Die wolmark het vandeesweek weereens uitstekend presteer en tydens die derde veiling van die nuwe wolleweringseisoen het die Cape Wools Merino-aanwyser met ’n indrukwekkende 6,6% en 1 573 punte gestyg, om op ’n waarde van R253,82/kg vir skoonwol te sluit. Die Australiese EMI het dié week met 1,6% gestyg. Die Cape Wools alle wol-aanwyser het met 6,6% gestyg.

Read it in English. 

Die goeie opbrengs op die wolmark is hoofsaaklik die gevolg van ’n verswakkende rand, wat deur die volgehoue goeie vraag na lang en fyn Suid-Afrikaanse Merinowol ondersteun is. Pryse het oor al die mikron kategorieë, van fyn tot sterk, gestyg. Kopers het weereens rekordvlakpryse betaal vir die derde opeenvolgende veiling.

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikron kategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18,0 mikron het met 7,3% gestyg en op R292,63/kg gesluit.
  • 18,5 mikron het met 6,1% toegeneem en op R276,69/kg gesluit.
  • 19 mikron het met 8,4% verhoog en op R272,46/kg gesluit.
  • 19,5 mikron het met met 7,2% versterk en op R262,41/kg gesluit.
  • 20 mikron is 5,1% hoër en het op R255,51/kg gesluit.
  • 20,5 mikron is 4,8% sterker en het op R250,22/kg gesluit.
  • 21,0 mikron het met 5,0% gestyg en op R248,99/kg gesluit.
  • 21,5 mikron het met 3,8% toegeneem en op R243,72/kg gesluit.
  • 22 mikron het met 5,1% gestyg en op R247,10/kg gesluit.
  • 22,5 mikron is 7,4% beter en het op R251,46/kg gesluit.

Die volgende veiling is vir 19 September 2018 geskeduleer. – Markverslag