Wes-Kaapse kanolabedryf floreer

0

Estimated reading time: 4 minutes

Die kanolabedryf in die Wes-Kaap beleef tans ’n bloeitydperk en het verlede jaar goeie oeste opgelewer. Die totale 2020-oes het 165 000 ton beloop met pryse van tot R7 000/ton.

Andries Theron, voorsitter van die Proteïennavorsingstigting.

Andries Theron, voorsitter van die Proteïennavorsingstigting (PNS), sê die 2021-seisoen het baie goed begin. “Die Wes-Kaap het ’n ongelooflike seisoen sover. Ons is geseënd met milde reën en het die beste ontkieming in jare gehad. Tydens die afgelope 10 jaar het ons daaraan gewoond geraak om alles in droë grond te plant en dan tot Junie vir die reën te wag.

“Goeie reën aan die begin van die seisoen is altyd ’n positiewe faktor. Hoe vroeër die seisoen begin, hoe beter vir die produksie van kanola. Navorsing wys ’n daaglikse toename van 1,5% in opbrengs.”

Theron sê daar is vanjaar byna 20 000ha meer kanola as in 2020 geplant. Die totale aanplanting volgens die eerste oesskatting is meer as 95 000ha.

Volgens hom het kanola homself oor die jare bewys. Net soos koring, gars en lupiene, is daar ook plek vir kanola in die produkmandjie van die Wes-Kaapse graanboer. “Kanola vaar nie orals ewe goed nie en daar is plekke waar ons ’n alternatiewe gewas nodig het, soos lupiene of keker-ertjies.”

Markgeleenthede

Theron sê daar is groot markgeleenthede vir kanola in die Wes-Kaap. Wes-Kaapse veeboere voer elke jaar sowat 340 000 ton oliekoek in as proteïen vir dierevoer. ’n Deel van die invoer kan deur kanola-oliekoek gevul word.

“Vir my as primêre graanprodusent in die Moorreesburg-area van die Wes-Kaap, is daar ’n geleentheid om in dié mark te deel. Dit is hoekom ons, die PNS, na kanola kyk as ’n bron van proteïen vir dierevoer en nie soseer na kanola as olie vir menslike gebruik nie.

“Ons moet deel in die 340 000 ton, al moet ons koringproduksie ’n bietjie minder maak. Die Wes-Kaap is, wat koringproduksie betref, in ’n posisie van oorproduksie en ons kry nie werklike prysontsluiting nie. Dit sal nie net tot voordeel vir die Wes-Kaapse graanboer wees nie, maar ook vir die Suid-Afrikaanse (SA) ekonomie.”

Theron sê as jy na SA in geheel kyk, is dit duidelik dat sojabone met rasse skrede in die noorde toeneem. Die jongste oesskatting wys ’n totale sojaboonproduksie van 1,9 miljoen ton. Dit beteken die noorde is vinnig besig om nader aan selfvoorsienendheid vir oliekoek as proteïen vir dierevoer (wat ’n fokus van die PNS is) te beweeg.

“Dit kan meebring dat die noordelike produsente vorentoe met hul oorskot oliekoek op die Wes-Kaapse mark fokus. Daarom moet die Wes-Kaapse kanolaprodusente seker maak hulle deel in die mark. In terme van die ekonomie, wins en volhoubaarheid maak dit sin.”

Theron sê die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) se scenario-modelle wys dat die grootste inkomste (wins) deur uitvoer gegenereer word. “Ons moet dit in gedagte hou. Miskien moet ons ’n bietjie weg beweeg van proteïen vir dierevoer, wat die PNS se fokus is.”

’n Produk soos kanola-olie vir menslike gebruik hou dalk groter moontlikhede in. “Ons moet kyk na die volhoubaarheidsmodel van boere op plase. Wat moet ek vandag produseer om more weer te kan produseer?”

Volhoubaarheid

Theron sê volhoubaarheid is waaroor landbou gaan. Maak nie saak waar en waarmee jy boer nie, jy moet ’n volhoubare model skep. “Die ironie is dat van ons ouer boere sal sê dat dit baie maklik is om geld te maak. Jy moet net sorg dat jou inkomste meer as jou uitgawes is. Vandag se dilemma is dat jou inkomste Covid-19 gekry het, en die uitgawes kunsmis en baie reën gekry het. Ons moet dus mooi kyk waarmee ons besig is.”

Theron is bekommerd oor die volhoubaarheid van die Wes-Kaapse koringbedryf, wat primêr een van die Wes-Kaap se grootste bron van inkomste is. “Hoewel SA minstens die helfte van sy koringverbruik invoer, is die invoer hoofsaaklik van die Rooiseelande en daar is geen manier wat ek as primêre koringprodusent met hierdie mense kan meeding nie. Hul insette is doodeenvoudig baie laer as ons s’n.”

Dit is hoekom oliesade (kanola) ’n wesenlike alternatief raak. “Ons het toegang tot die beste kultivars in die wêreld en ’n goeie verhouding met die saadmaatskappye om die beste kultivars so gou as moontlik in die land te kry.”

Winsgewendheid van kanola

Die pryse wat Wes-Kaapse kanola-boere ontvang is afgelei van die wêreldpryse van olie vir menslike gebruik en oliekoek vir dierlike gebruik. “Die afgelope seisoen het ons ’n prys van R6 500 tot R6 700/ton gerealiseer en ons hoop vir ’n agterskot wat die prys verder kan aanvul.”

Die wêreldmarkte wys dat kanola kan pryse van R7 000/ton in SA realiseer. “Teen hierdie pryse en ’n billike opbrengs van 1,8 tot 2 ton/ha en hoër, kan Wes-Kaapse graanboere beslis winsgewend met kanola boer,” sê Theron. – Hugo Lochner, AgriOrbit