Die Suid-Afrikaanse wynbedryf pas voortdurend by uitdagings aan – van COVID-19 tot droogte, klimaatsverandering en veranderende verbruikerstendense. Dit was duidelik uit ʼn reeks van ses streekswebinare wat Winetech en Vinpro deur die loop van Mei aangebied het.

Nagenoeg 300 mense het vir die sessies ingeskakel, wat weens die COVID-19 inperkings vir die eerste keer ooit digitaal aangebied is.

Lesse uit die droogte

Hoewel die meeste wingerde teruggebons het na die vorige paar jaar se droogte, is klimaatsverandering steeds ʼn werklikheid en sal die waardevolle lesse oor optimale waterbestuur wat wyndruifprodusente uit die droogte geleer het hul goed te pas kom.

Na die afgelope paar droë seisoene in die Robertsonstreek moet wyndruifprodusente bedag wees op laer reserwevlakke in die wingerdstok. Dr Albert Strever van die Universiteit van Stellenbosch (US) raai aan dat produsente oorbesproeiing en die oormatige gebruik van bemesting beperk aangesien dit tot swak lootrypwording en geil groei aanleiding kan gee. Strewe na balans in lowerbestuur, beskerm blaardoeltreffendheid en verhoed te veel oogladings.

Dit is uiters belangrik dat drupbesproeiingstelsels ten minste een maal per jaar gespoel word om optimale waterverbruik te verseker. Abie Vorster van Netafim sê die eerste stap in enige onderhoudsplan is om ʼn volledige waterontleding te doen. Suur word gebruik om soute en karbonaatneerslae in ʼn besproeiingstelsel te verwyder asook waterstofperoksied vir alle biologiese probleme.

In die Olifantsrivierstreek is ʼn langtermyn waterbestuurprojek geloods, waarvan Gert Engelbrecht van Vinpro die eerste resultate gedeel het. Namate meer breedvoerige resultate beskikbaar is, sal produsente tydens produsentedae in kommersiële wingerde daaroor toegelig word.

Volgens prof Johan Burger van US is daar ʼn ligpunt uit die droogte in die Olifantsrivierstreek. Dit is die feit dat die visuele en diagnostiese voorkoms van astervergelingsiekte drasties afgeneem het, danksy die afwesigheid van alternatiewe gasheeronkruide, asook ʼn afname in bladspringers wat as vektor vir die siekte dien.

Beplan vir klimaatsverandering

ʼn Studie oor die effek van klimaatsverandering bevestig dat die besproeiing en bemesting van jong wingerdstokke hersien sal moet word namate temperature en CO2-vlakke verhoog. Dr Hanlé Theron van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) het aan die hand van navorsingsresultate aangedui dat wingerdstokke goed gegroei het soos wat temperatuur en CO2-vlakke verhoog het – mits daar genoegsame water beskikbaar was.

Grondtemperatuur is ʼn deurslaggewende faktor wanneer dit by lowerontwikkeling kom, en gegewe klimaatsverandering sal produsente hierdie aspek beter moet bestuur deur onder meer die saai van dekgewasse en besproeiing. Volgens prof Alain Deloire van Montpellier SupAgro, is daar ook ʼn verwantskap tussen laat snoei en die vertraagde ontwikkeling van lower.

Doelgerigte dekgewasse

Die gebruik van dekgewasse in die wingerd het nou reeds ʼn onontbeerlike en gespesialiseerde deel van presisie-wyndruifverbouing geword. “Die vraag is nie meer óf jy ʼn dekgewas moet plant al dan nie, maar eerder wátter een die beste by jou doelwit gaan pas,” sê Hanno van Schalkwyk van Vinpro.

Volgens Ivan Janse van Rensburg van Barenbrug is ʼn wye reeks dekgewasspesies en -mengsels beskikbaar om spesifieke doelwitte te bereik, onder andere die opbou van koolstof, verhoging van mikrobiese aktiwiteit, die verbetering van gronddeurlugting, stikstofbinding, onkruidonderdrukking of die voorkoming van erosie. Die gebruik van ʼn dekgewas soos medics op die bankie lyk ook belowend vir organiese wingerde en produsente wat minder onkruiddoders wil gebruik.

