Die Kangnas-windkragaanleg het pas met kommersiële bedrywighede begin. Dit maak van dié windkragaanleg die eerste bodfase 4-windkragaanleg in die Noord-Kaap om as deel van die regering se program vir die verkryging van onafhanklike vervaardigers van hernubare energie, in werking gestel te word.

Read it in English.

Die windkragaanleg is buite Springbok geleë en sal genoeg skoon energie opwek om krag aan net meer as 150 000 gemiddelde Suid-Afrikaanse huishoudings te voorsien. Die windkragaanleg sal gedurende sy geraamde lewensduur van 20 jaar, elke jaar sowat 513GWh hernubare energie opwek.

’n Trots Suid-Afrikaanse windkragaanleg

Die windkragaanleg is deur ’n trots Suid-Afrikaanse span gebou, met meeste van die arbeidsmag wat uit die Nama Khoi-munisipaliteit gewerf is. Die massiewe 14OMW-windkragprojek beskik oor 61 turbines en is een van twaalf windkragaanlegte wat tydens hierdie verkrygingstydperk gebou is.

“Hierdie nuwe windkragprojekte sal gesamentlik help om die land se opwekkingskapasiteit met 1,3GW te verbeter, in ’n tyd wat meer energie benodig word om Suid-Afrika tydens die post-COVID-19-era te herbou,” sê Manie Kotzé, konstruksiebestuurder van die Kangnas-windkragaanleg.

“Met bedryfstendense en die Departement van Mineraalbronne en Energie se vereistes vir plaaslike inhoud as riglyne, het ons baie hoë vlakke van plaaslike inhoud behaal, wat 45% oorskry het. Dit sluit plaaslik vervaardigde torings vir die turbines in, sowel as die projek se megatransformator, wat ook plaaslik vervaardig is. Dit het gehelp om die vraag na plaaslike vervaardigers te verhoog, aangesien hierdie items voorheen van oorsee af ingevoer is.”

Plaaslike gemeenskappe trek voordeel uit die projek

Die gemeenskappe van Nababeep, Springbok, Concordia, Matjieskloof, Bergsig, Okiep en Carolusberg sal gedurende die kommersiële fase direk uit ontwikkelingsprogramme baat, wat daarop gemik is om veerkragtigheid en plaaslike kapasiteit te verbeter. Verskeie van hierdie ontwikkelingsprogramme is reeds tydens die konstruksiefase uitgerol.

Tot op hede is studiebeurse aan studente van die plaaslike gemeenskap toegeken, maatskaplike- en COVID-19-verligtingshulp verleen, vroeëkinderontwikkelingsinisiatiewe befonds en suurstofmasjiene aan ’n plaaslike gesondheidsorgsentrum in Springbok geskenk.

“Soos ons die nuwe fase betree, is ons bly om te sien hoe talle van ons ontwikkelingsprogramme reeds ’n verskil gemaak het. Hierdie programme help om sosio-ekonomiese ontwikkeling sowel as die ontwikkeling van plaaslike ondernemings teweeg te bring en bied ondersteuning aan plaaslike gemeenskappe,” sê Kotzé. – Persverklaring, Kangnas Wind Farm