’n Skokgolf het deur die land getrek toe Lesotho se jare lange wol- en sybokhaarhandel met Suid-Afrika onderbreek is deur die aankondiging van die Landboubemarkingregulasies (Wol en Sybokhaar), Regulasie 37 van 2018.

Read it in English.

Om sake te vererger, verbied dié nuwe regulasies Basotho-boere ook om met wol en sybokhaar handel te dryf sonder ’n lisensie van Lesotho se ministerie van kleinsake, koöperasies en bemarking.

Die nuutgeboude Lesotho Wool Centre (LWC), ’n veilingslokaal in Thaba-Bosiu, is boonop deur ’n Chinese makelaar opgerig. Die hoofdoel van die LWC is om wol en sybokhaar wat van Lesotho afkomstig is, namens boere in ’n gesamentlike sakeonderneming tussen die Lesotho Nasionale Wol- en Sybokhaarkwekersvereniging (LNWMGA) en die Chinese sakeman Stone Shi, wat in beheer van Maseru Dawning Trading Company is, op te veil.

Talle Basotho-produsente toon groot teenkanting teen die nuwe regulasies. Hulle voel dat hulle van hul hoër inkomste in Suid-Afrika ontneem word en vrees dat hul toekoms as wol- en sybokhaarprodusente in gedrang is.

Farmers Rock Wool and Mohair, Mahloenyeng Trading en Highland Wool and Mohair het uit weersin en om hul ekonomiese regte te beskerm, die Hooggeregshof genader om die nuwe regulasies ongeldig te laat verklaar. Die uitspraak wat in die Hooggeregshof deur regter Moroke Mokhesi gelewer is, was egter nie in hulle guns nie. Hulle het gevolglik die Appèlhof in Januarie vanjaar genader om die regulasies nietig te laat verklaar, maar die saak is afgewys.

’n Suid-Afrikaanse perspektief

Beide die Suid-Afrikaanse makelaarsondernemings, OVK en BKB, se lisensies om in Lesotho handel te dryf, is teruggetrek.

Pierre van der Vyver, sybokhaarbestuurder by OVK, sê die Chinese het ’n ooreenkoms met die regering gesluit om wol en sybokhaar eksklusief onder die beskerming van LWC op te veil en uit te voer.

“Suid-Afrikaners moet weet wat in Lesotho gebeur. Die wol- en sybokhaarbedryf word deur Chinese opportuniste oorheers en dit is nadelig vir Lesotho se boere.”

Winste word teruggeploeg

Pierre sê OVK bedryf ’n maatskappy genaamd Poli Ea Thaba, wat ’n straatadres en geregistreerde fasiliteite in Lesotho het. “Dié maatskappy het die grootste gedeelte van die sybokhaarskeersel hanteer. Hoewel ons die sybokhaar in Suid-Afrika verkoop het, is die winste aan die 13 000 sybokhaarprodusente in Lesotho teruggegee.

“Een van die reëls in Lesotho se nuwe regulasies is dat sybokhaargeriewe ’n algehele vloerspasie van 9 000m² moet hê. OVK het twee aparte fasiliteite gehuur om aan dié vereiste te voldoen, aangesien geskikte geboue nie beskikbaar was nie. Ons lisensie-aansoek is egter afgekeur; volgens hulle moes dit een gebou wees en nie twee aparte persele nie. Die wetgewing stipuleer egter nie dat dit slegs een gebou moet wees nie. Ons het dus in alle aspekte aan die nuwe wetgewing voldoen, maar is aangemoedig om eerder ’n ooreenkoms met Stone Shi aan te gaan.”

Volgens Isak Staats, algemene bestuurder van wol en sybokhaar by BKB, het die verlies van Lesotho se wol- en sybokhaarskeersel beslis ’n negatiewe impak op die land se wolbedryf. “Ons moet die besluite wat geneem is aanvaar, aangesien Lesotho ’n onafhanklike land met sy eie reëls en wette is. Hoewel ons die regering kan help as dit nodig is, lê die produsente ons veral na aan die hart.”

Vergadering met rolspelers

’n Vergadering met koning Letsie III van Lesotho, die komitee van opperhoofde in Lesotho, afgevaardigdes van BKB, die Suid-Afrikaanse ramteler Eddie Prinsloo en die besturende direkteur van G Modiano SA (Pty) Ltd, Andrew Pape, is op 20 Februarie in Maseru gehou.

Isak sê dit het aan albei kante ’n geleentheid gegee om misverstande, soos die belasting op toegevoegde waarde (BTW)-kwessie, uit die weg te ruim. “Die nuwe regulasie stipuleer dat die BTW op veselverkope aan die Lesotho-regering en nie aan Suid-Afrika nie betaal moet word.”

Hy meen BTW kan volgens die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) slegs gehef word in die land waar dienste soos woltoetsing plaasvind. “BTW is voorheen in Suid-Afrika gehef op wol wat vanaf Lesotho na BKB in Port Elizabeth gestuur is. Ons het weens dié rede ’n makelaarsdiens in Lesotho begin – om die BTW in dié land te hou.

