Williston-landbouskou sorg vir opwinding in die Groot Karoo

886
’n Groot aantal ruiters kon vanjaar aan die saalperdskou deelneem. Daar word beoog om die perde-afdeling uit te brei om persone met werksperde te laat meeding.

Ten spyte van die negatiewe impak van die bek-en-klouseerverbod op die veebedryf, het die skoukomitee van Williston besluit om voort te gaan met hul skou. Alhoewel daar nie vanjaar enige skaap- of bokbeoordeling plaasgevind het soos aanvanklik beplan is nie, het die komitee kreatiewe planne gemaak om die program suksesvol aan te bied en vir groot opwinding te sorg.

Coetzee Reitz van die Williston Vleiskoöperasie sê dat alhoewel dit een van die kleinste skoue in die land is, dit ter wille van die gemeenskap in stand gehou moet word.

Die skou het heelwat verrassings opgelewer, soos die rekord aantal inskrywings van 88 karkasse deur opkomende boere in die Suid-Afrikaanse Vleisbedryfmaatskappy (Samic) se slaglamkompetisie. Kommersiële boere ‘n slaglamkompetisie gehou, met 140 lammers wat beoordeel is.

Williston se slaglamkampioene

In die kommersiële slaglamkompetisie het Roedolf Viljoen die beste enkelkarkas vertoon. Coetzee Reitz was tweede en De Witt Hodgson derde. Coetzee Reitz het ook die beste groep karkasse gehad. Gideon Hoon se groep was tweede en Joos Moelich het die derde plek ingeneem.

Roedolf Viljoen het die beste enkelkarkas op die slaglamkompetisie vertoon. Hier ontvang hy sy prys van Rudi van der Westhuizen van Samic.

Onder die opkomende boere het Koos van Wyk die eerste en derde beste bokkarkasse vertoon, met Juhillin van Wyk in die tweede plek.

Die opkomende boere se slaglamkompetisie was baie straf. In die afdeling vir groepe was Juhillin van Wyk se groep as die wenners gekroon, Petrus Sas se groep was naaswenners en Gert Esau se groep het die derde plek behaal. By die enkelkarkasse het Juhillin van Wyk met die louere weggestap, Serina Coetzee het die tweede plek ingeneem en Gert Esau was derde.

Juhillin van Wyk is ’n opkomende boer wat beslis dopgehou kan word. Hy het die beste enkelkarkas sowel as die beste groep karkasse onder opkomende boere vertoon.

Tydens die prysuitdeling het Rudi van der Westhuizen, uitvoerende direkteur van Samic, die boere van Williston geloof vir hul deursettingsvermoë om ten spyte van die droogte, lammers van top gehalte aan die mark te voorsien. Samic het ook ’n praktiese opleidingsessie ten opsigte van slaglammers aangebied, waartydens verduidelik is hoe ’n karkas moet lyk wat aan die behoeftes van die verbruiker voldoen.

Ander kompetisies

In die perde-afdeling was daar ook ’n verblydende inskrywing van meer as 80 perde wat in verskillende klasse deelgeneem het. Die Noord-Kaap Trekperdkampioenskap is aangebied Amerikaanse saalperde is beoordeel.

Daar was ook ’n pluimvee- en duiweskou. Die organiseerder van laasgenoemde, Francois Jooste, sê dat hoewel daar nie baie inskrywings was nie, daar goeie mededinging in hierdie afdelings was.

Juhillin van Wyk is ’n opkomende boer wat beslis dopgehou kan word. Hy het die beste enkelkarkas sowel as die beste groep karkasse onder opkomende boere vertoon.

Die Williston-jeugskou was vanjaar groter en kinders van sover as Upington het aan die verrigtinge deelgeneem. Die stalletjies, heerlike etes en kuiergeleenthede het, soos in die verlede, iets vir almal gebied. – Koos du Pisanie, Veeplaas