Pieter Möller skryf die volgende in ‘n onlangse uitgawe van Veeplaas:

Ons ontmoet en hoor deesdae al hoe meer van mense wat wil moed opgee en op moedverloor se vlakte sit, meestal oor die sogenaamde (ekonomiese?) gemors waarin ons ou landjie hom deesdae bevind. Die doelwitte wat ons vir onsself gestel het en die lysies van positiewe dinge wat ek so graag elke maand aftik, lyk nou na die droom wat dalk per ongeluk gesteel is.

Ek begin voorraadopname neem en stel nuwe lysies op, maar dis regtig moeilik as jou vorige lysie, wat so rooskleurig gelyk het, dalk nou na die onrealistiese kolom verskuif moet word. Maar oom Angus se pragtige byeenkoms onlangs en die plakkate in optogte van duisende medeburgers wat soos ons voel, gee my darem weer hoop.

Hopelik is die uitklophou nie te ver nie. Dit moet egter ’n opstopper wees wat die nommer een-teenstander, wat steeds glo hy is reg, planke toe stuur met rente. Nommer Een moet eers wakker word ná die volgende rondte se verkiesing – verkieslik saam met sy bose vriend uit ons noordelike buurland.

Noudat ek mooi daaroor dink, wonder ek tog of hulle so gou moet wakker word uit droomland, want Nommer Een jaag aan as hy wakker is en dis ongesond. Hou hom onder verdowing totdat oom Angus, Gary Player en aartsbiskop Desmond Tutu as die gesamentlike presidente ingesweer is en daar nie geleentheid is om die troon te steel nie.

Lag maar ’n slag …

Ek dink in hierdie tye het ons mense nodig wat ons kan laat lag. Is ons nog genoeg in mense se geselskap wat ons laat lag? Ek praat nou nie van “sogenaamde” komediante en grapmakers wat met vloekwoorde en kru taal die kalklig wil steel nie. Nee, eerder ons beste uitvoerprodukte soos Trevor Noah en Barry Hilton, wat lekker kan spot met ons Suid-Afrikaners se unieke gedrag, gewoontes en alledaagse dinge.

Netelige kwessies word gewoonlik deur hulle in humor omgesit en los ons met ’n glimlag. Dalk moet hulle met humor die een groot swaard wat oor ons koppe hang, naamlik die grondkwessie, sagter maak en beter op die oor laat val. Dalk ontspan ons dan meer daaroor, want die meeste van die politici se uitsprake is eintlik in ’n mate lagwekkend, sonder dat dit jou met ’n glimlag laat.

Ek meen nou maar, watter deel van die bank se skuld gaan die arme plaaswerkers erf as Nommer Een se 50/50-verdelingsplan toegepas gaan word? En moenie die rassekaart weer uithaal as ons met feite redeneer nie!

’n Paar leiers, soos sekere sportlui, sal ook in die toekoms meer onthou word oor dinge wat van die veld af gebeur het, eerder as op die veld. Ek kan aan ’n paar name hier dink. Mense wat tersiêre instellings in die afgrond in bestuur het met ’n verskuilde agenda en dan die sinkende skip verlaat, steeds onder die indruk dat hulle nie te sleg gevaar het nie. Wat van die oom wat die “kragstasie” vir minder as twee jaar bestuur het, maar wil uitstap met R30 miljoen in sy sak, wat hy na bewering as pensioengeld beskou? Hoe absurd.

Hou jou oog op wat saak maak

Ag, daar is eintlik so baie voorbeelde van eienaardige voorstelle wat gemaak word en besluite wat geneem is, dat ’n mens mooi moet fokus om nie tred met die werklikheid te verloor nie. Ek dink ons moet begin, en ek preek vir myself, om ons minder te steur aan die vreemde uitsprake en dinge wat die sogenaamde leiers aanvang. Ons kan eerder weer fokus op die dinge wat regtig saak maak, soos ons werklike roeping in die lewe.

Ons kan mekaar positief stem deur ’n woordjie of gebaar van omgee. Ons het soveel familie en vriende wat in presies dieselfde omstandighede as ons verkeer, en ons het mekaar nodig. ’n Mooi bemoedigende boodskap, telefoonoproep of selfoonboodskap kan wondere beteken en iemand anders laat beter voel en kans sien vir die toekoms, al lyk dit hoe onstuimig. Ek gaan nou my deel doen en die bankbestuurder bel, en haar met ’n glimlag alle sterkte toewens met die gemors in my state.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here