Die Johannesburgse Aandelebeurs (JSE) se mark vir afgeleide kommoditeite het in 2017 ’n termynkontrak vir merinowol bekend gestel. Die kontrak, wat in kontant afgelos word, stel boere en wolkopers in staat om hul teen wisselvalligheid in die wolprys te beskerm. Dr Raphael Karuaihe, hoof van Kommoditeitsafgeleides by die JSE, het onlangs op Grootplaas en RSG Landbou hieroor gesels.

Cape Wools SA, wat die belange van wolprodusente, wolkopers, verwerkers, makelaars en handelaars verteenwoordig, het die JSE genader om so ’n produk van die grond af te bring, en dit is mettertyd ontwikkel.

Geen wol sal fisiek verhandel word nie, maar slegs kontantvereffening sal gebruik word. Volgens Karuaihe word ’n groot verskeidenheid wol – afhangende van kleur, kwaliteit, ensomeer – verhandel. Omdat die termynmark baie gestandaardiseerd is, sal dit ’n kopseer wees om eenvormigheid te bied vir ’n produk wat in so ’n groot verskeidenheid verkoop word.

Die aanwyser weerspieël bewegings in die wolprys deur ’n geweegde gemiddelde prys te bepaal van ’n gespesifiseerde hoeveelheid, en soorte wol wat op ’n spesifieke veiling verkoop word. Kuruaihe verduidelik dit aan die hand van ’n voorbeeld: “Die wolboer weet die skeerseisoen is op pad en is bekommerd dat die wolprys moontlik voor die veilingseisoen sal daal. Hy en sy makelaar besluit dan om die prys op R180 per kilogram vas te maak, en verskans sy wol om in November te verkoop en te lewer.

“ ’n Maand later het die prys gedaal na R170 per kilogram. Hy sluit dan sy kontrak af teen R170 per kilogram en hy maak R10 wins per kilogram wol wat verkoop is. Dus is die boer wat van hierdie produk gebruik gemaak het, dan beter af as ’n boer wat sy wol net by die veiling verkoop het.”

Enige iemand wat ’n onderliggende belang het in die kontantmark, hetsy jou produsent, jou handelaar, of jou verbruiker, kwalifiseer om van dié produk gebruik te maak. – Elmarie Helberg, Grootplaas