Die wolveilings is op 14 April na ’n twee week blaaskans hervat. Die wolmark het met 3,4% gedaal om teen R155,63/kg te sluit.

Read it in English

Altesaam 12 231 bale is aangebied nadat 1 153 bale voor die aanvang van die veiling onttrek is. Die algehele verkoopspersentasie was 93,15%. Die aanbod het hoofsaaklik uit 20 mikron- en fyner wolle bestaan, met ’n kleiner persentasie lang wol wat aangebied is.

Die mark het Australië nagevolg, wat 1,15% laer teenoor hul vorige veiling op 31 Maart gesluit het. Die mark het ietwat verbeter later die dag, met beter mededinging vir die fyner Merino-wolle wat op die veiling aangebied is, maar het nogtans negatief gesluit. Die steker rand van 2,02% teenoor die Amerikaanse dollar het ook bygedra tot die daling. Dit het aanleiding gegee tot ’n daling van 1,4% in dollar-terme.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18 mikron daal met 1,9% en sluit teen R203,88/kg.
  • 18,5 mikron neem af met 1,8% en sluit teen R194,96/kg.
  • 19 mikron neem af met 1,3% en sluit teen R184,32/kg.
  • 19,5 mikron verswak met 2,6% en sluit teen R170,14/kg.
  • 20 mikron is 5,2% af en sluit teen R152,12/kg.
  • 20,5 mikron is 5,3% swakker en sluit teen R145,79/kg.
  • 21 mikron verlangsaam met 4,1% en sluit teen R144,74/kg.
  • 21,5 mikron het met 5,3% afgeneem en sluit teen R141,58/kg.
  • 22 mikron daal met 5,3% en sluit teen R138,12/kg.
  • 22,5 mikron is 0,5% swakker en sluit teen R131,43/kg.

Die volgende veiling is vir 21 April 2021 geskeduleer waar ongeveer 8 224 bale aangebied sal word. – Persverklaring, Cape Wools SA