Die Oos-Kaap is geografies ’n diverse provinsie met sewe verskillende biome in ’n geskatte 168 966km². Min dinge is so wisselvallig soos die weerstoestande in dié provinsie, wat die tweede grootste in Suid-Afrika is.

Veeplaas het in die lig hiervan by ’n paar veeboere gaan kers opsteek oor hoe hulle hul weiding voor en in die wintermaande bestuur.

Legacy Angoras & Breipaal Merino’s

Gert en Pieter Jordaan, ’n pa-en-seunspan van Legacy Angoras & Breipaal Merino’s, boer naby Aberdeen met stoet- en kommersiële Merino’s en Angorabokke. Dit is ’n somerreënvalgebied wat hoofsaaklik uit gemengde Karoobossies, struike, soetdoringbome en pioniergrasse bestaan.

Pieter sê: “As dit in die herfsmaande reën, reageer die veld selfs beter as in die somermaande en bly dit ondanks die ryp groen.

“Droogtes is eerder die reël as ’n uitsondering. Daarom sorg ons dat daar genoeg spaarveld is. Die veld se samestelling is van so ’n aard dat die graskomponent, waarvan die voedingswaarde baie laag is, ná die eerste ryp feitlik weglaatbaar is. Die Karoobossies het nietemin ’n redelike goeie proteïeninhoud in die winter.”

Mielies en lekaanvullings

“Die Angora-ooie word in April en Mei gepaar en as daar genoeg materiaal op die veld is, word slegs 200 tot 250g mielies per ooi in ’n streep op ’n harde plek uitgegooi.

“In droë winters kry die bokooie van dag 90 van dragtigheid af ’n hoë-energielek wat, soos die dragtigheid vorder, later met ’n proteïenkomponent aangevul word. Op 120 dae word ’n produksielek met ’n proteïenkonsentraat bygegee.”

Pieter sê swaardragtige bokooie op ’n hoër energie-aanvulling reageer beter op hantering in skeertyd.

Kruipvoer vir lammers

Om die grootmaakkoste van lammers te beperk, lam die meeste van hul Merino-ooie teen middel-November. “Die Angoras lam seisoenaal – wat om skeertye beplan word.”

In moeiliker jare kry die volwasse diere ’n energie-aanvulling en die lammerooie ’n produksielek, wat ’n konsentraat soos Maxiwol of Wolmeester bevat, asook mieliemeel en sout om hul inname te beheer.

“Die lammers kry van die ouderdom van twee weke af ’n kruipvoermengsel totdat hulle gespeen word. Daarna word hulle na die beste kampe geskuif waar, indien nodig, ’n produksielek gegee word wat gelykstaande is aan dié wat ons vir die lakterende ooie gee.”

Vir meer inligting, kontak Pieter Jordaan by 072 045 7204 of pieterjordaan687@gmail.com.

Die Jordaan-familieboerdery

Die meeste vroulike diere van die Jordaan-familieboerdery is in die winter dragtig, en wintervoorbereiding begin reeds in Januarie en Februarie.

Zirk Jordaan is deel van die Jordaan-familieboerdery, wat by Somerset-Oos met Merino’s, Angoras en Bonsmaras boer.

Volgens hom waarborg drie belangrike aspekte die sukses van vee-voorbereiding vir die winter:

  • Die toestand en gehalte van die veld.
  • Die vasstelling van die kondisie en produksiestadium van vee.
  • Die produsent se ingesteldheid, betrokkenheid en aanpasbaarheid by die boerdery-omstandighede.

Maatstaf vir voer

“Die wintermaande het ons geleer om meer betrokke en aanpasbaar te wees. Die maatstaf vir die bepaling van voer is volgens voedingkundiges ses weke voor lam. Dié berekening is egter te laat vir ons, omdat daar te min kos op die veld is vir ’n ooi wat in Augustus of September moet lam.

“Die vroulike diere se vitamien-, mineraal- en energievlakke moet optimaal bly. Daarom word die Merino-ooie ’n maand vroeër as in die verlede van die berge na die vlaktes gebring, waar hulle minder energie benodig. Kleiner troppe werk beter, met minder mededinging by die lekke en waterbakke, terwyl die ooie se gemiddelde lekinname ook verbeter,” sê hy.

Angoras se lamtyd

Zirk sê die Angoras lam in September op die veld en word, behalwe vir die gewone inentings en doserings, ’n maand voor lamtyd met Multimin gespuit. “Die ooie kry ’n energielek deur die winter en die inname word ses weke voor lamtyd verhoog.

