Die aanhou van vee is een van daardie boerdery-aktiwiteite wat vanuit twee oorde deur wetgewing beperk word. Aan die een kant is dit die ongeskrewe wette van die natuur, want indien weiding as natuurlike hulpbron op ’n plaas nie na behore bestuur word nie, of wanneer dieresiektes nie voorkom of dadelik behandel word nie, kan die uiteinde vernietigend wees.

Read it in English

Tweedens beskik Suid-Afrika oor besonderse goeie wetgewing om hierdie kwessie deur mensgemaakte ingryping te bestuur, maar ongelukkig is onkunde en die beperkte toepassing van hierdie wetgewing deur beide eienaars van vee en die staatsdepartemente wat getaak is om die wetgewing af te dwing, nie na wense nie.

Weidingsbestuur en die reg

Die verpligting om weiding as ’n omgewingshulpbron behoorlik te bestuur, word in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (Wet 108 van 1996, oftewel die Grondwet) vervat.

Artikel 24 van die Grondwet omskryf die reg van alle Suid-Afrikaners op ’n omgewing wat nie skadelik vir hul gesondheid of welsyn is nie, en die beskerming van die omgewing vir huidige en toekomstige geslagte, deur wetgewing en maatreëls wat besoedeling en ekologiese agteruitgang voorkom, bewaring bevorder en die ekologies-volhoubare aanwending van natuurlike hulpbronne verseker, terwyl dit regverdigbare ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling bevorder.

Die Suid-Afrikaanse omgewingsreg word in verskeie wette vervat wat gevolg gee aan die bogemelde bepaling van die Grondwet en is spesifiek daarop gemik om natuurlike hulpbronne soos weiding, waarvan die waarde in die bruikbaarheid vir vee opgesluit is, te bewaar.

Waar oorbeweiding voorkom, vernietig dit die natuurlike waarde van die weiding en word dit deur indringerspesies vervang. Samelopend hiermee is die uiters nadelige gevolge van gronderosie. Deur behoorlike toepassing van die omgewingswetgewing, kan grondgebruikers (nie net eienaars nie) regtens gedwing word om beskadigde areas te rehabiliteer voordat dit weer in gebruik geneem kan word.

Toepaslike wetgewing vir vee

Buiten ’n positiewe ingesteldheid om weiding as ’n natuurlike hulpbron volhoubaar te bestuur, behoort veeprodusente kennis te dra van die volgende wetgewing, wat saam met die Grondwet voorskriftelik ten opsigte van die gebruik van natuurlike hulpbronne soos weiding is:

  • Die Wet op Bewaring van Landbouhulpbronne, 1983 (Wet 43 van 1983).
  • Die Wet op Natuurbewaring, 1989 (Wet 73 van 1989).
  • Die Nasionale Wet op Omgewingsbestuur: Biodiversiteit, 2004 (Wet 10 van 2004).
  • Die Nasionale Wet op Omgewingsbestuur: Beskermde Omgewings, 2003 (Wet 57 van 2003).
  • Die Nasionale Wet op Omgewingsbestuur, 1998 (Wet 107 van 1998).

Hierdie wetgewing behoort deel gemaak te word van goeie boerderypraktyke asook die toegewyde bevordering van landbouhulpbronne en die belangrike rol wat dit in voedselsekerheid speel. Die wetgewing kan ook in bepaalde omstandighede gebruik word om persone wat nie gehoor daaraan gee nie te laat vervolg, of om die hof te nader vir hofbevele om die bepalings van die wetgewing af te dwing.

Biosekuriteit is ’n wetlike plig

Die bedreiging wat dieresiektes vir veeprodusente of -eienaars inhou, plaas nie net ’n morele plig op hulle om verantwoordelik op te tree in die voorkoming van siektes nie, maar dit word ook as ’n regsplig beskou.

Hierdie regsplig berus op die voorkomingsmaatreëls wat in die Wet op Dieresiektes, 1984 (Wet 35 van 1984) voorgeskryf is of in die geval van ’n siekte-uitbreking opgelê kan word. Indien daar versuim word om redelik op te tree om skade vir ander persone te voorkom, kan die oortredende party aanspreeklik gehou word vir skadevergoeding.

Onder normale omstandighede is dieresiektes gebiedsgebonde en sal die standaarde van verantwoordelike optrede in ’n gebied bepaal word deur gesonde biosekuriteits- en algemene boerderypraktyke, tesame met die pligte wat deur die bogemelde wet opgelê word.

Plaasbewoners wat vee aanhou

Dit is belangrik om in gedagte te hou dat bogemelde wetgewing en die ter sprake regspligte, aan grondgebruik en eienaarskap van vee gekoppel is. Ons howe het al by herhaling en tot op die hoogste vlak bevind dat grondgebruikers en eienaars van vee ook persone insluit wat grond bewoon waarvan hulle nie die eienaar is nie.

Dit beteken dat die nakoming van die bogemelde wetgewing en regspligte nie alleen op die skouers van grondeienaars rus nie, maar dat ’n groter teikengroep ’n regsplig het om die aanhou van vee op ’n verantwoordelike wyse te doen.

Volhoubaarheid is noodsaaklik

Veeboerdery is ’n enorme plesier en hierdie bedryf voeg baie waarde by tot die voedselgehalte wat Suid-Afrikaners geniet. Dit is die verantwoordelikheid van alle Suid-Afrikaners om toe te sien dat die natuurlike hulpbronne wat ons veeboere tot die nodige in staat stel, verantwoordelik en volhoubaar bestuur word. –HJ Moolman, Moolman & Pienaar Ingelyf

Vir meer inligting, kontak HJ Moolman by 018 297 8799, 018 297 0397 of [email protected]