Na afloop van ’n weeklange blaaskans is 13 459 wolbale op die veiling van 19 Mei aangebied. ’n Totaal van 550 bale is voor die veiling onttrek. Die wolmark het met 4% gedaal en teen R157,53/kg gesluit, met ’n algehele verkoopspersentasie van 95,65%.

Die rand het 2,88% sterker teen die Amerikaanse dollar verhandel, wat die mark negatief beïnvloed het en 1,2% in Amerikaanse dollarterme gedaal het. Die meerderheid van die wol op die veiling was 20 mikron en fyner met ’n medium lengte.

Hoewel al die mikron-groepe swakker verhandel het, was daar steeds goeie mededinging vir goeie Merino-wol, asook wol wat volhoubaar geproduseer is.

Die Australiese wolmark het effens beter presteer en was met 0,69% (Australiese dollar) op teenoor die vorige veiling wat op 13 Mei plaasgevind het.

Gemiddelde wolpryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18 mikron daal met 2,4% en sluit teen R209,07/kg.
  • 18,5 mikron neem met 3,5% af en sluit teen R197,32/kg.
  • 19 mikron verlaag met 4% en sluit teen R183,83/kg.
  • 19,5 mikron verswak met 5,2% en sluit teen R166,83/kg.
  • 20 mikron is met 3,6% af en sluit teen R153,42/kg.
  • 20,5 mikron is 4,6% swakker en sluit teen R146,81/kg.
  • 21 mikron verlangsaam met 4,7% en sluit teen R143,76/kg.
  • 21,5 mikron het met 2,1% afgeneem en sluit teen R140,70/kg.
  • 22 mikron daal met 3,5% en sluit teen R136,18/kg.
  • 22,5 mikron is 3,4% swakker en sluit teen R128,05/kg.

Die volgende veiling is vir 2 Junie 2021 geskeduleer, waar sowat 10 093 bale aangebied sal word. Vind die vorige wolmarkverslag hier.  – Persverklaring, Cape Wools SA

Lees wat met die vorige veilings gebeur het.