Boere in Limpopo bly vol moed vir die toekoms, ondanks die feit dat die rampdroogte in sekere plekke voortduur. Groot dele van die provinsie het egter in die somer goeie reën gehad en die weidings is daar die beste in baie jare.

Johan Rabie, ’n bekende wildboer wat in die Harmonie-blok tussen Tzaneen en Hoedspruit boer, sê hulle het die beste winterweiding in vier tot vyf jaar gehad nadat dit in die somer goed gereën het. Dit het veral goed en wyd verspreid gereën in die tyd toe die gras vog die nodigste gehad het.

Johan sê dit het in die Laeveld ook vir die eerste keer in baie jare feitlik oral goed gereën. “Selfs in die rigting van Musina lyk die weidings goed. Ek voorsien dat ons die nuwe jaar met groot vertroue tegemoet kan gaan as dit vroeg in die lente reën.

“Dit is moeilik om te sê of bosindringing in die vorige vier droogtejare beduidend toegeneem het. As daar min gras is, sien ’n mens die bosse makliker en lyk dit of daar groter indringing was. Om dit korrek te bepaal, moet ’n mens proefpersele hê en die bosse tel. Daar is egter vir die eerste keer in sowat vyf jaar genoeg gras om van die kampe te brand om die bosse met vuur te beheer,” sê hy.

Verligting ná strawwe droogte

Gavin Bristow, ’n bekende Bonsmarateler wat suid van Makhado (Louis Trichardt) boer, sê hy het verlede somer, na vyf jaar se uitmergelende droogte, meer reën as die langtermyngemiddeld op die plaas gehad.

“My veld is in ’n uitstekende toestand en die beeste is in goeie kondisie. Die toekoms lyk baie rooskleurig. Ek is egter sku om te voorspel wat in die lente kan gebeur. Ek wag normaalweg tot aan die begin van Maart voordat ek ’n finale voorraadopname doen en besluit hoe om die uitdagings van die nuwe seisoen te hanteer.

“Die reënval was wisselvallig in my omgewing en daar is kolle suid en wes van my waar die boere steeds noustrop trek. Plekke noord van die Soutpansberge het skynbaar ook nie veel reën gehad nie. As hulle nie vroeg in die seisoen goeie reën kry nie, kan dit lol,” meen hy.

Droogtegeteisterde gebied

Dries Visser, ’n bekende wildboer van Steenbokpan noord van Thabazimbi, sê in sy omgewing is die droogte die afgelope ses jaar ’n ramp. Hy het in die vorige reëntyd sowat 200mm reën gehad, maar die opvolgreën het weggebly en die gras wat opgekom het, het weer doodgebrand. Die droogte strek wyd tot by Lephalale (Ellisras) en Thabazimbi.

Volgens Dries het die reën tog gehelp dat die blare langer aan die bome bly, wat gehelp het om die diere met byvoeding aan die gang te hou. “Ek is vol moed dat dit vanjaar, ná die koue winter, vroeg kan reën en dat voldoende reën sal val. Ek dink egter dat hoofsaaklik pioniersgrasse gaan opkom en dat dit jare kan duur vir die veld om te herstel. Ek sien dat die miere nog grassaad uit hul neste dra, maar dit is moeilik om te sê hoeveel werklik oor is. “Nog ’n bekommernis is dat geelhaak, wat ’n indringerbos is, besig is om toe te neem. Boere sal beslis aandag hieraan moet gee,” sê hy. – Andries Gouws, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel Johan Rabie by 082 555 3367, Gavin Bristow by 083 264 3890 en Dries Visser by 083 295 3190.