Wolmark krimp met 1,6%

258

Die wolveiling van die afgelope week het met ’n aanbod van 5 637 bale die tweede deel van katalogus 27 uitgemaak. Die mark het met 1,6% (231 punte) verswak en teen ’n waarde van R142,72/kg vir skoonwol gesluit. Die Australiese EMI het met 1,3% toegeneem.

Read it in English.

Die rand was 3,7% sterker teen die Amerikaanse dollar en 3,4% op teenoor die euro, vergeleke met die vorige veiling. Die mark het met 2,2% verbeter in Amerikaanse dollarterme.

Goeie gehalte Merino-wolle in aanvraag

Die aanbod van 7 320 bale het redelik verminder weens onttrekkings uit die veiling en ’n algehele verkoopspersentasie van 85,5% is bereik. Die beter gehalte Merino-wolle was in aanvraag, met ’n algehele verkoopspersentasie van oor die 90%.

Die grootste gedeelte van die aanbod was mediumlengte wolle, met weinig kortwol op die veiling aangebied.

Ondanks druk op die mark weens die sterker rand, het marksentiment verbeter na die beter uitslae in Australië hierdie week, wat weerspieël word in die opwaartse beweging in Amerikaanse dollarterme.

Standard Wool SA, Lempriere SA, Stucken & Co en Modiano SA was die grootste kopers op die veiling.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18 mikron daal met 3,2% en sluit teen R163,50/kg.
  • 18,5 mikron neem toe met 0,8% en sluit teen R163,39/kg.
  • 19 mikron verlaag met 1,1% en sluit teen R154,53/kg.
  • 19,5 mikron verswak met 4,2% en sluit teen R149,23/kg.
  • 20 mikron is 4,3% af en sluit op R140,71/kg.
  • 20,5 mikron is 2,4% swakker en sluit op R142,66/kg.
  • 21 mikron verlangsaam met 3,8% en sluit op R136,43/kg.
  • 21,5 mikron het 5% afgeneem en sluit op R142,13/kg.
  • 22 mikron styg 2,2% en sluit op R136,26/kg.
  • 22,5 mikron is 5,4% swakker en sluit op R133,93/kg. – Cape Wools SA