Van links is Arnold Minnie, voorsieningsbestuurder by Freshmark (Shoprite), hoofborg van die kompetisie, Joyene Isaacs, hoof van die Wes-Kaapse Departement van Landbou, Hermanus Bienas, 2017 se Wes-Kaapse landbouwerker van die jaar, Isaac Ntoto, die 2018-wenner, Beverley Schäfer, Wes-Kaapse minister van ekonomiese aangeleenthede, en Alan Winde, Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid.

’n Tegniese bestuurder by Garden of Eden Berries in Mosselbaai, Isaac Ntoto, is pas as die Wes-Kaap se landbouwerker van die jaar aangewys. Die geleentheid is deur die Wes-Kaapse regering en Shoprite aangebied.

Read it in English. 

Ntoto, ’n gegradueerde van die Nelson Mandela Universiteit, werk al meer as twee jaar op een van Garden of Eden Berries se vyf plase en is onlangs van sy internskap tot toesighouer en tegniese bestuurder bevorder. Hy hou toesig oor talle tegniese aspekte op die plaas, van grondanalises tot geïntegreerde pesbeheer. Hy is ook betrokke by die werwing van nuwe personeel.

Hy het sy toekenning tydens die 2018 Prestige Agri-toekenningsfunksie by die Nederburg-landgoed ontvang. Dit volg nadat hy vroeër vanjaar as die Tuinroete se streeksplaaswerker van die jaar aangewys is.

Garden of Eden Berries vorm deel van Professional Horticultural Consulting, ’n maatskappy wat in bessieverbouing spesialiseer. Die Garden of Eden-handelsmerk is die grootste uitvoerder van aarbeie in Suidelike Afrika. – Persverklaring