Johne se siekte by skape is ’n toenemende probleem in die Suid-Afrikaanse veebedryf, veral in die Wes-Kaap waar dit redelik wydverspreid voorkom. Volgens die hoofbestuurder van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), Leon de Beer, wat onlangs op RSG Landbou gesels het, is die bedryf egter onseker van hoe wyd die siekte verder in die land versprei het.

Die NWKV het hande gevat met die dieregesondheidsforum om strategieë te ontwikkel om die siekte te bestry en produsente te beskerm. Volgens De Beer is dit belangrik om juis daardie produsente se plase te beskerm waar die siekte nié voorkom nie.

Verhandelingsverklaring in plek gestel

“Ons as ’n lewendehawe-industrie het ’n plan gemaak en ’n verhandelingsverklaring in plek gestel, wat op veilings gebruik kan word sodat kopers van lewendehawe deur middel van hierdie verklaring kan bepaal hoe groot hul risiko is,” sê hy. Om seker te maak dat ’n persoon dan vee aankoop wat vry is van die siekte sal so ’n verklaring dit uit die aard van die saak verklaar.

Een van die grootste struikelblokke op hierdie stadium is dat daar nie regtig ’n diagnostiese toets is wat met sekerheid kan bepaal of ’n kudde besmet is nie. Soms sal ’n toets positief wys, maar dan is dit ’n vals positief. “Verder was telers nie baie geneë om aan so ’n toets onderworpe te wees nie, want die oomblik wat jy positief toets, en soms onakuraat, word sodanige plaas onder kwarantyn geplaas,” meen De Beer.

Die gebruik van ’n verhandelingsverklaring is in plek, maar die bedryf is bekommerd dat dit nie regtig in die praktyk benut word nie. NWKV is ook besig om met die afslaersvereniging te onderhandel om te kyk of hulle dit op ’n groter skaal kan toepas.

Nuwe internasionale toets ontleed

Intussen het die wolbedryf saam met die rooivleisbedryf ’n navorsingsprogram befonds by die Onderstepoort Veeartsenykunde Instituut, waar hulle nou ’n nuwe internasionale diagnostiese toets ontleed en geëvalueer het om die geldigheid daarvan ook in Suid-Afrika te kan bevestig. Dit is blykbaar onlangs gefinaliseer en so ’n toets is nou beskikbaar.

NWKV wil saam met die dieregesondheidsforum ’n nasionale opname doen om te bepaal of die siekte wel net gelokaliseer is tot sekere gebiede in Suid-Afrika soos die Wes-Kaap, of dat die siekte inderdaad nasionaal wydverspreid is. Die uitslag van hierdie diagnostiese opnames sal uiteindelik vir hulle ’n raamwerk gee om die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye te nader om te kyk of die regulasies wat tans in plek is, afgegradeer kan word.

Indien die siekte wydverspreid is, sal die Departement versoek word om die regulasies so te verander dat dit nie meer ’n verklaarde siekte is nie, maar net ’n aanmeldbare siekte. “Dit sal ons in staat stel om die enstof meer geredelik vir produsente beskikbaar te kan stel,” sê De Beer. Hierdie ondersoek sal grootliks in die kommersiële gebiede deur die wolbedryf en die rooivleisprodusente-organisasie befonds word. – Elmarie Helberg, RSG Landbou