Dié vlak dammetjie by Lidiikwe, ’n privaat wildplaas tussen Oudtshoorn en De Rust, verskaf water vir wild in ’n vlak dammetjie wat toegang vir groot- en kleinwild verskaf. Die boomstompe is lekker sitplek vir voëls wat eers die omgewing wil bespied voordat hulle drink. Foto’s: Tisha Steyn

Die herstel van grondwatervlakke begin by die herstel en beskerming van die grondoppervlak, wat net moontlik is deur die oordeelkundige plasing van waterpunte, sê Ken Coetzee van Conservation Management Services op George in die Suid-Kaap.

Ken verskaf sinvolle wenke in sy boek, Practical techniques for habitat and wildlife management, oor hoe water vir wild op ’n etiese, volhoubare en ekologies-vriendelike manier verskaf kan word.

“Waterbronne is afhanklik van veldtoestande en hoe beter die toestand van die veld, hoe meer water is daar. As ’n wildboer sy veld oppas, pas hy sy water op,” sê hy.

Rol van oorbeweiding

Ken meen oorbeweiding is een van die belangrikste oorsake van die oorbenutting van grondwaterbronne. “Oorbeweiding vernietig die beskermende laag plantmateriaal op die oppervlak, en dit lei daartoe dat die kaal grond kliphard bak in die somerson. Wanneer dit reën, loop die water vinnig af sonder om kans te kry om in die grond in te dring. Op plase word die water-ekosisteem wanbestuur wanneer damme die natuurlike vloei van ’n stroom belemmer, of wanneer grondwaterbronne oorbenut word en nie kans kry om te herstel nie.”

Veral in ’n droogte, wat alle gebiede periodiek ervaar, is slim bestuur van die beskikbare water van die uiterste belang vir ’n wildboer en sy wild se voortbestaan.

Wat is slim bestuur?

Met slim bestuur kan wild ’n natuurlike waterbron, hetsy oppervlak- of grondwater, volhoubaar benut, mits die wildgetalle beperk en die suipings sinvol versprei word.

Vir ekstensiewe boerdery is dit belangrik om die natuurlikste waterbron, soos ’n fontein, pan, vlei of stroom, te gebruik. Waar intensief met wild geboer word, moet drinkbakke gereeld skoongemaak word.

Drie beginsels geld:

  • Voorkom dat wild die terrein rondom die natuurlike bron vertrap, soos by ’n fontein se oog, ’n rivieroewer of vleiland.
  • Plaas drinkplekke waar dit nie die ekologie van sensitiewe terreine of plantegroei versteur nie.
  • Drinkplekke moet voorsiening maak vir kleinwild soos klein bokkies, hase, skilpaaie en voëls.

Die plasing van kunsmatige waterpunte moet omgewingsaspekte in ag neem, soos die sensitiwiteit van die veld tussen drinkplekke om erosie in wildspaadjies te voorkom, die seisoenale voorkoms van natuurlike water en die waterbehoeftes van die verskillende wildspesies.

Hierdie dammetjie word deur ’n windpomp van ondergrondse water voorsien.

“Dikwels word die netwerk van waterpunte vir wild aangebring sonder dat die landskap in ag geneem word,” sê Ken. “Die slim gebruik van water verseker dat die ondergrondse waterbron nooit van die ekosisteem wat daardeur gevoed word afgesny word nie.”

Plasing van ’n suiping

Hou die volgende nege faktore in gedagte met die plasing van ’n suiping:

  • Vermy steil gebiede waar wild die grond rondom die suiping kan vertrap en oorloopwater erosie kan veroorsaak.
  • Moenie die drinkplek onder bome plaas waar blare, peule, insekte en voëlmis daarin kan beland nie.
  • Moenie die drinkplek in ’n beboste deel plaas nie – die meeste wild verkies dit om water te drink waar dit oop is en hulle ’n roofdier kan sien aankom.
  • Moenie die drinkplek op ’n rotsplaat plaas nie, want die meeste hoefdiere beweeg nie gemaklik op gladde, harde oppervlakke nie.
  • Plaas drinkplekke laer af in ’n vallei of langs ’n stroom waar die plantegroei, soos ’n graskol, nie so maklik vertrap sal word nie.
  • Moenie die drinkplek reg in die loop van ’n stroom plaas nie, want die drinkplek gaan toeslik of vol plantmateriaal raak as die spruit afkom.
  • Moenie die drinkplek plaas waar die grond stofgetrap kan word nie, maar eerder op goedgedreineerde growwe sand of gruis.
  • Hou die drinkplek weg van ’n gebied waar skaars of bedreigde plante voorkom, soos vleie, naby kwartskolle of waar skaars vetplante voorkom.
  • Bly weg van oorbeweide gebiede waar die veld reeds dor en vertrap is.