“Dit lyk ongelukkig of die produsente voortaan vir die ekstra koste verantwoordelik gaan wees. Dit beteken ook dat die Lesotho-regering uiteindelik moontlik ’n netto verlies gaan ly.”

’n Enorme krisis

Bewerings word gemaak dat korrupsie tussen die Lesotho-regering en sekere Chinese rolspelers, tot die huidige situasie aanleiding gegee het. Gerugte doen die rondte dat die geld wat vir die eerste wolverkope aan Stone Shi betaal is, in sekere Lesotho-ministers se sakke beland het. LWC word ook van ’n gebrek aan deursigtigheid beskuldig.

Volgens Isak en Eddie, wat albei die vergadering in Maseru bygewoon het, is daar onverwerkte sybokhaar by LWC wat nog nie verkoop is nie. Die seisoenale venster vir sybokhaarvesel is egter besig om te sluit. “Ons is bekommerd dat dit ’n invloed op die sybokhaar se gehalte sal hê. Intussen is die produsente ook nog nie betaal nie,” sê Isak.

“Die meeste van die wêreld se sybokhaar word in Suid-Afrika verwerk. Wat gaan nou van die sybokhaar in Lesotho word? Dis hoogs waarskynlik dat sybokhaarmakelaars elders gaan begin soek as die mark in Lesotho ongunstig bly.”

’n Netelige situasie

Volgens Eddie staar ramtelers in Suid-Afrika nou ’n probleem in die gesig deurdat baie van hul kliënte in die nabye toekoms nie meer in staat sal wees om ramme by hulle te koop nie. “Basotho-produsente het voorheen hul wolgeld in die tweede week van November ontvang. Dit het hulle in staat gestel om hul kinders skool toe te stuur, asook om kos en klere te koop. Sover het feitlik niemand nog enige geld vir hul wol ontvang nie.”

Eddie sê ’n voorstel is by die onlangse vergadering in Maseru gemaak, dat die fokus daarop moet wees om die Lesotho-wol so gou as moontlik te verkoop, ongeag wie die koper is.

Op pad na China

Altesaam 1 248 bale wol ter waarde van R21 miljoen, wat in twaalf vragmotors vanaf Thaba-Bosiu vervoer is en vir China bestem was, is op 16 Februarie by die Maseru-grenspos toegang tot Suid-Afrika geweier.

Die rede hiervoor was dat die LWC nagelaat het om ’n veterinêre vervoerpermit te kry om die wol na China te verskeep. Maseru Dawning Trading Company het skynbaar voorheen daarin geslaag om verpligte prosedures te ontduik en wol is onwettig deur Suid-Afrika na China vervoer.

Shi beweer egter dat sy onderneming gesaboteer word. “Hy glo daar is elemente in Suid-Afrika wat teen hom werk, maar ek betwyfel dit ten sterkste,” sê Isak.

Shi het sy uitvoersertifikaat, wat deur dr Relebohile Mahloane, Lesotho se direkteur-generaal van veterinêre dienste, uitgereik is, aan die owerhede gewys.

Dr Mahloane het gereageer deur te sê dat wol nie aan enige indringende inspeksie onderwerp behoort te word terwyl dit op pad na China is nie. “Ons het ’n sanitêre en fitosanitêre ooreenkoms onder beskerming van die Wêreldhandelsorganisasie. Suid-Afrika bevraagteken ons gesag, maar ek is oortuig daarvan dat hulle deur eksterne magte met duistere motiewe beïnvloed word.”

Hy het ook bewerings ontken dat die wol verhoed word om die grens oor te steek weens die opskorting van vetwolinvoere na China. Hy sê as dié bewerings waar was, sou China geweier het om wol van Lesotho te aanvaar.

Manama Letsie, woordvoerder van Maseru Dawning Trading Company, sê enige verdere vertragings in die wol se verskeping kan tot ’n toename in koste lei of selfs veroorsaak dat die vrag heeltemal verwerp word.

In retrospeksie

Die LWC het in 2017 ’n ondersoek gedoen oor die direkte bemarking van Lesotho se wol aan internasionale markte. Agt Chinese ondernemings het op die wol gebie.

Die adjunkminister van binnelandse sake, Machesetsa Mofomobe, se bevindings het getoon dat 17 van die 22 wolklasse meer geld ontvang het in vergelyking met wat Suid-Afrikaanse handelaars ontvang het. Hy sê die direkte bemarking van wol aan vervaardigingsmaatskappye, beteken die oorslaan van verskeie stadiums, soos vervoer na Port Elizabeth en die betaling van BTW by die grens. Dit sal die betalings aan plaaslike produsente verhoog.

Mofomobe meen die lokalisering en direkte bemarking van Lesotho-wol en sybokhaar aan internasionale markte sal die sake-omgewing, asook die monitering en evaluasie van transaksies, verbeter. “Alle wol en sybokhaar moet plaaslik deur ’n veilingstelsel opgeveil word en wêreldwyd erken word as produkte wat vanaf Lesotho afkomstig is.”

Vir meer inligting, kontak Pierre van der Vyver by 041 406 7500 of pvdvyver@ovk.co.za, en Isak Staats by 082 495 0628 of isak.staats@bkb.co.za.