In die somermaande, wanneer die reën val, die gras langer word en die temperatuur styg, sien almal die rooi parasietligte flikker. Maar wat van die winter?

Read it in English.

Dr JG Nel, tegniese bestuurder by Ascendis Animal Health, sê dit is waar dat die warmer maande met ’n hoë lading inwendige en uitwendige parasiete geassosieer word, maar daar moenie van die wintermaande vergeet word nie. Sekere parasietspesies kan ook in die winter ernstige probleme en produksieverliese veroorsaak.

Probleme in die winter

Volgens hom kan daar in reënvalstreke waar die winters nie so koud is nie, dwarsdeur die jaar probleme wees met sekere parasietspesies.

“Goeie voorbeelde van interne parasiete wat in die winter voorkom en tot produksieverliese kan lei, sluit in lewerslak (Fasciola sp.) en peervormige maagslak (Calicophoron microbothrium). Sekere rondewurmspesies, soos bruinmaagwurm (Telodorsagia circumsincta en Ostertagia ostertagia) in skape en beeste, sowel as bankrotwurm (Trichostrongylus sp.) in skape, kan veral in die winter probleme in winterreënvalstreke veroorsaak,” verduidelik hy.

Hy voeg by dat uitwendige parasiete soos brandsiektemyte (Psoroptes ovis), wat ’n staatsbeheerde siekte is, sowel as bytende en suigende luise (Damalinia sp. en Linognathus sp.), se voorkoms ook gedurende die wintermaande kan toeneem.

Volgens dr Nel neem die bosluisgetalle in die winter af, maar die onvolwasse larf- en nimfstadiums, wat nie met die blote oog gesien kan word nie, kom dan op diere voor en kan later probleme veroorsaak. “Neusvlieglarwes (Oestrus ovis) kan ook gedurende die wintermaande in skape se neusholtes oorwinter of oorleef, om uiteindelik probleme in die lente- en somermaande te veroorsaak.”

Swakker weiding en immuniteit

Die rede waarom sekere parasiete in die wintermaande kan toeneem, is hoofsaaklik omdat die voedingswaarde van natuurlike weiding in die winter afneem en diere se natuurlike immuniteit ook verlaag as die nodige voedingstowwe nie aangevul word nie. ’n Hoë parasietbelading kan ook die benutting van waardevolle voedingstowwe in hierdie krisistyd belemmer.

Dr Nel meen dat die winter in sekere dele van die land die ideale tyd is wanneer inwendige parasiete, soos lewerslak, ‘n vastrapplek kan kry. “Sodra die minimum temperature in die winter tot onder 10°C begin daal, begin varswaterslakke, wat as tussengangers optree, in die modder skuil. Die onvolwasse stadiums van die lewerslakparasiet verlaat die slakkie dan om op weidings te vestig. So raak herkouers besmet, veral waar in nat gebiede gewei word.”

Hy waarsku dat sekere rondewurmspesies, soos die bruinmaagwurm en bankrotwurm, in koue en nat winterreënvalstreke floreer. Besmetting met hierdie parasiete is gevolglik in dié tyd hoog.

“Die winter is in sekere gebiede ook gunstig vir sekere uitwendige parasiete. Uitwendige parasiete soos luise en myte se voorkoms kan toeneem as die omgewing op die gasheer, veral skape, en omgewingsfaktore gunstig is. Wanneer die wol lank is en die omgewingstemperatuur is laag, is die toestande vir hierdie parasiete gunstig om te vermenigvuldig en te oorleef. Hoë getalle kan dan op die gashere voorkom, wat erge besmettings tot gevolg het,” sê hy.

Algemene siektetekens

Die siektetekens by inwendige parasiete hang af van die spesie waarmee die dier besmet is. Algemene siektetekens is ’n verlaagde eetlus, diarree, bloedarmoede, wat waargeneem word as bleek oogslymvliese, en lae proteïenvlakke, wat waargeneem word as kwakkeel.

Laasgenoemde twee siektetekens word veral waargeneem met hoë rondewurm- en lewerslakbesmettings. Dit kan tot akute vrektes by skape lei.

