerende hoof van die kongres se hoofborg, FNB, het gesê klein veranderinge wat ’n groot impak op ’n onderneming kan hê begin soms met eenvoudige goed, soos om werklik na die behoeftes van die gemeenskappe wat ons bedien te luister. Hy het gesê die landbou se status as ’n noodsaaklike diens is duidelik tydens die inperking gedemonstreer en dat die landbou moet voortbou op sy reputasie as ’n sektor waarop die land in die toekoms kan vertrou. 

Nuwe denke en kreatiwiteit nodig vir toekomstige sukses

Dr Morné Mostert, direkteur van die Instituut vir Toekomsnavorsing aan die Universiteit van Stellenbosch, het gesê hoewel almal bewus is van die huidige wêreldwye krisis, is hoe jy oor jou reaksie daarop dink, een van die sleutels wat gaan bepaal of die uitkoms vir jou sukses of mislukking gaan inhou.

Volgens hom is mense “onophoudelik nuuskierig” en stel hulle belang in kreatiewe produksie wat met ’n behoefte aan doeltreffendheid gebalanseer word. Hy het gesê dit sluit mense se behoefte om te leer in en het jongboere aangemoedig om hul onderskeie netwerke toe te laat om ’n kreatiewe produktiewe bydrae tot die omgewing waarbinne hulle funksioneer, te lewer.

In haar aanbieding het Annaline Smith die voordele en gebruike van die Fruitlook-program verduidelik. Smith, ’n tegniese afrigter by Blue North, wat die Fruitlook-platform in die Wes-Kaap implementeer, het verduidelik dat die program ten doel het om produsente met bykomende inligting toe te rus om meer volhoubaar te boer en by te dra tot verbeterde hulpbronbestuur, produksie en doeltreffende watergebruik. Hoewel die naam na vrugte verwys, het sy gesê, hou die program voordele vir enige landbouproduksie in.

Klein treëtjies loop op groot dinge uit

Die Wes-Kaap se 2019 Jongboer van die Jaar, Johan van der Schyff, het ook die kongres toegespreek. Hy het gesê jongboere moet altyd probeer verbeter op dit wat hulle doen. “Moet nooit terug sit en dink alles loop in plek of alles is reg nie. Skaaf daaraan. Moet nooit te min van jouself dink nie. Moenie jouself met ander boere vergelyk nie. Dit gaan nie oor hoe groot jy boer nie, maar oor hoe doeltreffend en eerlik jy boer.” 

Dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, het gesê dit is klein goedjies wat ewe maklik tot sukses of mislukking kan lei. Hy het produsente aangeraai om na die klein dingetjies wat eie aan hul boerdery is om te sien, soos ’n hek wat skeef hang of ’n werker wat op ’n dag nie hom- of haarself is nie.

Die kongres in ‘n neutedop

Dr Ivan Meyer het gesê die Wes-Kaapse Departement van Landbou glo ook dat klein veranderinge ’n groot, positiewe impak kan maak en het na die departement se boeredae verwys wat tydens die COVID-19-inperking baie suksesvol aanlyn aangebied is.

“Dit is in lyn met ons filosofie om die landbousektor gereed te maak vir die Vierde Industriële Revolusie,” het Dr Meyer gesê. – Persverklaring, Agri Wes-Kaap