Die Suid-Afrikaanse wild- en jagbedryf se potensiaal om ’n beduidende bydrae tot die landsekonomie te maak, word nog nie ten volle ontgin nie. Dit is nie net ’n Suid-Afrikaanse tradisie en erfenis nie, maar een van die hoekstene van toerisme. Dit word egter nou deur verskeie uitdagings gekniehalter.

Dit is die mening van Rouan Nel, ’n relatiewe nuwe wildboer wat hom tussen die berge naby Melkrivier gevestig het. Hier leef hy en sy gesin hul droom om in die natuur en tussen wild te kan bly, uit. Hy is positief oor die toekoms van die bedryf en meen wild kan baie waarde tot saai- en gemengde boerderye toevoeg.

wild
Die Nel-gesin werk saam om hul droom om in die natuur te wees, te verwesenlik. Van links is Brandon, sy vrou Johanrie, hul dogter Mihné, Charmaine, Laéla en Rouan.

Die hele waardeketting benut

Met die pryse van die meeste wildspesies wat nou op meer bekostigbare vlakke gestabiliseer het, is dit makliker om die jagprys van wild te gebruik as die basis waarop ’n mens berekeninge kan maak. Jagters is syns insiens die hoofverbruikers van wild, maar hy gebruik al die skakels van die waardeketting om waarde tot die produk toe te voeg.

Daarby het hy ’n interessante vleisskema gevestig wat aan swart entrepreneurs die geleentheid bied om vir hulself werk te skep deur gesonde vleis teen ’n bekostigbare prys aan die mense in hul omgewing beskikbaar te stel en self ook ’n wins te maak.

Luister hier na ‘n radio-onderhoud op RSG Landbou met Rouan Nel:

As professionele rugbyspeler by die Leeus, het Rouan vroeg begin om ’n heenkome in die natuur te soek en het aanvanklik stukkies grond in die Bosveld gekoop. Vier jaar gelede het hy en sy vrou, Charmaine, sowat 250ha by Melkrivier gekoop, waar hulle tans die Shekinah-wildtelery bedryf.

In die Bela-Bela-omgewing het hulle die alleenreg om op sowat 4 000ha hul Tsala-jagonderneming in vennootskap met die grondeienaar te bedryf. Buffels, swartwitpense en die meeste gewilde jagwildspesies is daar beskikbaar. Sy seun, Brandon, sorg grootliks vir die jagtery.

Hoeksteen van die wildbedryf

Jag vorm wat hom aanbetref, die hoeksteen van die wildbedryf. As die diere nie gejag kon word nie, sou daar vandag waarskynlik ’n paar honderd swartwitpense, bastergemsbokke en renosters in die wildtuine geloop het en sou die lewenskragte bevolkings van dié spesies nie bestaan het nie. Suid-Afrikaners is daarop ingestel om uitdagings te oorkom en dít is wat in die wildbedryf gebeur het.

Daarom glo hy ook die wildbedryf sal die uitdagings wat stremmende wetgewing vir die bedryf bied, te bowe kom en dat Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) ook daarin sal slaag om nuwe markte vir die bedryf in die algemeen, en wildsvleis in die besonder, te skep. Hoe meer mense hul kragte saamsnoer, hoe beter sal dit gaan en hoe meer sal risiko’s beperk word.

Die welslae wat die wildbedryf reeds behaal het, is ’n voorbeeld vir die res van die wêreld, want dít wat wildboere doen is werklike bewaring, meen hy. Renosters is van uitwissing gered en talle boere het renosterteling teen ’n verlies volgehou. Nêrens in die wêreld of in Afrika kon dit wat plaaslike wildboere vermag het, geëwenaar word nie. Suid-Afrikaanse wildboere ontvang egter nie die nodige erkenning en regeringsondersteuning nie.

Rouan sê jag was van die begin af die hoofvertakking van hulle onderneming. Aanvanklik was dit binnelandse jagters en korporatiewe groepe, maar die afgelope sowat tien jaar is internasionale jagters, hoofsaaklik Amerikaners, hul vernaamste kliënte. Hulle pas hul wildteling ook voortdurend aan om in die behoeftes van dié jagters te voorsien. Diere uit hul telery sowel as goeie trofeediere van hulle vennoot, gaan na die jaggebied.

wild
Dié swartwitpensbul, Namwala, word as teelbul gebruik. Die oogmerk is om uitmuntende teeldiere sowel as goeie diere vir die trofeejagmark te teel.