“Angorabokkies wat op die veld grootgemaak word se vitamien-, mineraal- en energievlakke moet bogemiddeld wees. Hulle leer by die ooie om die lek te vreet en kry basies van geboorte tot met die winterskeer van die energielek, afhangend van die veld se gehalte. Die bokkies kry 50 tot 75g per dag, en omdat hulle so min vreet, is dit baie kostedoeltreffend.”

Die bokke se lek bestaan uit:

  • 200kg mieliemeel.
  • 40kg melassemeel.
  • 25kg katoenoliekoek.
  • 50kg medium sout.
  • 5kg voerkalk.
  • 7,5kg Landman Premix.

Vir meer inligting, kontak Zirk Jordaan by 083 443 0977 of zirk@jabama.co.za.

Coetzeeberg Boerdery Beperk

Volgens Toit Lötter wissel die reënval in die Pearston-distrik deur die jaar, terwyl herfs die veld se beste groeityd is.

Toit Lötter van Coetzeeberg Boerdery Beperk in die Pearston-distrik boer met Geelbek-Merino’s, Angoras en Beefmasters. Hulle is op die grens van gras- en gemengde Karooveld, met ’n drakrag van 12ha per grootvee-eenheid. Die reënval wissel deur die jaar, terwyl herfs die veld se beste groeityd is.

“Ons winters is nie baie straf nie en as dit reën, groei die bossies steeds. Die afgelope paar jaar moes ons egter ’n kopskuif maak met min reënval, wat die lam- en spaarkampe laat verswak het.”

Behalwe vir goeie veldbestuur, konsentreer hulle op die verspreiding en toeganklikheid van water. “Water is een van die mees onderskatte hulpmiddels in die winter en in ’n droogte. Ons het sinkdakke op die sementdamme gesit, wat die water skoon hou, water bespaar en die groei van alge, wat die pype kan verstop, beperk.”

Gevolge van die droogte

Toit sê die besetting van die ooie was vanjaar swakker as gevolg van die droogte, en dragtige diere geniet voorkeur. “Met die naderende winter, is die vee in kleiner troppe verdeel en versprei om ’n goeie lammeroes te verseker. Dit is die belangrikste deel van die boerdery – ons teel met vee om te verkoop, nie om vee in te koop nie.”

Die droë ooie is na swakker veld geskuif, waar hulle ’n basiese energieblok kry. Die dragtige ooie het al in ’n vroeë stadium Maxi- of Elite-blokke gekry. Al die ooie is voor die voet met Multimin gespuit en voorsorg is teen inwendige parasiete getref.

Toit het kruipvoerhokke gebou waar die lammers kan vreet, en een by elke waterpunt geplaas. “Dit is baie belangrik om te sorg dat die ooie die lammers leer vreet voordat die kruipvoerhek opgesit word.” Dit werk volgens Toit so goed dat hy selfs in makliker jare daarmee wil volhou.

Voer diere voluit

“Vroegspeen is ook ’n opsie wanneer die ooie swaarkry. Die lammers kry voerpille, of ’n mengsel van lusern, mieliemeel, SS200, Procon en molassemeel. Voluit voer is beter as half voer en as die situasie dit toelaat, verkies ek dit om die lammers van die ooie af aan voerkrale te bemark,” vertel hy.

Toit is van mening dat die afgelope vier jaar se droogtetoestande besig is om ten einde te loop. “Ons moet nou let op parasiete en ’n goeie inentingsprogram.”

Vir meer inligting, kontak Toit Lötter by 082 782 5235 of toitlotter@gmail.com.

Tempevale Bonsmaras

Suksesvolle boerdery hang af van die seleksie van die regte tipe diere vir die toestande, optimale en ekonomiese aanvullings, en spesiale aandag aan die bestuur van die veld.

David Cock van Tempevale Bonsmaras boer in die grasveld by Barkly-Oos, waar die winters droog en koud is – die nagtemperature daal dikwels tot onder -10°C. Die veld word in die winter gekenmerk deur lae gehalte, droë, volgroeide gras wat laag in proteïen en swak verteerbaar is.

David sê die omgewingstoestande is elke seisoen verskillend. Die tydsberekening van aanvulling en die kondisie van die vee verskil derhalwe van jaar tot jaar. “Die doeltreffendheid en produktiwiteit van die kudde kan drasties verbeter word deur aan die diere ’n proteïenlek, wat vitamiene en minerale bevat, te voorsien. Ons vul die natuurlike veld aan met ’n 45% proteïenlek wat uit 37% NPN (ureum-komponent) en 8% verbyvloeiproteïen bestaan. Die beeste neem tussen 400 en 600g per dag in.

