Die wolmark het hierdie week met 6% gedaal om teen R162,23/kg te sluit. ’n Totaal van 9 886 bale is aangebied nadat 993 bale voor die veiling onttrek is. Altesaam is 91,3% van die aanbod verkoop.

Die aanbod het hoofsaaklik uit 20 mikron en fyner wol van ’n medium lengte bestaan, met ’n klein aanbod van volhoubaar geproduseerde wol.

Die plaaslike mark het die Australiese mark nagevolg en te midde van die markonsekerheid asook die addisionele druk, gedaal. Dit is weens die versterkende rand teenoor die Amerikaanse dollar. Die Australiese mark het met 2,3% (Australiese dollar) gedaal, teenoor die vorige veiling wat op 11 Maart plaasgevind het.

Die rand het met 2,4% teenoor die Amerikaanse dollar versterk, terwyl die wolmark met 3,76% in Amerikaanse dollarterme gedaal het.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18 mikron daal met 5,7% en sluit teen R210,25/kg.
  • 18,5 mikron neem af met 5,7% en sluit teen R200,76/kg.
  • 19 mikron verlaag met 5,8% en sluit teen R188,58/kg.
  • 19,5 mikron verswak met 6,7% en sluit teen R176,35/kg.
  • 20 mikron is met 6,6% af en sluit teen R163,76/kg.
  • 20,5 mikron is 5,9% swakker en sluit teen R155,81/kg.
  • 21 mikron verlangsaam met 6,3% en sluit teen R149,17/kg.
  • 21,5 mikron het met 6,6% afgeneem en sluit teen R149,10/kg.
  • 22 mikron daal met 2,7% en sluit teen R142,27/kg.
  • 22,5 mikron is 8% swakker en sluit teen R136,25/kg.

Die volgende veiling is vir 24 Maart 2021 geskeduleer, waar sowat 6 398 bale aangebied sal word. – Persverklaring, Cape Wools SA