Stoney Steenkamp van Stoney Landboudienste het ook voorgestel dat dekgewasse onder drupbesproeiing op die bankie geplant word – veral waar intensiewe besproeiingsgebiede droogtetoestande ervaar – om goeie groei te verseker. Slegs 1% organiese materiaal wat opgebou word danksy die dekgewasse kan tussen 50 en 75mm water stoor en is dus onontbeerlik vir volhoubare boerdery.

Bestuur wind en plantspasiëring

Die voorkoms van wind is een van die Suid-Afrikaanse wynbedryf se mees kenmerkende eienskappe en moet dus ʼn bepalende faktor in wingerdvestiging en -bestuur wees. Dr Philip Myburgh van die Landbounavorsingsraad (LNR) Infruitec-Nietvoorbij het tydens die webinaar verduidelik dat wind grootskaalse evapotranspirasie vanaf die grondoppervlak veroorsaak, wat deur dekgewasse, windbrekers, ryrigting en besproeiingskedulering wat deurlopend hersien word, bestuur kan word.

Buiten ryrigting het plantspasiëring binne in ʼn wingerdry ’n groot effek op wingerdprestasie, sê dr Kobus Hunter van die LNR Infruitec-Nietvoorbij. ʼn Proefwingerd is in Robertson gevestig om wisselende tussenstokafstande te ondersoek op hoë-potensiaal grond. Spasiëringskeuses moet volgens dr Hunter die balans tussen die stok en die omgewingsfaktore in ag neem.

Omgewingsvriendelike verbouing

ʼn Groter vraag na biodinamiese en organiese wyne wêreldwyd lei daartoe dat wyndruifprodusente hul wingerdpraktyke al hoe meer by hierdie beweging aanpas, onder andere deur nuwe dekgewasspesies en alternatiewe maniere om onkruid, plae en siektes soos stamsiektes te beheer.

Volgens Edo Heyns van AdVini, hou organiese en biodinamiese wyne groot markgeleenthede in vir diegene wat hierdie roete wil volg, en die mark groei steeds. Hoewel die verbouing van hierdie wingerde groter uitdagings bied, word aansienlik hoër pryspunte vir organiese en biodinamiese wyne behaal – tot 48% hoër in Amerika – as konvensionele wyne.

Sekere dekgewasspesies kan die aantal miere in die wingerd laat afneem, soos bevestig is deur dr Pia Addison van US. Navorsing het getoon dat patogeniese nematodes en swamme voordele inhou vir die beheer van snuitkewers – bevindinge wat onder kommersiële toestande bevestig moet word.

Dr Francois Halleen van die LNR Infruitec-Nietvoorbij het tydens ʼn oorsig oor stamsiektes, die gehoor toegelig dat dooie draers in Sauvignon Blanc en Cabernet Sauvignon dikwels aan patogeniese fungi toegeskryf kan word wat snoeiwonde binnedring. Snoeiwonde kan met trichoderma, ʼn voordelige swam, beskerm word.

Wyndruifprodusente van regoor die wêreld kyk ook na groener tegnologie soos herwinningspuite, meganiese onkruidbeheertoestelle en gedeeltelike siekteweerstandbiedende wyndruifsoorte. Hierdie was van die tegnologie en navorsing wat Conrad Schutte van Vinpro teëgekom het tydens ʼn studietoer na Italië in Januarie 2020.

Die impak van COVID-19

Volgens Yvette van der Merwe van die Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting en -Stelsels (SAWIS), het plaaslike wynverkope sedert die einde van 2019 gedaal – in lyn met internasionale tendense.

Gegewe ʼn wanbalans tussen aanbod en vraag, waartoe die verbod op drankverkope tydens die COVID-19-inperking grootliks bygedra het, word prysverlagings in die komende jaar verwag, maar kan dit in die volgende twee tot drie jaar geleidelik herstel.

Buiten die negatiewe effek op wynverkope en -pryse, is die wyntoerismesektor ook ernstig deur die COVID-19-inperkings geknou wat kontantvloei-uitdagings regdeur die wynbedryfwaardeketting meebring. Christo Conradie van Vinpro sê heelwat wynbesighede wêreldwyd gaan nie die mas kan opkom nie.

ʼn Ligpunt is egter die plaaslike en internasionale toename in aanlynwynverkope. Wynbedryfliggame werk ook onverpoos aan oplossings om die effek van COVID-19 op besighede en die bedryf as geheel te versag. – Persverklaring, Vinpro