Die Suid-Afrikaanse wildbedryf is by Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) se jaarlikse kongres, wat op 6 April by die WNNR in Pretoria gehou is, geloof vir die uitstekende natuurbewaringswerk wat hulle doen, maar die land se politici het deurgeloop oor hul swak vertoning. ’n Pleidooi is gelewer vir nuwe denke om ’n Suid-Afrika waarop sy mense hoop, ’n werklikheid te maak en só te voorkom dat kiesers met burgerlike verset wraak neem.

WRSA, awards, wildbedryf
Dr Mathews Phosa tydens die WRSA-kongres.

Dr Mathews Phosa, ’n bekende in die ANC-leierskap, het by die WRSA-kongres gesê die Suid-Afrikaanse wildbedryf kan trots wees op die bydrae wat hy nou tot die bewaring van die wildlewe in Afrika lewer, veral omdat dit ’n goeie voorbeeld is van die implementering van die Verenigde Nasies se volhoubare ontwikkelingsoogmerke.

“Die samewerking tussen die private sektor, plaaslike gemeenskappe en verskeie staatsdepartemente het nuwe standaarde geskep vir die bestuur- en teelpraktyke van wild. Die oplewing in die wildbedryf is te danke aan die feit dat boere besef het dat marginale landbougrond baie beter met wild as met vee benut kan word,” sê hy.

Ekonomiese bydrae

Die bedryf dra deesdae sowat R47 miljard tot die land se ekonomie by en het sowat 140 000 werkgeleenthede geskep op sowat 20 miljoen hektaar grond, waar met talle spesies en ook bedreigde wildspesies geboer word.

Ongelukkig raak die kritiek teen die bedryf al feller, veral in die aanloop tot die Convention on International Trade in Endangered Species (Cites)-beraad wat eersdaags in Sri Lanka plaasvind. Die kritiek word aangevuur deur mense wat geen kommersiële aanwending van wild duld nie en hul standpunt aan dierewelsyn koppel.

Die internasionale gemeenskap bestempel bewaring egter as die bestuur en gebruik van die biosfeer op so ’n wyse dat dit die grootste volhoubare voordeel vir huidige en toekomstige behoeftes kan inhou. Wildboerdery ondersteun dit en verdien groter erkenning daarvoor.

Politieke omgewing en die verkiesing

Ten opsigte van die politieke omgewing, het dr Phosa gesê alle Suid-Afrikaners hoop en bid vir ’n gelukkige land waar die ekonomie floreer en swart en wit vreedsaam kan saamleef. Toe demokrasie in 1994 ’n werklikheid geword het, was dit nodig om stappe te neem om die verdeling van welvaart in ewewig te bring.

“Ek kan egter nie verstaan dat ons 25 jaar en vyf verkiesings later steeds nie kan erken dat ons foute gemaak het nie en glad nie daarin kon slaag om die sosiale en ekonomiese landskap van die land te verander nie,” het hy gesê.

Die talle kommissies van ondersoek na staatskaping en korrupsie gooi ’n skaduwee oor die land se nasionale trots en skok die mees getroue ondersteuners. Die omvang van diefstal en korrupsie onder die land se leiers is onverskoonbaar. Dit verdiep die kloof tussen ryk, middelklas en arm mense. Die poging om ’n groter middelklas te skep, het dit eerder reggekry dat daar vandag meer armes is.

Leierskap is nodig

Dr Phosa sien in die debatte voor die verkiesing baie min van die leierskap wat nodig is. “Hulle vang vlieë van mekaar af en kritiseer mekaar, in plaas daarvan om na die pleidooi van die kiesers, wat die leiers verkies het om ’n diens te lewer, te luister.

“Ons het ’n moraliteitskrisis. Ons blameer die verlede vir alles en kyk weg as ons vriende en kollegas in die web van korrupsie vasgevang word. In plaas daarvan dat misdadigers gevang word, word dié wat die moed gehad het om te praat as misdadigers gebrandmerk,” meen dr Phosa.

Volgens dr Phosa is daar ’n toename in die aantal mense wat honger ly, swak opgelei is en huis- en werkloos is. ’n Oplossing sal wees as almal gesamentlik verantwoordelikheid vir hul foute aanvaar en ’n nuwe blaadjie omslaan om ’n voorspoedige toekoms te skep.

Ons moet vorentoe kyk

“Wat ook al die uitslag van die verkiesing is, die tyd het nou aangebreek om vorentoe te kyk. Die land sit op ’n tydbom, wat tot burgerlike ongehoorsaamheid kan lei. Miljarde rande van die belastingbetalers se geld het in die sakke van misdadigers beland. Daar kan nooit weer toegelaat word dat ’n enkele politieke party se agenda dienslewering vertraag en feitlik tot stilstand bring nie.

“My wens is dat die nuwe regering sal onthou waarvoor hy verkies is, naamlik om die lewens van dié wat hy dien te verbeter, welvaart te skep, versoening aan te moedig en die ekonomiese middelklas in die land te vergroot. Ons kan nie voortgaan met ’n oudmodiese manier van optrede, wat verwag dat die staat alleen werk moet skep deur opgeblase instellings wat keer op keer misluk, nie.

“My beskeie mening is dat ons fokus verkeerd is. Ons hou mekaar dop, diskrediteer mekaar en vergeet wat dit beteken om te dien, te beskerm en om regverdig en eerlik te wees. Ons moet ons doelstellings en oogmerke hersien en iets kry wat groter as ons eie belange is.

“Ek hoop dat ons sterk genoeg sal wees om die koers wat ons ingeslaan het, vinnig reg te stel sodat daar sonder vrees, gunste, vooroordeel of kaping gereageer kan word,” het hy gesê. – Andries Gouws, AgriOrbit

Click here to read more about the WRSA congress.

One of the highlights of the congress is the annual WRSA awards. Click here to see who the recipients are.