Buffelpryse is steeds baie wisselvallig, maar behoort vanjaar bestendiger te raak.

Koedoebulle kan eersdaags duurder wees as buffels indien die huidige tendense in wildpryse onveranderd bly. Intussen het die gemiddelde prys vir swart rooibokke gedaal tot sowat 1% van wat twee jaar gelede vir dié bokke betaal is. Wild bly egter een van die aantreklikste beleggings in die landboubedryf.

Johan du Toit van African Wildlife Auctions en Wildvangdienste het dié inligting en ander insiggewende tendense met wildboere gedeel tydens ’n inligtingsdag van Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) se Naboomspruit-bedryfskamer, wat by Melkrivier gehou is. Hy het benadruk dat dit sy afleidings is uit verwerkte syfers van feitlik al die wildveilings wat die afgelope sowat 17 jaar in Suid-Afrika gehou is.

Volgens Johan het die gemiddelde prys vir koedoes ’n stygende tendens volgehou toe die meeste ander wild se gemiddelde prys eers drasties gestyg en toe net so drasties gedaal het.

Holistiese benadering

Johan meen van die grootste veranderings wat in die toekoms in die wildbedryf kan voorkom, is dat produsente al meer ’n holistiese benadering kan volg en ’n eenstopdiens kan begin gebruik om hulself in pas te bring met sake-integriteit, -vaardighede en -kundigheid. Hulle sal al meer tyd en kundigheid aan hul boerderye skenk en bedrywighede soos bemarking en skakeling in kundiges se hande laat.

“Daar word ook wegbeweeg van beleggings in die wildbedryf na meer tradisionele boerdery met wild gegrond op die produkte wat gelewer word. Dié tendens het ook bygedra tot die drastiese daling van gemiddelde wildpryse.

“Nog ’n interessante verwikkeling is dat die persentasie wild wat op elektroniese platforms verhandel word, sterk toegeneem het. In Australië en Amerika word tot sowat 80% van alle lewendehawe deur elektroniese media bemark en verkoop.”

Voorkeur vir elektroniese platforms

Johan verwag dat dié tendens ook in Suid-Afrika gaan posvat en dat dit baie moontlik is dat sowat 75% van Suid-Afrikaanse wild in die volgende twee jaar op hierdie manier verhandel gaan word. “Dit gaan daartoe lei dat baie tradisionele veilings nie meer gaan plaasvind nie en dat daar net vyf of ses baie gespesialiseerde wildsveilings per seisoen sal wees, waarop diere met uitstaande genetiese eienskappe vir die teelbedryf te koop gaan wees.”

Die drastiese verandering in wildpryse, wat eintlik as ’n regstelling ná ’n bloeitydperk gesien moet word, kan toegeskryf word aan natuurlike markkragte van vraag en aanbod, en in ’n mindere mate ook aan die onsekerheid ten opsigte van grondbesit en die droogte.

Johan sê vraag en aanbod was egter die grootste rolspelers. Sy ontleding van die statistieke oor wildveilings dui daarop dat die aanbod van wild van 2013 tot 2017 met meer as 50% gestyg het, wat vir groot oorvoorsiening gesorg het.

Goue wildebeeste het op ’n tydstip gemiddeld sowat R700 000 op veilings behaal, maar is vandag baie min werd, behalwe as dit diere met uitstaande genetiese potensiaal is.
Krimpende vraag na kleurvariasies

Volgens Johan is die kleurvariasies binne die verskillende spesies die hardste getref deur regstellings in die mark. “In 2013 was sulke diere skaars en almal wou daarvan hê, maar vandag is dié diere volop en die vraag beperk.

“Die jongste markaanwysers wys die vraag na diere van die meeste wildspesies het in 2018 aanhou krimp. Die omset op wildveilings was in 2018 sowat 37% laer as in 2017, en het van R900 miljoen in 2017 tot R598 miljoen in 2018 gedaal – in vergelyking met ’n omset van R1,9 miljard in 2015.