Beskerming van natuurlike waterbronne

Beskerm natuurlike waterbronne só:

  • Fonteine: Beskerm die fontein se oog met ’n eenvoudige struktuur van klip of bakstene, of ’n kampie rondom die oog, om te voorkom dat die wild dit vertrap. Herlei die water van die fontein met ’n pyp na ’n suiping ’n entjie weg.
  • Riviere en spruite: Riviere en spruite verskaf water vir wild waar die oewers dit toelaat. Waar die water toeganklik is, kan dit ’n samedromming veroorsaak wat die plantegroei vertrap, en as die rivier afkom, bly ’n stuk van die oewer en/of veld in die slag.

Herstel ’n verinneweerde oewer só:

  • Kamp die rivierwal af om wild te dwing om op ’n ander plek te gaan drink. Die heining moet kruipers, springers, grawers en grootwild weghou van die rivier.
  • Werk die helling af sodat die wild makliker by die suiping kan kom.
  • Herlei die water weg van die wal na ’n geskikte drinkplek waar wild nie die oewer kan vertrap nie.
  • Gebruik skanskorwe (draadmandjies met klip) of stewige, lae keerwalle wat die water wegkeer van ’n rivieroewer wat klaar uitgekalwe is.

Ontginning van grondwater

Water kan kunsmatig verskaf word deur ’n boorgat op ’n geskikte plek te sink en toe te rus met ’n pomp wat die water na die oppervlak bring.

  • Windpompe: Die grootte van ’n windpomp se wiel moet pas by die hoeveelheid en diepte van die water wat uit die gat gepomp moet word, hoe ver die water gepomp moet word en die sterkte van die heersende wind.
  • Sonkragpompe: Net soos ’n windpomp, verskaf ’n sonkragpomp skoon energie. Die elektriese pomp word aangedryf deur middel van sonpanele, wat selfs op ’n bewolkte dag genoeg water vir ’n wildsuiping sal verskaf, en die pomp en panele is lig genoeg om tussen suipings geskuif te word.
  • Elektriese pompe: Elektriese pompe is ook omgewingsvriendelik en werk goed waar baie water, soos vir gewasverbouing, nodig is, maar ’n duur elektriese aansluiting is nodig.
  • Diesel/petrolpompe: Pompe wat met diesel of petrol aangedryf word, is geskik waar ’n groot hoeveelheid water oor ’n lang afstand of opdraand gepomp moet word. Die onvermydelike besoedeling rondom die pomp wanneer diesel, petrol of olie op die grond mors en in die waterbron sypel, die geraas en die feit dat hierdie pompe gereeld versien moet word, is nadelig.
’n Vlotterklep beheer die vloei van water na die dammetjie.

Oes van reënwater

Die oes van reënwater is belangrik waar oppervlakwater ontbreek, dit duur is om grondwater te pomp of waar heinings die wild weghou van ander suipings.

Reënwater kan van enige plat vlak met ’n effense helling geoes word, hetsy ’n klipplaat of ’n struktuur wat opgerig word. Reënwater wat afloop, word in opgaartenks opgevang en deur gravitasie na ’n suiping naby die tenks gelei. Die volume water in die suiping kan deur middel van ’n vlotterklep in die drinkbak gereguleer word.

“Hoe droër die gebied, hoe groter moet die oppervlak en die opgaartenks wees om genoeg reënwater te versamel om die wild tussen reënseisoene van genoeg water te voorsien.”

Vir meer inligting of om die boek te bekom, kontak Ken Coetzee by 044 870 8472 of consken@mweb.co.za.- Tisha Steyn, Veeplaas

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here