Die hoofdoel van die Wet op Dieresiektes, 1984 (Wet 35 van 1984) is om belangrike en gevaarlike dieresiektes te beheer. Hierdie wet en die regulasies daaronder bevat algemene bepalings maar stipuleer ook spesifieke beheermaatreëls vir seker dieresiektes soos brusellose.

Vee-eienaars se inlig-plig

Artikel 11 van die wet bepaal dat vee-eienaars alle redelike stappe moet doen om siektes en parasiete in hul diere te voorkom en die verspreiding daarvan te verhoed. Dit beteken dat ’n eienaar nie willens en wetens besmette diere mag koop en tussen sy ander vee inbring nie. Eienaars is ook verplig om diere te behandel indien hulle wel besmet word waar behandeling moontlik en toelaatbaar is. Indien ’n vee-eienaar vermoed dat sy diere ’n beheerde siekte het, is hy verplig om dit onmiddellik by die verantwoordelike staatsveearts aan te meld.

Die regulasies bepaal verder dat ’n eienaar die voorkoms van ’n beheerde siekte moet bekend maak aan die volgende groepe mense:

  • Al sy bure.
  • Alle voornemende kopers.
  • Kopers wat die voorafgaande 30 dae diere by hom gekoop het.

Dis belangrik om daarop te let dat dit ook geld selfs al word die siekte slegs nog vermoed.

Vereiste voorkomende maatreëls

Tabel 2 van die Dieresiektes-regulasies bepaal dat alle verse tussen die ouderdom van 4 en 8 maande eenmalig ingeënt moet word met ’n effektiewe entstof vir brusellose (tans is die enigste twee entstowwe wat goedgekeur is Stam 19 en RB51). Stam 19 mag slegs in verse tussen 4 en 8 maande oud gebruik word en mag nie herhaal word nie. Opvolginentings met RB51 in vroulike diere is wel toelaatbaar indien die verantwoordelike staatsveearts skriftelik toestemming gee daarvoor.  Bulle mag nie ingeënt word nie, ongeag hul ouderdom.

Diere mag slegs deur ’n staatsveearts of -beampte of deur ’n private veearts getoets word. Dit is nie op die oomblik verpligtend dat alle beeste getoets moet word nie, maar dit word aanbeveel en kan in die toekoms vereis word. In spesifieke gevalle mag die Direkteur van Veeartsenydienste wel ’n eienaar verplig om sy diere te laat toets.

Vereistes vir ’n positief getoetsde kudde

Indien enige diere positief toets, moet die laboratorium die verantwoordelike staatsveearts dadelik inlig. As ’n private veearts die toetse aangevra het, sal die veearts ook ingelig word. Die staatsveearts sal die plaas onder kwarantyn plaas, wat beteken dat geen vatbare of besmette diere sonder toestemming van die staatsveearts van die plaas verwyder mag word nie. Die kwarantynkennisgewing bevat die vereistes waaraan die eienaar moet voldoen en moet streng nagekom word. Dit kan effens verskil van geval tot geval en hang af van die spesifieke situasie.

Elke eienaar het self ook ’n plig om alle besmette en kontakdiere te isoleer en in isolasie te hou sodra hy bewus word van brusellose in sy kudde of selfs net van ’n vermoede daarvan. ’n Eienaar wat sy diere verwyder wetende dat daar positiewe diere is, oortree die wet selfs al was hy nie onder kwarantyn geplaas nie.

Alle kontakdiere moet ook getoets word deur ’n beampte of gemagtigde persoon. Diere wat negatief toets, mag met die skriftelike toestemming van die verantwoordelike staatsveearts ingeënt word teen brusellose.