“Die totale inkomste uit wildverkope in 2017 was 50% laer as die vorige jaar en dit het in 2018 met ’n verdere 36% gedaal, terwyl die aantal diere wat in 2017 verkoop is 9% minder was as die vorige jaar en in 2018 met ’n verdere 18% gedaal het.”

Vlaktewild teenoor skaars spesies

Terselfdertyd was die totale inkomste uit die verkoop van tradisionele vlaktewild in 2017 sowat 29% laer as die vorige jaar en het dit in 2018 met nog 34% gedaal. In dieselfde tyd het die aantal diere van vlaktewildspesies wat in 2017 verkoop is, met 14% gedaal en in 2018 met 27%.

Die totale inkomste uit diere van die skaars wildspesies het in 2017 met 52% en in 2018 met nog 37% gedaal. Die aantal diere van dié spesies wat in 2017 verkoop is, was 8% en in 2018 nog 12% laer.

In 2017 het die omset van buffels wat op veilings verkoop is, 40% van die omset van alle wild wat op veilings verkoop is uitgemaak; in 2018 was dit 46%. In 2018 was die aantal buffels wat verkoop is, 10% minder as in 2017.

Wisselvallige pryse

Johan sê hoewel die pryse van die meeste ander spesies op die reggestelde vlakke gestabiliseer het, is buffelpryse nog baie wisselvallig. “Op een veiling word ’n buffel vir R1 miljoen verkoop en op die volgende is die prys van ’n soortgelyke dier van dieselfde genetiese gehalte en voorkoms, net R100 000.” Hy verwag dat buffelpryse vanjaar op meer volhoubare vlakke sal begin stabiliseer.

Die pryse van skaarswild het die meeste gedaal en ’n produsent kon in 2018 gemiddeld sowat 10% van die prys verwag wat hy in 2015/16 vir sy skaarswild gekry het. Vir saalrugrooibokke kon ’n produsent sowat 0,1% en vir swart rooibokke sowat 1% minder verwag as wat soortgelyke bokke in 2015/16 gekos het.

Johan sê die positiewe nuus is dat daar geweldig baie nuwe toetreders tot die bedryf is, wat konvensioneel met wild wil boer. “Hulle kan nou goeie diere teen ’n bekostigbare prys koop en ’n onderneming vestig wat op realistiese markpryse gegrond is.”

Prysverskille tussen spesies

Die ontleding van die gegewens wys dat die pryse van swartwitpense en bastergemsbokke nie so erg as die kleurvariasies geraak is nie. In 2018 was swartwitpense se gemiddelde prys 38,9% en bastergemsbokke se prys 64,9% laer as in 2017.

In teenstelling met die pryse vir skaarswild, was die pryse vir tradisionele vlaktewild die afgelope vier jaar betreklik bestendig. Die aantal diere van dié spesies was in 2018 sowat 21% laer as in 2017.

Volgens Johan sukkel veilingshuise nou om genoeg vlaktewild op veilings te kry en goeie jagdiere wat aangebied word, verkoop nou soos soetkoek teen premiepryse. “Die meeste jagwild is ook nou op die vlak wat deur die prystendense vir die verskillende spesies aangedui word.

“Die uitsonderings is koedoes en elande. Koedoes se pryse het nie die afgelope jare buitengewone hoë pieke bereik nie, maar bestendig gestyg. Die aantal koedoes wat in 2018 aangebied is, was bykans 17% minder en die gemiddelde prys was 44,78% hoër. As dié tendens voortduur, kan uitstaande koedoebulle eersdaags duurder wees as buffels. Altesaam 64% minder elande is bemark en die gemiddelde prys het met sowat 44% gestyg. Die prystendens van elande styg egter matiger as dié van koedoes,” sê hy. – Andries Gouws, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel Johan du Toit by 082 416 8888 of stuur ’n epos aan johan.dutoit@awla.co.za.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here