Die siektetekens wissel by uitwendige parasiete ook van spesie tot spesie. Die tekens van luis- en mytbesmettings is soortgelyk. Diere jeuk en sal hulself aanhoudend krap en byt, en sodoende, in die geval van skape, die wol uitpluk. In sommige gevalle kan letsels op die vel waargeneem word en wolverliese kan voorkom, wat groot produksieverliese tot gevolg kan hê.

Omvang van besmetting

Volgens dr Nel is die siektetekens wat waargeneem word, net die punt van die ysberg. “Wanneer ’n paar van jou diere dieselfde siektetekens toon, is dit wenslik om die plaaslike veearts se hulp in te roep om met sekere diagnostiese metodes te bepaal watter parasiete teenwoordig is.

“Miseierflotasie en miseiersedimentasie kan gedoen word om vas te stel watter inwendige parasiete teenwoordig is. Miseiertellings kan ook gedoen word om te bepaal hoe erg die besmetting is. Indien diere geslag word of wanneer ’n nadoodse ondersoek op ’n dier wat gevrek het gedoen word, kan die spysverteringskanaal (vanaf die blaarpens tot by die dikderm) en lewer ondersoek word vir die teenwoordigheid van inwendige parasiete.

“Die vel tussen die hare of wol kan noukeurig ondersoek word vir uitwendige parasiete soos luise, sowel as die larf- en nimfstadiums van bosluise. ’n Velskraap kan ook van letsels gedoen word om vas te stel of diere met myte besmet is. Dit is noodsaaklik om uitwendige parasiete akkuraat te identifiseer, aangesien die tekens baie dieselfde is en toepaslike behandeling slegs kan geskied nadat die parasiet akkuraat geïdentifiseer is,” sê hy.

Doeltreffende behandeling

Verskeie middels is op die mark beskikbaar, wat baie doeltreffend gebruik kan word om inwendige en uitwendige parasiete te behandel. Dit is egter noodsaaklik dat die parasiet én die stadium in sy lewensiklus korrek geïdentifiseer word om dit akkuraat te doen.

Dr Nel verduidelik: “Middels wat triklabendasool bevat, kan byvoorbeeld gebruik word om die onvolwasse sowel as die volwasse stadiums van lewerslak te behandel. ’n Middel wat oksiklosanied of resorantel bevat, kan gebruik word om die onvolwasse sowel as die volwasse stadiums van peervormige maagslak te behandel.

“Middels wat enige van die makrosikliese laktone (soos ivermektien, doramektien of abamektien) bevat, sal doeltreffend wees teen suigende luise en myte op skape, maar nie teen bytende luise nie. Die belangrikheid van ’n akkurate diagnose of identifisering van die spesifieke parasiet moet weereens beklemtoon word om te verseker dat die regte behandeling toegepas word. Dit is ook belangrik om te weet of die diere net een behandeling of ’n opvolgbehandeling moet kry.”

Voorsorg is beter as nasorg

Volgens dr Nel kan goeie bestuur op die plaas tot ’n groot mate besmetting met winterparasiete voorkom. Om besmetting met lewerslak en peervormige maagslak te voorkom, moet nat gebiede soos vleie en riviere in die herfsmaande vermy word. Dit help om die besmetlike stadiums, wat die waterslak gedurende dié tyd van die jaar ondergaan, te voorkom.

Hy raai produsente ook aan om strategiese behandeling gedurende die vroeë winter, so twee weke vandat die minimum temperatuur onder 10°C gedaal het, te doen in gebiede waar daar ’n hoër voorkoms van lewerslakbesmetting is om besmetting in die winter te voorkom. ’n Middel wat triklabendasool bevat kan vir strategiese behandeling gebruik word. Strategiese behandeling vir peervormige maagslak kan in die laatwinter gedoen word.

“Strategiese lewerslakbehandeling, met ’n middel wat doeltreffend is teen volwasse stadiums, kan gedurende die vroeë lente gedoen word om ontslae te raak van volwasse lewerslakke wat deur die winter oorleef het. So kan die besmetting van weidings met lewerslakeiers beperk word en die lewensiklus tot ’n sekere mate onderbreek word,” is sy raad. – Koos du Pisanie, Veeplaas