Alle positiewe beeste moet regs op die nek gebrandmerk word met ’n “C”.  Sulke diere mag net met die skriftelike toestemming van die staatsveearts geslag of verwyder word na ’n goedgekeurde abattoir. Diere kan net na ’n abattoir vervoer word met ’n Rooikruispermit en mag slegs na die spesifieke abattoir, wat op die permit aangedui is, gevat word. Sulke diere mag onder geen omstandighede aan enigiemand anders of op enige ander plek verkoop word of van kant gemaak word nie, en ’n persoon wat dit doen, oortree die wet en dit is ’n strafbare handeling.

Die eienaar moet toegang tot diere, wat in isolasie aangehou word, beperk. Slegs mense wat verantwoordelik is vir die versorging van die diere en beamptes wat beheermaatreëls moet toepas, mag toegang tot sulke diere hê.

Melk van diere wat met brusellose besmet is (of vermoedelik besmet is) mag glad nie vir enige doel gebruik word nie tensy dit gekook, gepasteuriseer of gesteriliseer is.

Daar rus ook ’n verpligting op die eienaar om die plek waar ’n besmette dier aangehou is, en die voertuig waarop so ’n dier vervoer is, te ontsmet met ’n effektiewe ontsmettingsmiddel. Enige toerusting wat potensieel besmet is moet ook op die voorgeskrewe manier ontsmet word.

Bewys van enige beheermaatreëls wat op die diere toegepas is moet deur die eienaar gehou word.  Dit sluit bewys van inentings in. Indien dit deur ’n beampte of veearts gedoen word, moet die eienaar daardie persoon vra vir ’n sertifikaat waarop die besonderhede daarvan aangedui word.  Indien dit deur die eienaar self gedoen is, moet hy bewys daarvan lewer deur middel van ’n beëdigde verklaring wat ook vergesel word van die leë houers en bewys van aankoop, waar die beheermaatreël die gebruik van middels insluit.

Die rol van die staat

Dis is nasionale en provinsiale veeartsenydienste se mandaat om die wet toe te pas. Hulle kan ’n eienaar verplig om sy diere te toets indien daar ’n vermoede is dat die diere besmet kan wees. Waar eienaars met verdagte of positiewe diere nie saamwerk nie, kan beamptes ’n bevelskrif beteken op die eienaar wat hom verplig om sekere stappe binne ’n bepaalde tydperk te doen. Hulle het ook die mag om ’n perseel of voertuig te betree en inspeksies uit te voer.

Indien ’n eienaar, of iemand wat namens die eienaar optree, die wet oortree, kan kriminele klagtes teen die betrokke eienaar en persoon gelê word. In uiterste omstandighede mag beamptes selfs beheer oor ’n perseel oorneem om siektebeheer uit te oefen, terwyl die koste steeds vir die eienaar se rekening sal wees. Die staat poog egter altyd eers om die samewerking van die eienaar te kry en sal hierdie stappe slegs in hoogs uitsonderlike gevalle doen.

Vrywillige toetsprogramme

Die Beesbruselloseskema (R.2483 van 9 Des 1988) word tans afgedwing. Daar is tans ook ’n interim-handleiding vir brusellosebeheer beskikbaar, wat deur die Departement Landbou, Bosbou en Visserye opgestel is. Aangesien die Beesbrusellose-beheerbeleid tans onder hersiening is, sal verdere besonderhede nie hier bespreek word nie.

Dit is belangrik om te onthou dat die bepalings van die wet daar is om die nasionale kudde te beskerm, maar ook om mense teen ernstige siektes te beskerm. Alle beheermaatreëls is in plek gebring om hierdie doelwitte te bereik en nie om as strafmaatreëls te dien nie.

As ’n mens net die beginsels van siektebeheer en siektevoorkoming volg en alle nodige partye so spoedig moontlik inlig oor die teenwoordigheid van ’n beheerde siekte, behoort dit maklik te wees om binne die raamwerk van die wet op te tree. – Dr Trudie Prinsloo van der Heever, veearts en regsadviseur namens die Brusellosestuurkomitee van die Nasionale Dieregesondheidsforum.

Vir meer inligting, stuur ’n epos na trudie@legalvetservices.co.za