“Ons volg ’n wisselweidingsprogram met voldoende rustydperke, wat voorsiening maak vir saad om in die groeiseisoen op te kom. Ons wissel vinnig wanneer dit warm en droog is. In die koue, droë maande wissel ons egter stadig.”

Handhawing van kondisie

David se belangrikste prioriteit is om die kudde se liggaamsgewig en kondisie deur die winter, wanneer ’n koei se voedingsbehoeftes baie laer as in dragtigheid, laktasie en die teelfases is, te handhaaf. “Die swak gehalte van die veld bring mee dat dit die duurste voedingstyd van die jaar is. Dus probeer ons om slegs die liggaamsgewig te handhaaf, en bestuur ons nie dan vir ’n gewigstoename nie.

“By jonger diere is ’n winterlek ook belangrik vir fisiese ontwikkeling. Ons sluit dus meer energie en verbyvloeiproteïen by dié diere se winterlekke in. Hier streef ons na ’n klein gewigstoename van 200 tot 400g per dag.”

Oorgang tussen seisoene

David gebruik nie ’n oorgangslek van die somer na die winter nie, maar begin ná die eerste swaar ryp ’n winterlek voer. Hy vind dat die oorgang van winter na lente en somer ’n veel groter uitwerking op die kudde se liggaamskondisie het.

“Koeie is swaar dragtig of het pas gekalf, en daar is selde genoeg groen gras. Hulle kry ’n produksielek teen ’n tempo van ’n kilogram per dag. Hierdie lek bevat meer energie en verbyvloeiproteïen. In ’n goeie jaar kry net die eerstekalfkoeie spesiale aandag. Wanneer daar genoeg groen gras is, voer ons slegs ’n somer-fosfaatlek.”

Vir meer inligting, kontak David Cock by 082 345 7667 of tempevale@xsinet.co.za.

Karooveld Bonsmaras

Dirk Spaargaren gebruik die winterfase om die sterker Bonsmaras, wat sy stoet sal verbeter, te selekteer.

Die Karoo, wat bekend is vir sy bergagtige riwwe en uitgestrekte vlaktes, is waar ’n mens die bekende bakens Koffiebus en Teebus sal aantref. Dirk Spaargaren van Karooveld Bonsmaras boer op dié semi-Karooveld tussen Middelburg en Steynsburg.

Hy sê wanneer ’n mens na tegnologie kyk, is dit duidelik dat niks verander het wat diere se voedingsbehoeftes betref nie. “Proteïen, energie, mikro- en makro-elemente (minerale) was nog altyd ’n noodsaaklike en onveranderlike deel van beeste se voer.”

’n Voortdurende produksiesiklus

Die bestuur van sy Bonsmaras draai om ’n voortdurende produksiesiklus, waar die doelwit is om die volgende koei bevrug te kry sodra ’n kalf een week oud is.

“Ons winters is moeilik en dikwels droog, so die beste kalftyd is van November tot Januarie. Die koeie met die langste tussenkalfperiode (TKP) kalf in Augustus en September, terwyl dié met die kortste TKP in Desember en Januarie kalf,” vertel hy.

Hy bestuur ’n wisselweidingstelsel in die reëntyd, wanneer die grassade opkom. “Die proteïeninhoud is voldoende om beeste in die somermaande te voed. Die voorbereiding van beeste vir die wintermaande beteken egter nie noodwendig dat ’n mens almal in beter kampe plaas nie.”

Spaarkampe vir die winter

Dirk spaar dié kampe vir die wintermaande, wanneer wisselweiding nie toegepas word nie omdat die veld rus en beskadig kan word as ’n groot aantal diere daarop wei.

“Dit is noodsaaklik om die winter aan te durf met koeie wat in goeie kondisie is. Ek lê ook klem op die tydige voorsiening van goeie winterlekke, gewoonlik ná die eerste ryp, wanneer die veld se voedingswaarde begin afneem. Lae wintertemperature vereis baie energie vir beeste om te oorleef. ’n Mens moet probeer om hulle vir so lank as wat dit ekonomies moontlik is in ’n goeie kondisie te hou.”

Dirk gee ook ’n ureum-winterlek om die proteïeninname in die laatwinter te verhoog. “Swak gehalte voer kan ’n leë maag vul, maar sonder die nodige aanvullings sal dit tot ’n onvoldoende winterinname per dag lei.”

Vir meer inligting, kontak Dirk Spaargaren by 082 936 6733 of d.spaargaren@karoomail.co.za. – Carin Venter, Veeplaas