Meerderwaardige diere

Hy het die waarde van teeldiere nog altyd aan die hand van jagpryse bepaal, wat beteken het dat hy tydens die bloeitydperk van die wildbedryf nie miljoene rand vir teeldiere kon of wou betaal nie. Daar was gesogte diere waarop hy aanbiedings gemaak het, maar waarvan die prys te hoog gegaan het. Dit het beteken dat hy wyer moes soek en navorsing moes doen om geneties meerderwaardige teeldiere te kry.

In die proses het hy daarin geslaag om ’n swartwitpensvers in die hande te kry, ’n voorgeslag van vyf generasies aan die pa se kant met horings van langer as 50 duim, en vyf generasies koeie aan die ma se kant, almal met horings langer as 33 duim.

Hy het ook ’n seun van die bekende swartwitpensbul, Charlie, by Bona Bona gekoop. Dié bul is nou sewe jaar oud en het horings van 51 duim. Sy oogmerk is om jagbulle te teel met horings van 50 duim en meer, wat teen die heersende jagpryse sal verseker dat hy die geld wat hy vir dié diere betaal het, gou sal terugkry.

Die bosbokteelprogram

wild
’n Geslaagde bosbokteelprojek is ook aan die gang. Dit is moeilik om met dié diere te teel, omdat hulle moeilik in kampe aanpas.

Hulle het ook ’n bosbokteelprogram aan die gang. Bosbokke is egter van die moeiliker spesies om te teel, omdat hulle moeilik in kampe aanpas. ’n Mooi ram met horings van 18 duim word op die sowat 30 ooitjies gebruik en sy seuns toon groot belofte. Van die bokke word in die jaggebied vrygelaat omdat dit ’n spesie is waarvan die diere nie volop vir jag beskikbaar is nie. Dié bokke het ook ‘n baie bestendige jagwaarde.

Verlede jaar is bosbokooie wat dragtig was van ’n goeie ram, teen gemiddeld R15 000 op veilings verkoop. Jagters betaal tot $950 (R16 000) vir ’n jagdier van trofeegehalte.

Die blouwildebees-teeltrop

Hulle het ook ’n teeltrop van blouwildebeeste omdat dit ook ’n gewilde jagspesie is en bulle op sowat 30 maande gejag kan word. Dit sorg vir ’n vinniger omset as wat met van die ander spesies die geval is.

Daar is uitstekende genetiese teelmateriaal in die trop en die teelbul, wat klaar horings van langer as 32 duim het, is ’n seun van die bekende bul, Victor, wat 34-duim horings het. Die trop lewer gereeld jagbulle met horings van 28 duim en langer.

Só ’n blouwildebeesbul se jagprys beloop tussen $900 tot $1 000 (R15 000 tot R17 000) en maak gewoonlik saam met ’n rooibok, deel van die meeste jagters se pakket uit.

’n Teeltrop swart rooibokke is geteel uit gewone rooibokke wat die swart geen dra en dié ramme is ook teen sowat ouderdom 30 maande jaggereed. Verskeie oorsese kliënte kom jag ’n rooibokpakket wat uit ’n swart-, witflank- (marmer) en saalrugrooibok bestaan. Sulke diere word teen gemiddeld R1 500 tot R2 000 stuk gejag.

Terug in die waardeketting

Oorsese jagters stel gewoonlik nie in die dier se karkas belang nie. Om die waardeketting van die wildbedryf ten volle te benut, word die vleis verwerk. Snitte waarvan biltong gemaak kan word verkoop hulle, en die res word in maalvleis en kookvleis verwerk, wat aan swart entrepreneursvennote gelewer word om in hul woongebiede te verkoop.

Afgesien daarvan dat dit werk skep, voorsien dit gesonde vleis aan mense wat dit normaalweg nie sou kon koop nie. Op dié manier word nog sowat R7 000 se waarde tot ’n blouwildebees toegevoeg, wat die totale waarde van ’n trofeedier na sowat R23 000 opstoot. Dit maak dit die moeite werd om goeie jagdiere van vlaktewildspesies te teel en te laat jag, sê Rouan. – Andries Gouws, Veeplaas (Foto’s deur Rouan Nel)

Vir meer inligting, kontak Rouan Nel
by 084 652 6725 of rouan@tsalasafari.co.za.