’n Groter volume wol (13 299 bale) is tydens hierdie week se veiling aangebied. Die mark het met 1% toegeneem om teen R169,11/kg te sluit.

Read it in English

’n Uitstekende verkoopspersentasie van 97,6% is behaal met sowat 70% van die aanbod wat 20 mikron en fyner was, terwyl volhoubaar geproduseerde wol 22,8% van die Merino-aanbod behels het.

Die goeie gehalte van die aanbod het goeie mededinging gelok, veral vir die lang, fyn en volhoubaar geproduseerde wol, wat beter as die markgemiddeld presteer het.

Die rand was wisselvallig deur die verloop van die veiling en het 3,05% swakker teen die Amerikaanse dollar gesluit, wat daartoe aanleiding gegee het dat die mark met 2,1% in Amerikaanse dollarterme gedaal het.

Die Australiese mark het 0,2% (Australiese dollar) sterker teenoor die veiling van 25 Februarie gesluit.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18 mikron styg met 1,9% en sluit teen R217,05/kg.
  • 18,5 mikron neem met 1,7% toe en sluit teen R206,83/kg.
  • 19 mikron verhoog met 1,6% en sluit teen R195,88/kg.
  • 19,5 mikron versterk met 0,8% en sluit teen R184,33/kg.
  • 20 mikron is met 0,7% op en sluit teen R170,78/kg.
  • 20,5 mikron is 3,5% sterker en sluit teen R161,39/kg.
  • 21 mikron styg met 0,2% en sluit teen R155,99/kg.
  • 21,5 mikron het met 1,3% toegeneem en sluit teen R154,77/kg.
  • 22 mikron styg met 1,6% en sluit teen R142,99/kg.
  • 22,5 mikron is 0,8% beter en sluit teen R144,65/kg.

Die volgende veiling is vir 10 Maart 2021 geskeduleer, waar 8 223 bale aangebied sal word. – Persverklaring, Cape Wools