Berigte dat rouwoluitvoere na China opgeskort is, is bevestig. Volgens Leon de Beer, hoofbestuurder van die NWKV, het die Chinese owerhede bevestig dat uitvoere van produkte van gespletehoefdiere vanuit Suid-Afrika na dié land verbied word. Volgens die dokument wat die verbod bevestig wil die Chinese owerhede sy eie land teen bek-en-klouseer beskerm en is daar dus besluit om invoere vanuit SA te stop. Sowat 70% van Suid-Afrika se wol word na China uitgevoer. Volgens de Beer was daar ‘n uitvoersertifikaat in plek wat gestel het dat munisipale grense in ag geneem kan word in die geval van ‘n siekte-uitbreking en uitvoere vanaf sekere gebiede dus steeds kan voortgaan. “Bek-en-klouseer was egter nie hierop gespesifiseer nie en die verklaring deur China het nou bevestig dat ‘n algemene verbod ingestel word.”

Met die onlangse aankondiging van die bek-en-klouseer uitbreking, is verskeie taakspanne op die been gebring. Een van dié taakspanne fokus op handel – om met Suid-Afrika se handelsvennote te kommunikeer en hulle gerus te stel dat produkte uit Suid-Afrika veilig is.

Volgens De Beer sal die wolbedryf deur die werk van dié taakspan dadelik met die Chinese owerhede onderhandel om die verbod om te keer. De Beer verduidelik dat die wolbedryf wel ’n naspeurbaarheidstelsel in plek het. Daar kan dus bewys word dat spesifieke wol uit gebiede kom waar bek-en-klouseer nie teenwoordig is nie. “Ons taak is nou om die Chinese owerhede te oortuig dat ons naspeurbaarheidstelsels betroubaar is en dat ons hoë-gehalte wol veilig is vir uitvoere na China.”

De Beer bevestig dat die regering en die bedryf op alle vlakke beskikbaar is vir gesprekke met Chinese owerhede en dat dit vir almal betrokke ’n baie hoë prioriteit is. “Dit word op die hoogste vlak hanteer en ons hoop om spoedig uitsluitsel te kry. Ons is gemaklik dat die saak die nodige aandag ontvang.”

Cape Wools SA het bevestig dat daar tydens ‘n bedryfsvergadering besluit is om die beplande wolveiling van 20 Februarie 2019 uit te stel. Die bedryf wag nou vir amptelike korrespondensie van die Chinese owerhede ten opsigte van die amptelike posisie van die Chinese buro vir inspeksie en kwarantyn teenoor Suid-Afrikaanse wol. – Marike Brits, AgriOrbit