Die oppervlakte- en eerste produksieskatting vir wintergewasse vir 2019 is pas deur die Nasionale Oesskattingskomitee vrygestel.

Read it in English

Koring

Die verwagte produksie vir koring is 1 916 miljoen ton, wat 2,55% of 47 650 ton meer is as die vorige seisoen se oes van 1 868 miljoen ton, terwyl die verwagte opbrengs 3,57 t/ha is.

Die verwagte produksie in die Wes-Kaap is 861 250 ton (45%), wat 29 250 ton minder is as die 890 500 ton geproduseer in die vorige seisoen. In die Vrystaat is die verwagte produksie 462 500 ton (24%), wat 77 500 ton meer is as die vorige seisoen se oes van 385 000 ton. In die Noord-Kaap is die beraamde produksie 281 250 ton (15%) – 13 250 ton minder as die 294 500 ton geproduseer in die vorige seisoen.

Die oppervlakteskatting vir koring is hersien na 537 000ha, wat 50 hektaar hoër is as die 536 950ha teenoor die vorige skatting. Die beraamde oppervlakte geplant in die Wes-Kaap is 325 000ha of 61%, die Vrystaat is 125 000ha of 23 % en 37 500ha of 7% is in die Noord-Kaap.

Ander gewasse

Die produksieskatting vir moutgars is 401 460 ton, wat 4,75% of 20 040 ton minder is as die vorige seisoen se oes van 421 500 ton. Die oppervlakte beplant word beraam op 131 960ha, terwyl die verwagte opbrengs 3,04 t/ha beloop.

Die verwagte kanola-oes is 103 600 ton, wat 0,86% of 900 ton minder is as die vorige seisoen se oes van 104 500 ton. Die oppervlakteskatting vir kanola is 74 000ha met ʼn verwagte opbrengs van 1,40 t/ha.

Die hersiene oppervlakteskatting vir hawer (ontbytgraan) vir die 2019-seisoen is 25 000ha en die verwagte oes is 40 000 ton. Die verwagte opbrengs is 1,60 t/ha.

Reënval speel ‘n groot rol

Volgens Wandile Sihlobo van Agbiz sal dit, as die geskatte oes van 1,92 miljoen koring realiseer, Suid-Afrika se grootste koringoes in ‘n dekade wees. Die rede vir hierdie hoë skatting is te danke aan beide ‘n verhoging in plantarea, maar ook die vooruitsig van goeie weer, wat op sy beurt goeie opbrengste kan lewer.

Die goeie reënval wat die afgelope paar weke in dele van die Wes-Kaap ondervind is en voller damvlakke in provinsies waar gewasse onder besproeiing is, is optimisties en dui op moontlike goeie opbrengste. Winterkoringgewasse lyk tans goed in meeste dele van die land, maar daar is ‘n behoefte aan opvolgreënval voordat gewastoestande verswak, veral in die Wes-Kaap.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het op 30 Julie positiewe nuus gehad. Dié agentskap voorspel ‘n moontlikheid vir bogemiddelde reëvaltoestande tussen Augustus en Oktober oor die Wes-Kaap. Die 1,92 miljoen ton is maar ‘n eerste skatting en baie kan in die komende maande verander. Die verwagte reënval sal egter ‘n beslissende faktor speel wanneer die volgende skatting gedoen word.

Die tweede produksieskatting vir wintergewasse vir 2019 sal op 26 September vrygestel word. – CEC-verslag & Agbiz-kommentaar